Gesin van Boekenhoutskloof aangeval PDF Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 07 December 2017 05:56
Untitled Document

Plaasaanvallers het op 22 November op die Jordaan-gesin van Boekenhoutskloof buite Cullinan losgebrand. Twee aanvallers het omstreeks 1 vm die huis binnegekom.

Reline Badenhorst, vriende van Johan ‘Jorrie’ en Leanda Jordaan vertel dat die aanvallers ‘n moersleutel en boutsnyer gebruik het om die diefwering by een van die vensters te verwyder. Een het glo deurgeklim en die voordeur vir die ander een gaan oopsluit.

Die Jordaans se Jack Russel het begin blaf en Johan het met sy vuurwapen gaan ondersoek instel.

Een van die aanvallers was gewapen en het in die gang ‘n flits op Johan en Leanda geskyn en op hulle losgebrand. Leanda is in haar voet gewond. Johan het teruggeskiet en die aanvallers het gevlug.


Van die toerusting wat in die veld opgetel is
Foto: Verskaf

Die egpaar se laerskoolkinders was ook in die huis.

‘n Skootrekenaar, DVD-speler en Playstation is onder meer gesteel. Van die gesteelde goedere, die boutsnyer en die aanvallers se wapen is in die veld gevind. Hulle spore is vir omtrent 3 km gevolg tot dit by ‘n teerpad doodgeloop het.

Reline sê daar word vermoed dat dieselfde twee aanvallers by ander voorvalle in die omgewing betrokke was. In sommige gevalle was grensdrade reeds tussen eiendomme geknip om ‘n wegkomroete te bied.

‘n Saak van gewapende roof word ondersoek.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online