Ons val saam met rukwind by dié vlam in PDF Print E-mail
News - Vreethans
Tuesday, 21 November 2017 19:59
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Ons kom op ‘n Saterdag mooi saam met ‘n woeste vlaag rukwinde by Faerie Glen se Faeriedale-koopsentrumpie aan. Staanborde en sambrele voor La Fiamma (die vlam) Restorante loop erg deur en personeel skarrel nader om te red en op te tel wat te redde en op te telle is.

Eers toe die winde loop lê, klim ons uit die dieselwa uit. Dis benoud warm, maar ons besluit om eerder nie by die mak straatkafeetjie voor La Fiamma onder ‘n sonsambreel plaas te neem nie. Jy weet nooit of woeste-rukwind se ouboet ook later gaan toeslaan nie.

Binne word ons vriendelik ontvang, maar hier druk die hitte ook effe – die paar lugversorgers teen die mure ten spyt. Ons verken die binnegoed van die plekkie en besluit om in die rokersafdeling by een van die paar tafeltjies onder ‘n groot plafonwaaier aan te sit. ‘n Luggie streel boonop deur die twee groot, oop vensters.


‘n Mak straatkafeetjie voor La Fiamma

Onder ‘n vrolike oranje hoedjie en agter ‘n baie breë, baie wit glimlag, kom die kelner, ene Godfrey, met ons spyskaarte nader. Die keuses is wyd en meestal Italiaans van aard.

Ek bestel die ‘koudste bier wat julle het’ as hitte-afwerende middel en Metgesel vra koffie. Vir haar is dit nooit te warm of te iets vir koffie nie. Teleurgesteld is ek toe die bruisdrankie opdaag en dit is baie ver van koud af. En toe doen ek iets wat ek nooit kon droom ek sou nie: Ek vra vir ys.

Telkens as vriend Willie Strauss dit noem dat hy ‘n bier met ys geniet, ril ek van my kleintongetjie af tot in my kleintoontjie. Maar dis warm en vandag betree ek nuwe horisonne. Die Soweto Pepsi met ys is toe glad nie onaardig nie. Later sou ek nog een laat wegraak.


Die bemande houtoond gesien uit die koel rokershokkie

Jy kan kies uit ‘n aantal voorgeregte met indrukwekkende Italiaanse name. Die pryse wissel van R64 tot R85 vir die Carpaccio di Manzo – dungesnyde rou biefstuk met allerlei soos swartpeper en parmesaanskaafsels en suurlemoengedoende tamatie. As jy kopkrap oor die ander volksvreemde name, kan jy bloot vra vir slakke, hoenderlewertjies, braaibroodjies, calamari of salm: Dit is daar, net verbloem in die Latynse taal.

Soos jy sou verwag van ‘n restourant wat hom as Italiaans uitgee, bied die spyskaart ‘n magdom pizzas en pastageregte. Ek tel kort duskant die dertig soorte pizza. Die pryse wissel tussen R66 en R115 en dis baie billik gemeet aan die omvang van Metgesel se goedgelaaide ‘Ortolana’. Ortolana beteken ‘uit die groentetuin’ in Italiaans – so reg in Metgesel se kraal. Dit kos R89.


Ruim in omvang en ryk in smaak – die Ortolana wat Metgesel bly gemaak het

Waar ons in die koel rokershoekie sit, kan ons sien hoe die pizza en ander geregte in die groot houtoond voorberei word.

Van die rooster af kan jy biefstuk van beeshaas, of kruisskyf van verskillende aard en Italiaanse oorsprong bestel. Die braaivleis weeg in teen R138 tot R172. Ek oorweeg die lamsribbes (rack of lamb), ook teen R172, maar dan val my oog op iets op ‘n swartbordspyskaart teen die muur wat ek donkiejare laas geniet het: ‘Slow roasted pork belly’, lees ek. Ek vra vir Godfrey of die varkpens saam met brosgebakte vetvel (crackling) kom en hy bevestig. Die vark met peer-en-appelbiersous, groente en, sovêr ek kan onthou, die beste ‘crackling’ ooit is ‘n winskoop teen R145.


Die krakerigste ‘crackling’ ooit met varkpens, peer-en-appelbiersous en geurige groente

Sou jy wou, kan jy ondermeer ook uit ‘n ruim verskeidenheid van hoendergeregte (polo), varkdisse (porchetta), seekos (pesce), Italiaanse rysgeregte (risotto) en focaccia (nee Steve, dis amper soos brode) kies – en slaaie en nageregte, natuurlik.

Ons het rustig gekuier en roerend lekker geëet en gedrink by La Fiamma. Die geregte word met moeite en vaardigheid voorberei en keurig voorgesit. Die mense is vriendelik en behulpsaam. Jy kan hulle bel by: 012-991-2152.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online