Asbakbom stuur omstrede generaal die ewigheid in Print E-mail
News - Toeka se dae
Tuesday, 21 November 2017 22:03
Untitled Document

Angie Kleijn

Een van die vreemdste maniere om heen te gaan is seker die dood wat generaal Hendrik Schoeman in die Engelse Oorlog getref het. Letterlik getref het. Hy is op 26 Mei 1901 dood met die ontploffing van ‘n liddietbom; nie op die slagveld nie, maar binne-in sy huis in Strubenstraat, Pretoria.

Dit nadat hy die kanondop langer as ‘n jaar al as asbak gebruik het. Hendrik het die bom met ‘n bars daarin op die slagveld by Colesberg opgetel en oral met hom saamgeneem. In Pretoria het dit langs sy gemakstoel gestaan en het ontplof toe hy sy pyp aangesteek het en die brandende vuurhoutjie by die skeur in die bom-wand ingegooi het.

Die ontploffing het gekom knap ná hy die doodsvonnis vrygespring het. Hendrik is in die oorlog gearresteer omdat hy nie meer wou veg nie en op die stoep van sy plaashuis op Schoemansrust gesit en kyk het hoe die Slag van Silkaatsnek afloop. Dié slag was op 11 Julie 1900 naby die hedendaagse Hartbeespoortdam.


Die bewoording by die gedenkteken op Kruiskoppie lees: “Wreed is die lot van die siener en die vredemaker. Sy eensame weg voer steeds deur Getsémané na Golgota. Dink aan Hess, aan Petain, aan die Gekruisigde. Maar tragieser is die lot van die wat sy raad met veragting verwerp.
Opgerig 1955.”

Diegene wat Hendrik ‘n hensopper genoem het, meen dat die ontploffing langs sy gemakstoel die “Vinger van God” was. Dié wat hom ‘n vredemaker genoem het, vermoed weer dat vuilspel by die ontploffing betrokke was.

Vandag nog stry mense oor dié generaal. Was hy ‘n lafaard of ‘n versoener? ‘n Verraaier of ‘n versienende? In 1955 is ‘n kruismonument naby Hartbeespoortdam ter herdenking aan Hendrik Schoeman opgerig. Die skrif op die granietplaat lees:

“Hierdie simbool van tragedie en triomf, van oorwinning in neerlaag is opgerig vir Generaal Hendrik Schoeman deur ‘n groep bewonderaars. Wreed is die lot van die siener en die vredemaker. Sy eensame weg voer steeds deur Getsémané na Golgota. Dink aan Hess, aan Petain, aan die Gekruisigde. Maar tragieser is die lot van die wat sy raad met veragting verwerp.”


In 1955 is ‘n kruismonument naby Hartbeespoortdam ter herdenking aan Hendrik Schoeman opgerig

Gebore
Hendrik Jacobus (Hekkie) Schoeman is op 11 Julie 1840 in Pietermaritzburg gebore. Hy was die seun van een van die kleiner trekleiers in die Groot Trek, kommandant-generaal Stephanus Schoeman, en sy vrou Geertruida Johanna (Gertina), ‘n nooi Schutte. 

Hendrik se pa, Stephanus Schoeman, het later die tweede president van die Zuid-Afrikaanse Republiek (ZAR) geword. Hy was president van 6 Desember 1860 tot 17 April 1862. Sy rooi hare en vurige humeur het hom gereeld in geskille met ander Boereleiers laat beland en hy is die Stormvoël van die Noorde genoem.


Hendrik se pa, kommandant-generaal Stephanus Schoeman, was ZAR staatspresident van
6 Desember 1860 tot 17 April 1862
Foto: Geni

As trekleier het Stephanus sy eie vlag gehad, die vlag van St Andries, wat hy later in opposisie teen die ZAR se Vierkleur laat wapper het. Andriesstraat in Pretoria is na dié vlag vernoem en Schoemanstraat na Stephanus.

Met die Slag van Bloedrivier het hy hom by Andries Pretorius se groep geskaar en een van die drie kanonne wat daar gebruik is, ‘Ou Grietjie’, wat vandag by die Voortrekker-monument staan, het aan Stephanus behoort.


Generaal Hendrik Johannes Schoeman was bekend as vredemaker eerder as veggeneraal
Foto: oocities.org

Sy seun Hendrik was ‘n fyn besnede, skraal man. Hy is twee keer getroud – altwee kere met ‘n vrou met presies dieselfde voorname en van. Hy is die eerste keer op 1 Augustus 1864 in Pretoria met Sophia Catharina Kok getroud. Sy is op 3 Julie 1873 in die ouderdom van 27 jaar op die plaas Rietfontein in die Pretoria-distrik dood.

