Untitled Document
Of jy nou lus is vir ’n bos-melkskommel,
tuisgemaakte bier
of ’n wondermiddel soek wat
jou hare altyd jeugdig sal laat lyk,
kan jy jou wend tot die kruisbessie.
En as dié voordele vir jou so goed
klink dat jy een in jou tuin wil plant,
sal dit goed wees om ’n mak aap of
bobbejaan byderhand te hou.
Kruisbessiesade wat deur die binnegoed
van ape en bobbejane gegaan
het, ontkiem baie vinniger. Dit is
blykbaar omdat die sade se chemiese
stuitstof dan reeds afgebreek
is deur die dier se maagsappe.
Dié deurmekaar struik of klein
boompie kan tot tien meter hoog
word met ’n kroon van vyf meter
wyd en sy vrugte is iets waarby
insek, dier of mens nie sommer in
die veld verby loop nie.
 Stervormige pienk blomme
Tradisioneel word die kruisbessie se
bas in warm water geweek om
wonde te behandel. Fyngekapte bas
word gebruik as ’n sjampoe wat volgens
oorlewering verseker dat jou
hare nie sal grys word nie. Dele van
die plant word ook gebruik om
impotensie en steriliteit te behandel
en afkooksels van die wortel help
blykbaar om geboorte
makliker te
maak.
Die kruisbessie se
vrugte word versamel
en gedroog vir
latere gebruik. Die
gedroogde vrugte
word in melk gekook
vir ’n bos-melkskommel.
Bier word ook
gebrou van die ryp
vrugte.
Sy hout is hard
genoeg om prakties
in te span.
Wandelstawwe en
selfs assegaaihandvatsels
word daarvan
gemaak.
Die blare word gevreet deur beeste,
bokke en wildspesies soos die swart
renoster, kameelperd, njala en grys
duiker. Voëls soos loeries, muisvoëls
en tiptolle kan dié boom se vrugte
nie weerstaan nie en verskillende
spesies skoenlappers se larwes
vreet spesifiek kruisbessieblare.
 Die kruisbessie kan tot 10 meter
hoog word
Die kruisbessie, Grewia occidentalis,
met sy pienkerige stervormige
blomme, is ’n aanwins vir enige tuin.
Hy blom van Oktober tot Januarie
en die blomme word gevolg deur
vier-lobbige vrugte wat hom die
naam kruisbessie gegee het. Die
vrugte word ’n blink rooibruin tot
ligpers kleur as hul ryp word, van
Januarie tot Mei.
Sy Latynse genus naam kry die
boom van Nehemiah Grew, ’n
Engelse dokter. Die woord
‘Occidentalis’ beteken ‘van die
weste’.
Dié dekoratiewe boompie is ryp- en
droogtebestand. Sy wortelstelsel is
nie aggressief nie en hy kan naby
plaveisel of geboue geplant word.
Hy sal vinnig groei as hy genoeg
water kry en in grond met genoeg
kompos geplant word. Vir die eerste
drie tot vyf jaar groei hy een en ’n
halwe meter per jaar, maar stadiger
daarna. Jy kan hom in vol son of
skaduwee plant.
Gebruik vars saad, met of sonder ’n
aap of bobbejaan se hulp, en saai dit
in ’n 5:1 mengsel van riviersand en
kompos. Moenie die saad te diep in
die grond druk nie.
|