Wilde Moreleta vermom pad PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Thursday, 07 December 2017 06:06
Untitled Document

Iets skort met die foto by ‘Die dag toe die Moreleta wild was’ in die Bronnie se Oktober-uitgawe. So sê Len Kraamwinkel, wat in Die Wilgers grootgeword het toe dit nog plaaswêreld was.

Volgens ‘Water Tshwane’ wys die foto hoe die Moreletaspruit bykans 40 jaar gelede die Ou Militêre-pad oorstroom het. Dié pad het later Louis Botha-rylaan geword en is vandag January Masilela-rylaan.
Regs van die pad kan die Bronberg gesien word op die plek waar die ingang na die Faerie Glen Natuurreservaat is. Dit word beraam dat die foto in 1978 geneem is.


Die foto van die Moreletaspruit wat oorstroom, wat in ons Oktober-uitgawe geplaas is
Foto: www.up.ac.za/watertshwane

Len, wie se ouers in 1937 op Die Wilgers ingetrek het, sê dat hy sedert graad twee in die vroeë 1940’s daagliks met ‘n skoolbus op die Ou Militêre-pad heen en weer skool toe is. Die pad was toe reeds ‘n teerpad.

Die oorstroming-foto wys egter ‘n grondpad en die voertuie lyk baie nuwer as dié wat in die 1940’s op die pad sou gewees het.

Len vertel dat ‘n gedeelte van die ou Militêre-pad deur sy pa se grond gesny het en dat Jan Smuts die pad in die Tweede Wêreld-oorlog reeds laat teer het om Voortrekkerhoogte met Cullinan te verbind.

Cullinan het ’n kardinale rol in die opleiding van troepe vir die Tweede Wêreld-oorlog gespeel. Die myn het in 1932 gesluit weens ’n daling in diamanthandel en die dorpie het gou in ‘n spookdorp ontaard.


Die pad vandag

In 1939 het dit geblyk dat Suid-Afrika aan die Tweede Wêreld-oorlog gaan deelneem. Die opleidingsentrum by Voortrekkerhoogte, waar die aktiewe Burgermageenhede van Transvaal hulle opleiding gedoen het, was net te klein om almal te huisves.

Daar was ook nie genoeg opleidingsgebiede waar taktiese oefening uitgevoer kon word nie. Daarom het die weermag sy oë op die dorpie Cullinan, wat so te sê verlate gestaan het, gerig.

Bykans al die pantser- en infanterie-eenhede van die Unie van Suid- Afrika het in een of ander stadium van die oorlog opleiding in die Cullinan-gebied ontvang. Premiermyn het dwarsdeur die oorlog die middelpunt van militêre opleiding gebly. Met ’n immerwisselende militêre bevolking van gemiddeld 17 000 was dit vyf tot ses maal so groot as enige ander opleidingsentrum.


Soldate klim op Cullinan-stasie af vir hulle opleiding in die Tweede Wêreld-oorlog

Teen die begin van 1941 is die krygsgevangenekamp by Zonderwater vir die aanhouding van Italiaanse- krygsgevangenes uit Abessinië en die Midde-Ooste opgerig. Die kamp is vir 100 000 krygsgevangenes beplan en in 1941 in gebruik geneem toe die eerste groep uit Oos-Afrika hier aangekom het.

Met die reuse verkeer tussen Voortrekkerhoogte en Cullinan, was dit vroeg in die oorlog reeds nodig om die Ou Militêre-pad te teer. Die tergende raaisel is hoekom ‘n foto uit die laat 1970’s ‘n grondpad sal wys waar die Faerie Glen Natuurreservaat se ingang vandag is.

Die antwoord is waarskynlik dat groot hoeveelhede modder met die oorstroming saamgegaan het en die teerpad bedek het.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online