Ontmoet kleurvolle karakters uit ou Pretoria PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Thursday, 07 December 2017 06:07
Untitled Document

Onthou jy die gruverhale oor die spookhuis? Wonder jy nie oor die Erasmusse wat daar gebly het nie? Of wat van die magnate en mynbase wat deur die brandewynplaas oos van Pretoria gelok is?

‘Toeka se Dae – Die Karakters’ is die ideale Kersgeskenk vir diegene wat meer wil lees oor waaghalse, grootpraters, mynmagnate en wil luister na spookstories, gruverhale en skinderstories oor ou Pretoria se eerste inwoners.

Dié koffietafelboek is gebore uit die toeka-artikelreeks in Die Bronberger met die klem op kleurvolle karakters van meer as ‘n honderd jaar gelede. Ons fokus glad nie net op bekende feite oor beroemde figure nie en dié boek is nie net op liefhebbers van die geskiedenis gemik nie.

Ons vertel jou die minder bekende feite oor bekende mense en stel jou voor aan mense wat nooit in die geskiedenisboeke opgeteken is nie. Dit is lekkerlees-stories vir almal met verhale soos die Boere ‘James Bond’ wat die Russe gevra het om die Britte te verdryf; vreeslose Drienie; die Cowboy-kolonel wat die Iere teen die Engelse gelei het; siener, skrywer en baas-spioen, Johanna Brandt; en die sjarmante spioen wat Kitchener gesink het.

Die boek bevat verhale oor die karakters wat in ou Pretoria se eerste kroeg-kuierplek te siene was, oor Ou Moes, die legendariese boemelaar; die diep spore wat Lang Piet in dié dorp getrap het; geheime oor Vincent Van Gogh se broer wat ook selfmoord gepleeg het; die Pretoriase graf van Rider Haggard se liefdeskind; die staaltjies oor ongekunstelde Ouma Isie; die lief en leed van oom Paul se kleindogters; die beeldhouer wie se verlore dekade aspris duister gehou is; en die feit dat Oerder eers moes spoorwegpaaltjies verf.

Die boek is in die gees en styl van toeka se dae uitgelê. Gewis iets wat jy met trots op jou koffietafel kan uitstal.

‘Toeka se Dae – Die Karakters’ kos R295, koerier- en poskostes uitgesluit. Skakel die Bronnie se kantoor by 012-734-0522. Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online