Sy tweede vrou, Sophia Catharina Kok, het hom met bykans 40 jaar oorleef en is op 22 November 1940 in die ouderdom van 82 jaar op Hartbeespoort oorlede.

Hendrik het op 37-jarige ouderdom ’n prominente politieke rol op volksvergaderings begin speel. Met die uitbreek van die Eerste Vryheidsoorlog in 1881, het hy as generaal aan ’n klein skermutseling by Pretoria deelgeneem. Tog was Hendrik meer bekend as vredemaker eerder as veggeneraal. Die ZAR-regering het hom dikwels aangewend om vrede tussen strydende swart stamme te bewerk.

In 1885 was hy volksraadslid vir Lichtenburg en lid van die uitvoerende raad, maar hy moes ná slegs vier maande bedank omdat hy glo besonder rojaal met die toekenning van regering-konsessies was.


Johan Schoeman se boek oor sy pa: ‘Generaal Hendrik Schoeman – Was hy ‘n verraaier?’

Oorlog
Toe die Engelse Oorlog in 1899 uitbreek, was Hendrik al 60 jaar oud. Hy is as bevelvoerder van die Pretoriase en Johannesburgse burgers na Colesberg gestuur om die Britse opmars te stuit. Daar het die krygsraad hom op 26 Februarie 1900 deur generaal HR Lemmer laat vervang. Hendrik is gevra om AD Wolmarans in Bloemfontein te gaan help om drosters aan te keer.

Hendrik was teensinnig en het glo begin om generaals Lemmer en De la Rey te ondermyn. Hy is terug na Pretoria waar hy by Paul Kruger, wat hom glo simpatiek-gesind was, oor die saak gaan kla het. Die uiteinde was dat Hendrik op 5 Maart uit die staatsdiens bedank het.


Die hof waar Hendrik Schoeman moes teregstaan
Bron: Generaal Hendrik Schoeman – Was hy ‘n verraaier?’

Drie maande later het die Britte Pretoria ingeneem. Hendrik het sy wapen op 5 Junie voor die Britse generaal French gaan neerlê en het vertrek na sy plaas, Schoemansrust, naby die latere Hartbeespoortdam. Dit is daar waar hy op 11 Julie op sy stoep sit en kyk het hoe die Slag van Silkaatsnek afspeel.

Hendrik is net daar deur kommandant PF Coetsee gearresteer omdat hy geweier het om as gewone burger vir die Boeremagte te veg. Hy is aan staatsprokureur Smuts oorgelewer, wat hom vir ‘n verhoor na Barberton gestuur het vir twee redes: Omdat hy die eed van neutraliteit aan die Britte afgelê het; en omdat hy burgers afgeraai het om te veg.


Die Schoeman-huis op Meerhof in 2003. Die huis is in 2005 gesloop
Foto: harties.net

Die Britte het Barberton ingeneem; die Boeremagte het die aftog geblaas en het Hendrik net daar gelos. Hy is toegelaat om na sy plaas terug te keer, wat nie net tot op die grond afgebrand is nie – die mure van die huis is selfs met dinamiet opgeblaas.

Hendrik het glo daardie Oktober saam met kaptein WP Anderson van die Suid-Afrikaanse Polisie probeer om Boeregeneraals te oorreed om ook die wapen neer te lê en vrede te verklaar.

Hendrik is daarom weer gearresteer en is in Pietersburg in die tronk gegooi. Ná maande is hy op ‘n aanklag van hoogverraad verhoor in ’n saak wat deur kommandant Lodi Krause gelei is. Hendrik is skuldig bevind en ter dood veroordeel.

Voor die vonnis uitgevoer kon word, het die Britte onder leiding van generaal HCO Plumer Pietersburg ingeneem. Hendrik is vrygelaat en kon terugkeer na sy dorpshuis in Pretoria, waar hy die brandende vuurhoutjie in sy liddietbom-asbak gegooi het.


Hendrik Schoeman
Foto: pinterest

Ná oorlog
Ná die ontploffing het Hendrik se weduwee en kinders terug gekeer na die plaas, Schoemansrust, wat deur die Britte afgebrand is. Die gesin moes van voor af alles opbou en daar was ook ‘n swaar skuldlas op die plaas – die gevolg van Hendrik se dambouprojek.

