Kuier Afrikaans, eet Engels by die nuwe Springbok Bar Print E-mail
News - Vreethans
Wednesday, 18 March 2009 10:09
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Tussen die eindfluitjie van die laaste wedstryd in Australië en die beginfluitjie van die wedstryd op Nuweland is meer as vier ure. Genoeg tyd om iewers ’n iets vir die innerlike op ’n Saterdag te loop soek én ’n billike kuier in te pas.

Ons sit af met Hans Strijdomrylaan na die nuwe Springbok Bar net voor die Witbanksnelweg se afrit. Die perseel is nie nuut nie, dit was eers die Foundry Fly Lounge, maar die mense in beheer is nuut en die naam is nuut. Dit behoort nou aan Kurt Darren van liedjiesfaam en Pedri Wannenberg van rugbyfaam.

Die rooi sambrele in die buitekantkuierplek is nuut, met komplimente van die gewilde bier van daai brouery wat donkiejare al sy vingers in die land se sportpastei het. En die spyskaart is nuut. Groot op die spyskaart word die Springbok Bar as ’n “entertainment venue” voorgestel.

Jy kan binne in die baie groot kroegvertrek sit, of buite op die onderdakstoep, of nog verder buite in die oopte onder een van die rooi biersambrele. Ons neem eers plaas in die lang kroegvertrek - heel gerieflik op die hoë stoeltjies by een van die hoë tafeltjies.

Maar die eerste drankie het skaars sy staan gestaan of ek skrik my byna buite weste toe Footloose met ’n dawerende gebulder oor die plek se mega-luidsprekers losbars. Dit blyk toe later dat die kêrel-verantwoordelik-vir-klank net sy stelsel getoets het. Seker vir die aand se ‘entertainment’ in die ‘venue’, maar ek vertrou die vrede nie en ons skuif dakstoep toe.

Daar word goed en gemoedelik gekuier op ’n Saterdag by die Springbok Bar. Baie ontspanne en informeel is dit. Almal is in kortbroeke en slenterhempies en die gesprekke om die hoë tafeltjies vloei luid en lekker saam met die tedrinke.

Die plek is kindervriendelik en eenkant doen die kortvolk hulle uiterste om ’n springkasteel se wind uit te spring. Opvallend is dit dat ’n mens oral net Afrikaans hoor. Seker dié dat dit my opval, en half pla, dat die enigste Afrikaans op die spyskaart ‘skilpadjies’ is. Dit is nou as jy nie ‘oxtail’ tel nie.

Die Engelse spyskaart bied ’n groot verskeidenheid en op die oog af lyk die pryse billik. Onder die ‘starters’ is gepas ’n springbokgereg en items met rugbyverwante name, soos kick-off avo ritz en Super 14 chicken liver. Buiten die gewone slaaie lyk die biltong & avo en salmon & capers na iets om te probeer. Die burgers dra name soos Currie Cup, en Tight Five vir dié met kombinasies van goed op en die een wat bloot as ‘plain’ beskryf word, heet ‘Referee’.

Braaigeregte sluit ’n 300 g of 500 g ‘rump’ teen R47 of R65 onderskeidelik in. Die ‘T-bone’ is 500 g of 750 g en kos R58 of R84. Dan kan jy hier ’n ‘mixed grill’, ‘fillet’ of ‘lamb chops’ of ribbes, of ’n ‘Portuguese style’ hoender ook geniet. Jy kan kies uit ’n hele aantal ‘light meals’ wat skilpadjies (jy kan hulle seker ook nie tortoisies noem nie) en ’n ‘Sharky bunny chow’ insluit.

Die meeste geregte in dié afdeling kos iewers in die R30. Metgesel bestel die ‘veggie bake’ teen R32. Die groente is krakerig soos sy daarvan hou en die kaassous vind sy ryk, maar lekker. Die gereg is groot genoeg om ’n redelike honger mens tevrede te hou.

Ek het van daai einste groente saam met my ‘oxtail’ gekry - blomkool, brokkoli, murgpampoen en wortel en dit gangbaar gevind. Die beesstert het ek meer as gangbaar gevind. Dit was trouens deksels smaaklik, sag, dog nie pap nie en gedoen in ’n ryk bruinsous met wortel en aartappel wat net genoeg van die sous gedrink het. Die gereg het ’n iets van die smaak van ’n goeie ‘Irish stew’. Dit kos R82 en is saam met rys ’n groot en goeie bord kos.

Ek het die ‘oxtail’ gekies uit die afdeling wat hulle ‘specialities’ noem. Hieronder tel ’n Loslappie Sirloin (ekskuus, daar is nog ’n ietsie Afrikaans) ‘lamb shank’ en ‘lamb curry’ wat na my mening baie billik geprys is.

Die diens, by name Gideon, was vriendelik en professioneel, al het die drankies effe stadig aangekom.

 

© 2024 Die/The Bronberger