Noem net die naam ‘jakkals’ en skaapboere begin klaar warm onder die kraag word. ‘n Ope jagseisoen is in die 1850’s op dié diere ingestel maar hulle is nog nooit suksesvol uitgeroei nie, ten spyte van pogings met honde, gif, gas en wippe.
Lelike onderonsies tussen boere en bewaringsbewustes duur voort, terwyl die jakkalse bly voortbestaan. Die kenners sê jakkalse, en veral die rooijakkals, oorleef omdat hulle ’n fenomenale vermoë het om te leer. As ‘n jakkals sien hoe sy maat doodgemaak word, is die kanse baie skraal dat hy ooit in dieselfde strik sal trap. Jakkalse het selfs geleer om aas wat gif bevat op te gooi ná hulle dit ingekry het.
‘n Manlike jakkals maak die kleintjies alleen groot as die wyfie doodgaan en altwee ouers leer die kleintjies hoe om gevaarlike situasies en voorwerpe te vermy. Geen aas of wip sal daarom deurlopend effektief wees om jakkalse van kant te maak nie. Geen wonder stories oor ‘Jakkals en Wolf’ word geslagte lank al vertel nie. Die Khoi-Khoi vertel selfs stories waar die slim jakkals die dom leeu uitoorlê.
‘n Jong rooijakkals speel soos ‘n klein hondjie met ‘n graspol by Rietvlei Natuurreservaat
Foto: Wikimedia
Oudste
Wat min mense weet is dat die rooijakkals, Canis mesomelas, ook silwerrugjakkals genoem, een van die oudste spesies van die genus Canis is. Die rooijakkals woon die afgelope twee tot drie miljoen jaar in oostelike en suidelike Afrika en fossiele wat gevind is, is bykans identies aan hulle moderne eweknieë.
Daar is ‘n groot genetiese afstand tussen die rooijakkals en ander lede van die Canis-genus. Studies wys dat die reuse verskil tussen die rooijakkals en ander jakkals-spesies se mitochondriale DNS aandui dat hulle 2,3 tot 4,5 miljoen jaar gelede van die ander spesies begin afwyk het.
‘n Mitochondriale DNS rigtingslyn vir wolf- of hondagtige diere (Canidae) toon aan dat die rooijakkals saam met die witkwasjakkals heel onder aan die ouderdomsketting staan. Volgende in lyn is die Afrika wilde hond, dan ‘n klomp ander jakkalse en wolwe, met die Amerikaans ‘coyote’ tweede van bo af. Heel bo-aan die lys is die grys wolf en dit wat ons as mak honde in ons huishoudings ken.
Vanaf 2005 word twee subspesies van die rooijakkals erken: Die Kaapse jakkals, Canis mesomelas mesomelas, en die Oos-Afrika jakkals, Canis mesomelas schmidti.
Aanpas
Rooijakkalse is relatief ongespesialiseerd, wat beteken dat hulle in ‘n groot verskeidenheid habitatte kan oorleef – woestyne ingesluit, omdat hulle niere aangepas is vir ‘n gebrek aan water. Hulle is hoofsaaklik nagdiere maar kom ook in die dag te voorskyn.
Dié jakkalse is veelsydige vreters, maar maak gewoonlik jag op klein tot mediumgrootte soogdiere, soos springhase, rotte en klein boksoorte, asook voëls en reptiele. Hulle sal ook visse, vinvoetige soogdiere, gestrande seesoogdiere, visse, plante, ongewerwelde diere, aas en vullis vreet.
Rooijakkalse is sosiale vreters en groepe van agt tot 10 kan saam aan ’n karkas vreet, alhoewel hulle gewoonlik in pare, wat hulle lewe lank duur, voorkom. Hulle is gebiedsterritoriaal en elke paar domineer ’n permanente gebied.
‘n Rooijakkals-wyfie met twee kleintjies
Foto: Wikimedia
Saal
Dié rooibruin jakkals het ‘n kenmerkende swart saal wat met wit hare gespikkel is. Die saal begin breed by die nek en skouers en word nouer tot by die basis van die borselrige dik swart stert.
Rooijakkalse is opmerklik slanker as ander jakkalsspesies en het groot, regop, gepunte ore.
Hulle skouerhoogte is 36–48 cm; hulle is 45–90 cm lank en weeg 7–14 kg.
Wyfies is effens kleiner as mannetjies en het ’n twee maande draagtyd. Een tot ses kleintjies, wat elk 200–250 gram weeg, word gebore. Hulle verlaat hulle ouers gewoonlik op agt maande, maar baie jong jakkalse keer terug om die ouers te help om die volgende werpsel groot te maak.
Rooijakkalse word gemiddeld sewe jaar oud, maar kan twee keer so lank in gevangenskap lewe. |