Hy het in 1868 in die omgewing van die Krokodilrivier gaan boer en het knap daarna sy idee van ‘n dam, besproeiingstelsel en dorp aan Paul Kruger voorgelê. Oom Paul het die projek goedgekeur, maar dit is deur twee oorloë, ‘n rebellie en ‘n griep-epidemie onderbreek en is eers ná Paul Kruger en Hendrik se dood deur Hendrik se tweede oudste seun, Johan, in werking gestel.


Die Britse magte voor Silkaatsnek. Die Slag van Silkaatsnek was vyf weke ná die Britte Pretoria ingeneem het
Foto: Kormorant

Met Hendrik se dood moes die plaas op ‘n bankrotskapveiling verkoop word. Johan was toe 17 jaar oud en op skool in Pretoria. Hy het in 1902 ‘n sakeplan uitgewerk en het na die Pretoriase sakeman, TW Beckett, gegaan om £10 000 te leen om die plaas uit sy pa se bankrotboedel te koop.

Johan se plan was om die plaas te verdeel en vir elkeen van die kinders ‘n deel te gee, terwyl hy self op die watergronde sou boer. Die sakeplan het ook behels dat hy alle grond ten weste van die Krokodilrivier sou verkoop om werkkapitaal te bekom.

Hy het fluks geboer en begin om die lening terug te betaal, maar die grond is deur die regering onteien om die Hartbeespoortdam te bou, soos Hendrik meer as 30 jare gelede reeds voorgestel het. Oor dié plan wat sy pa oorspronklik uitgedink het, was Johan eers verbitterd, want hy het al sy vrugbare grond verloor.


Hendrik se tweede vrou, Sophia Catharina, ‘n nooi Kok
Foto: Geni

Dorp
Johan het in 1921 op die oorblywende grond op Meerhof boorde en lande aangelê en vir hom ‘n huis teen die berg gebou. Hy het op 22 April 1922 aansoek gedoen vir dorpstigting rondom die dam, soos sy pa dit wou doen. Johan wou die dorp Hendrik Schoeman noem, maar die landmeter-generaal het geweier en so is Schoemansville gebore.

Die dam is in 1924 voltooi en Johan het ook aangegaan om die dorpe Meerhof en Kosmos uit te lê. Hy het begin om die potensiaal van toerisme te ontgin; iets wat hy kon doen omdat hy met die onteiening van sy grond die regte om bote kommersieel op die water te laat vaar, uitgehou het. Johan het dié alleenreg gebruik om ‘n vloot passasiersbote, wat elk 80 tot 120 gaste kon dra, op die water te sit.


Johan Schoeman, seun van generaal Hendrik Schoeman, en sy kindervriend Monene na wie hy Monenestraat in Schoemansville vernoem het
Foto: Kormorant

Oor naweke het hy treine gehuur om toeriste na die dam te vervoer. Die stasie was toentertyd ‘Schoemansville Halt’ genoem (vandag Meerhofstasie). Met hulle aankoms op die perron het Johan die toeriste vir verversings geneem na sy eie kafee met breë stoepe en lieflike uitsig oor die dam. Hulle kon ook oorslaap by sy hotel, die Agnes Hotel, wat hy na sy vrou vernoem het.

Rondom 1935 is die pad oor Saartjiesnek gebou en mense het met hulle motors en eie bote na die dam begin gaan. Daarná het Johan sy bote verkoop en die kafee is mettertyd ook gesluit.


Sophia Catharina Riekert, ‘n nooi Schoeman, dogter van Hendrik Schoeman en sy tweede vrou
Foto: Geni

In 1950 het Johan ‘n boek, ‘Generaal Hendrik Schoeman – was hy ’n verraaier?’ uitgegee waarin hy sy pa se uitgangspunt verdedig het.

Johan is op 25 Januarie 1967 oorlede. Hy en sy vrou Agnes, ‘n vriendin van die gesin, Annie Lottering, asook kleinkinders en agterkleinkinders van die Schoemans is aan die voet van die Kruiskoppie, waar die gedenkteken vandag staan, begrawe


Johan Schoeman se kafee, waar toeriste by Hartbeespoortdam verversings geniet het. Die gebou is verander, eers as woonhuis en daarna vir die Meerhofskool se werkersbehuising, maar bestaan nog
Foto: Kormorant

 

© 2024 Die/The Bronberger