Bronberg miljoene jaar al deur mense bewoon PDF Print E-mail
News - Artikels
Tuesday, 21 November 2017 20:00
Untitled Document

Die Bronberg word vir miljoene jare reeds bewoon. Klipgereedskap, wat meer as twee miljoen jaar oud is, is in die Bronberg Bewarea gevind. Dié klippe wat tekens van primitiewe afvlakking toon, dateer uit die Oldowan-deel van die Vroeë Steentydperk, sê die bewarea.

Die Steentydperk strek van ongeveer 2,5 miljoen jaar gelede tot ongeveer 3500 vC en bestaan uit die Vroeë Steentydperk (Paleolitikum), Middel Steentydperk (Mesolitikum of Epipaleolitikum) en die Laat Steentydperk (Neolitikum).

Oldowan-gereedskap is in die Vroeë Steentydperk gebruik en die naam kom van die plek waar die eerste klipgereedskap in die 1930’s deur Louis Leakey gevind is – by die Olduvai-kloof in Tanzania.
Die meeste paleoantropoloë stem saam dat die vroeë mens verantwoordelik was vir die Oldowan-gereedskap omdat die meeste van dié gereedskap naby Homo-fossiele ontdek is.

Die Bronberg Bewarea sê dat dié klippe tekens van primitiewe afvlakking uit die Oldowan-deel van die Steentydperk toon
Foto: Bronberg Bewarea

Knap 50 km vanaf die Bronberg-gebied is van die bekendste fossielterreine in die wêreld: Sterkfontein, Krugersdorp, Swartkrans en Kromdraai waar fossiele van prehistoriese menstipes gevind is.

Daar is tot dusver geen sulke menstipes in die Pretoria-omgewing gevind nie, maar daar is duidelike tekens van die mens se bewoning en benutting van die gebied so ver terug as die Vroeë Steentydperk. So sê Anton Carl von Vollenhoven in ‘n tesis wat hy vir sy argeologie-graad aan die Universiteit van Pretoria geskryf het.

Sy tesis is genaamd ’n Voorgestelde paradigma vir navorsing op histories-argeologiese erfenishulpbronterreine in Suid-Afrika aan die hand van gevallestudies in noordelike Gauteng.


Volgens die Bronberg Bewarea dateer latere klip-gereedskap in die bewarea uit die
Middel Steentydperk
Foto: Bronberg Bewarea

Vroeë
Anton sê dat twee Vroeë Steentydperkterreine rondom Pretoria bekend is: Die Vroeë Acheulterrein by die Willem Prinsloo Landboumuseum naby Rayton en ’n Laat Acheulterrein by Wonderboompoort.
Die klipwerktuigkultuur se internasionale benaming is ‘Acheuliese kultuur’ na aanleiding van Saint-Acheul, ’n dorpie in Frankryk waar soortgelyke werktuie eerste gevind is.

Soortgelyke werktuie is wes van Pretoria by die Magaliesrivier, op die suidelike hange van die Magaliesberg en ook noord van die Magaliesberg in Akasia gevind.


Klipgepakte sirkelstrukture op die berg in die Bronberg Bewarea
Foto: Bronberg Bewarea

Die Steentydperk, wat ’n era van meer as ’n miljoen jaar dek, word juis so genoem omdat dit verwys na die eerste keer, ongeveer 2,5 miljoen jaar gelede, dat gereedskap wat uit klip vervaardig is, gebruik is. Vir meer as een miljoen jaar was die styl van die gereedskap baie eenvoudig en is die minimum veranderings en verbeterings daaraan aangebring.

Daar word beraam dat die eerste mensgemaakte struktuur ongeveer twee miljoen jaar gelede in Afrika gebou is. Dit het bestaan uit eenvoudige rangskikkings van stene om takke in sekere posisies te hou. Kringvormige kliprangskikking van sowat 500 000 jaar oud is ook ontdek.


Nog een van vele klipstrukture in die Bronberg Bewarea, wat later jare in die Engelse Oorlog met die oploop na die slag van Witpoort gebruik is
Foto: Bronberg Bewarea

Middel
Volgens Anton se tesis is daar drie terreine uit die Middel Steentydperk, wat sover as 200 000 tot 300 000 jaar gelede terugstrek, rondom Pretoria. Twee daarvan kom in die Bronberg voor en dan is daar ook ’n grot in Erasmusrand, waar Middel Steentydperkwerktuie opgegrawe is.

Dié soort werktuie is op verskeie ander plekke rondom Pretoria opgetel: Die Groenkloof Natuurreservaat; die Akasia-gebied; die Willem Prinsloo Landboumuseum; wes van Wonderboomnek; en die Pioniersmuseum.


’n Satellietbeeld van klipstrukture op die Bronberg se Elliot-rif in Zwavelpoort

Verskeie Middel Steentydperkterreine is wes van Pretoria, in die Magaliesberg gevind: By Krugergrot en Silkaatsnek; by ’n groep rotsskuilings bekend as die Magaliesberg-navorsingsgebied; en by die Tswaing meteoorkrater, sowat 50 km noord van Pretoria.

