Monster-kuiken put pleegouers uit Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 07 December 2017 08:12
Untitled Document

Jy kan dit nie mis nie. Hierdie tyd van die jaar skop ‘n hele aantal koekoek-kuikens ‘n reuse kabaal op. Met ‘n geflap van vlerke bedel hulle luidkeels vir nog kos terwyl verbouereerde pleegouers heen en weer vlieg met die soort kos wat die monster-kuiken nooit kan versadig nie.

Die meitjie is so ‘n monster-kuiken. Meitjies vreet gewoonlik insekte, en spesialiseer in skoenlappers en ruspes, maar die arme pleegouers is baie keer suikerbekkies wat oorwerk word deur konstant nektar na die bodemlose aptyt van hulle monster te bring.


Die meitjie-mannetjie
Foto: Wikipedia

Die meitjie is ‘n algemene somerbesoeker wat hier broei – of ‘n mens moet eerder sê hier eiers lê sodat ander voëls dit kan uitbroei. Die meitjie is ‘n broeiparasiet en gebruik suikerbekkies, bosbontrokkies, sangvoëls soos kleinjantjies, vlieëvangers en stompsterte as broeigashere.

Alhoewel die meitjie nie net een spesifieke voëlsoort uitkies as gasheer vir haar kleintjies nie, is daar gevind dat ‘n meitjie wat byvoorbeeld deur ‘n suikerbekkie grootgemaak is, altyd ‘n suikerbekkie-nessie sal soek om haar eie eiers in te lê.


Die meitjie-wyfie
Foto: Wikipedia

Eiers
Die gashere is glo glad nie agterdogtig oor die eiers nie, omdat dit vir hulle net soos hulle eie eiers lyk. Niemand weet hoe koekoeke dit regkry om eiers te lê wat dieselfde kleur is as die van die uitverkose gasheer nie.

Koekoeke lê hulle eiers baie vinniger as ander voëls en die wyfie verwyder altyd een van die gasheer-eiers, sodat hulle nie moet agterkom dat daar ‘n ekstra eier in die nessie is nie.

Die meitjie lê een eier per nes en lê rofweg 24 eiers in een broeiseisoen. Die kuikens broei na 11 tot 12 dae uit.

Die meitjie-kuiken sal voor die ander eiers in die nes uitbroei en sal die ander eiers of kuikens uit die nes uit skrap met sy snawel. Die kuiken bly vir 19 tot 21 dae in die nes en bly tot 25 dae lank by die oorwerkte pleegouers. Die kabaal begin die oomblik as die kuiken begin vlieg. Dit is dan wanneer hy in tuine gehoor word as hy luidkeels remonstreer terwyl uitgeputte voëltjies van minder as die helfte van sy grootte hom probeer voer.


Dit lyk soos ‘n Marico suikerbekkie-mannetjie wat die monster-meitjie-kuiken voer
Foto: Jacek Nalepa

Naam
Die Afrikaanse naam ‘meitjie’ kom van die voël se roep, wat soos meitjie-meitjie-meitjie klink. In die meeste ander tale word die voël een of ander Klaas genoem, wat kom van die meitjie se Latynse naam, Chrysococcyx klaas. In Engels is die naam ‘Klaas’ cuckoo’, in Hollands is dit ‘Klaaskoekoek’, in Frans ‘Coucou de Klaas’ en in Duits ‘Klaaskuckuck’.

Die voël is 16–18 cm lank en weeg 24–34 gram. Die mannetjie het helder, amper metaalagtige groen vere aan die bokant, is wit aan die onderkant en het ‘n wit strook agter die oog.

Die wyfie is bruin aan die bokant met ligte bruin strepe op wit aan die onderkant. Sy het gestreepte groen vlerke en ‘n wit stuk agter die oog. Mannetjies en wyfies se buitenste stertvere is wit.

Die kleintjies lyk soos die wyfie en het ‘n swart snawel.


Die suikerbekkie-wyfie se kop verdwyn amper in die meitjie-kuiken se bek
Foto: Matthias Mugisha

 

© 2024 Die/The Bronberger