Bronbergers wat vanjaar weer die tradisionele ‘groot eet’ oor Kerstyd saam met familie en goeie vriende wil meemaak, maar nie kans sien vir die groot moeite wat die voorbereiding van die feesmaal verg nie, kan by ‘n aantal kuierplekke in die gebied aanklop vir ‘n moeitelose Kersete. Vreethans van Heerden vertel jou meer:
Aansit in die oopte of onderdak
Die Boskombuis, Donkerhoek/Kleinfontein
By Boskombuis kan Kersdagete vanjaar tussen 11 vm en 3 nm geniet word. Hier kan die familie in die skadu van die ‘bos’ in ‘n gesellige lapa aansit, of onderdak in die groot skuur, sou jy dit verkies of deur die reën daartoe gedwing word.
Die atmosfeer is informeel en ontspanne, soos die mense van dié eiesoortige kuierplek. Voorgeregte is Renee se spesiale tunadis, en geurige hoenderlewertjies. Gebakte hoender, varknekrol en beesboud is die vleisgeregte en daarmee saam word geurige rys, stampmielies, pampoenkoekies, soetwortel-en-ertjies, roomspinasie, groenboontjies, mengelslaai en beetslaai bedien. Nagereg is roomys met sjokoladesous en Jan Ellis-poeding.
Die Kersete kos R190 per kop. Volle dranklisensie. Jy kan bespreek deur Renee by 083-485-2529 te bel of per e-pos by
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
.
Gesellige samesyn in die knussige kuierplek
Coffee Café, Rayton
Jy kan by dié gewilde kuierplek in ‘n knus eetvertrek te midde van kunswerke, of op die informele kuierstoep aansit. Ons ervaring van Coffee Café was heel aangenaam met vriendelike, goeie diens en smaakvol-voorbereide geregte.
Voorgeregte vir die spesiale Kersete is beestong in ‘n mosterdsousie, avokado Ritz en gekrummelde hoenderlewertjies met slaai. Vleisgeregte is ‘gammon’ met gekaramelliseerde pynappel, lamsboud met kruisement en ‘n ‘kalkoenverrassing’. Daarmee saam is rys, gebakte aartappels, boerboontjies met skaapstertjie, blomkool au gratin en kapokaartappelnessies met soetwortel-en-ertjies. Tuisgebakte Kerskoek met ‘n brandewynsousie en vla en koekstruif met roomys is die nagereg.
Volwassenes betaal R220 en kinders onder twaalf, R120. Bring jou eie wyn saam. Besprekings by 084-200-1057 of 074-477-3373.
Die geskiedkundige ou hotel op Cullinan
Premier Hotel, Cullinan
Dié geskiedkundige hotel hang op Kersmiddag uit met ‘n omvangryke ete wat in ‘uitstalstyl’ bedien word. Ouwêreldse weelde verleen ‘n gemaklike en knus atmosfeer aan die plek en ons hoor die nuwe sjef ken sy storie.
Jy word met die einste sjef se ‘spesiale’ drankie en canapés (southappies) verwelkom.
Botterskorsiesop, romerige hoenderlewerpatee en broodjies, blaardeegtert van kersietamatie en bloukaas en soufflé-happies met biltong en nog wat, word as voorgeregte bedien. Drie slaaie, tradisionele aartappelslaai, Griekse- en beet-en-fetakaasslaai op ‘n sosatiestokkie is beskikbaar.
Die vleisgeregte is lamsboud met kruisementsous op rys, gevulde hoenderborsies met aartappelskywe, geroosterde beeshaas bedien met couscous, vars kruie en pepersous en heuning-en-mosterd-‘gammon’ bedien op ryskoek met aartappelsnysels. Daarby saam kom ook groente van die seisoen.
Appelkrummeltert met room, vrugtige malvapoeding en tradisionele melktert is die nageregkeuses. Koffie en tee is ingesluit.
Grootmense betaal R350 en kinders jonger as 12, R120. Volle dranklisensie en uitgebreide wynlys. Bespreek by 012-734-1810 of
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
.
‘n Mooi uitsig saam met Oukersete
Laughing Chefs Boersjiek, Tierpoort
Oukersdag bied dié ma-en-dogterspan ‘n middagete by hulle mooi plek in die oopte van ‘n Tierpoortplot aan. Die kuierplek is vlak neffens Lynnwoodweg-verlenging en jy kan in die binnewerke of op ‘n gesellige kuierstoep aansit. Die uitsig is wyd en mooi en die mense is gemoedelik en vriendelik.
‘n Broodtafel met tuisgebak, plaasbotter, konfyte, biltongpatee en hoenderlewerpatee kan vooraf geniet word. Dan kan jy weglê aan snoek met suurlemoenrys en soetpatats, kalkoenspiraalpastei met bessiesous en rafeltjie-vark (pulled pork) op plat kruiebrood. Slaaie is couscous, botterskorsie-en-beet, mengelslaai, peer-en-bloukaas en mango-en-fetaslaai.
Nageregte: Pepermentrolkoek met sjokolade mousse en Kersfeeskoekstruif met kaneelvla.
Die Oukersdagete kos R195. Vol dranklisensie. Bespreek by Maggie, 082-823-7846, of Esrida, 072-511-4946, of
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
.
Kersete met boerekos by die plek wat wyle Faan Smuts gebou het
Bronberg Restaurant, Zwavelpoort
Hier het wyle Faan Smuts jare gelede ‘n boerekos-tradisie gevestig en dis verblydend om te sien dat dit selfs met vanjaar se Kersete nog voortleef,
Dié ruim kuierplek het aansitplek in die kroegruimte, die stoep, die groot toegeboude lapa en in die goedversorgde tuine. Die atmosfeer herinner aan dié van ‘n ou plaasopstal en die tradisie van gemoedelikheid kan sorg vir ‘n lekker kuier op Kersdag.
Onder die voorgeregte is tradisionele roosterkoek, krakerbeskuitjies, gepekelde groente, koue, gekerfde ‘gammon’, sampioene van soort, verskillende kase, pastaslaai, Caprese slaai en olyf-tapenade.
Kerrieafval vir Kersfees? En hoekom nie? Klink vir my reg. Spitgebraaide lam met kruisementsous en tzatziki, geroosterde suurlemoen-en-kruiehoender, en geroosterde beesrol is die vleiskos. Daarmee saam kry jy jasmynrys, gebakte baba-aartappel met knoffel, paptert, pampoenkoekies en roomspinasie.
Nagereg is roomys met sjokoladesous en Kerspoeding met brandewynsous. Die Kersete kos R250 vir grootmense en R110 vir kinders jonger as 12 jaar. Kroeg met volle lisensie en wye wynlyskeuse. Bespreek by 073-452-6182 of
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
. |