Die kenners verduidelik dat die Middel Steentydperk saamgeval het met stygende seevlakke en die behoefte om by ’n veranderende omgewing aan te pas en nuwe voedselbronne te vind. Die ontwikkeling van gereedskap van mikroliet het as ’n reaksie op dié omgewingsveranderinge begin. Dié gereedskap was eintlik maar net gewysigde weergawes van vorige klip-gereedskap.


Die Laat Acheulterrein by Wonderboom, waarskynlik die bekendste Vroeë Steentydperkterrein
in Pretoria
Foto: Anton Carl von Vollenhoven

Laat
Uit die Laat Steentydperk, sowat 40 000 jaar gelede, is daar drie terreine rondom Pretoria bekend: Die grot in Erasmusrand, waar ook Laat Steentydperkwerktuie opgegrawe is; ’n terrein wes van Wonderboompoort; en bo-op die Magaliesberg, oos van Hornsnek.

Net soos met die vorige fase van die Steentydperk, is verskeie werktuie uit die latere fase in dié gebied opgetel, sê Anton. Hieronder tel die Groenkloof Natuurreservaat, Donkerhoek, die Akasia-gebied, Pienaarspoort, Tswaing meteoorkrater en die Pioniersmuseum.


Laat Steen- en Ystertydperkartefakte is by dié grot in die Groenkloof Natuurreservaat gevind
Foto: Anton Carl von Vollenhoven

Wes van Pretoria is daar ’n aantal grotte, soos Skurweberg en Uitkomstgrot, waar ook Laat Steentydperkwerktuie gevind is. Die Magaliesberg-navorsingsgebied, wes van Pretoria, bestaan uit rotsskuilings soos Jubileeskuiling, waar Laat Steentydperkwerktuie opgegrawe is.

In dié tydperk was die klipgereedskap meer gevorderd, is erdewerk ontwikkel en groter vestings gebou. Afgewerkte klip en klipprodukte het meer algemeen geword, soos gereedskap om mee te slyp, te sny en te kap.


‘n Laat Ystertydperkterrein op die Magaliesberg
Foto: Anton Carl von Vollenhoven

Kuns
By Fort Troje naby Cullinan is Laat Steentydperkwerktuie in assosiasie met potwerk gevind.
Die Laat Steentydperk word ook met rotskuns geassosieer. Anton skryf dat die Magaliesberg ryk is aan rotskuns en dat ‘n hele aantal rotskunsterreine oos en wes van Pretoria gevind is. Dit is veral rotsgravures, eerder as rotstekeninge, wat in die Magaliesberg voorkom.

Steentydperkterreine, waarvan die spesifieke fase nie deur die skrywers aangedui word nie, is by ’n terrein op Donkerhoek en verskeie plekke op die plaas Zwartkoppies gevind.


‘n Laat Ystertydperkterrein by Tswaing, noord van Pretoria
Foto: Anton Carl von Vollenhoven

Ystertydperk
Anton skryf dat net een Vroeë Ystertydperkterrein in die Pretoria-omgewing bekend is, naamlik by Derdepoort. Potwerk uit dié tydperk, ongeveer 200–900 nC, is ook by die Fonteinedal opgespoor. Daar is ook ‘n terrein wes van Wonderboompoort, maar geen datering is nog op die terrein gedoen nie.

Tussen Pretoria en Olifantspoort, wes van Pretoria, is ’n aantal Ystertydperkterreine van die
Moloko-tradisie, sowat 1100–1500 nC, soos die terrein by Ifafi. Moloko-potwerk (1200 nC) is ook by Tswaing gevind.

Verskeie Laat Ystertydperkterreine kom op die Magaliesberg voor: Drie hiervan in Akasia; vier tussen Wonderboompoort en Derdepoort; en ’n terrein by Derdepoort. Daar is ook terreine in die Magaliesbergvallei.

Laat Ystertydperkterreine noord van die Magaliesberg is by: Rosslyn, Onderstepoort, Klipfontein, Tswaing, Pyramidkoppies, naby Medunsa in Garankuwa; Pretoria-Noord en ’n Ndebeleterrein (Komjekejeke) by Wallmansthal.

Suid van die Magaliesberg is die volgende Laat Ystertydperkterreine gevind: ’n terrein en
rotsgravures op Mooiplaats; drie terreine op die plaas Hatherley, wat tussen 1550 en 1900 dateer; verskeie terreine op die buurplaas Zwartkoppies; twee woonterreine en verskeie inisiasieterreine op die Bronberg in Zwavelpoort en Tierpoort; en ’n terrein in Erasmusrand.

Klipmure is ook op Hatherley gevind en Laat Ystertydperkpotwerk is in die Groenkloof
Natuurreservaat opgemerk.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online