Dit was moord PDF Print E-mail
News - Briewe
Friday, 26 January 2018 14:12
Untitled Document

Sophie Breytenbach van Mooiplaats skryf:
‘Asbakbom stuur omstrede generaal die ewigheid in’ in Die Bronberger se November-uitgawe: Die Schoemans waarvan in hierdie artikel gepraat word, is my mense.

Generaal Stephanus Schoeman was my groot-groot-oupa. Sy seun, Hendrik Johannes Schoeman, was dus my groot-oupa.

Die tweede Sophia met wie hy getroud was, is my groot-ouma en haar dogter, ook Sophia (my ouma), was die eerste een wat die name Stefina Hendrika bygekry het ter ere van die twee generaals. Sy was Sophia Stefina Hendrika. Vandaar af het ’n dogter in elke gesin hierdie name gedra. Ek ook.

Ons het grootgeword met die kennis dat groot-oupa vermoor is deurdat iemand dinamiet in die bomdop geplaas het wat hy toe al vir jare as asbak gebruik het. Daar was nooit twyfel daaroor nie. Ons het ook geweet hy was verwyt en as verraaier gesien omdat hy nie die oorlog wou uitrek nie.

’n Brokkie wat dalk net in ons familie bekend is, is dat daar ook ’n Engelse offisier vir een van Hendrik se dogters die aand van die ontploffing gekuier het.

Daar was reeds baie vroeg ’n hegte verhouding tussen die Schoemans en die Therons wat blykbaar al in Europa beslag gekry het. Bogenoemde ouma van my, is dan ook met ’n Thomas Arnoldus Theron getroud. Thomas se broer se seun – my ma se neef – was die bekende spioen Danie Theron wat later deur die Engelse naby Potchefstroom gevang en geskiet is.

Hierdie Danie het saam met die Schoemans wat Transvaal toe getrek het, gekom. Dis hoe hy by die oorlog in Transvaal betrokke geraak het.

 

© 2018 Die/The Bronberger