Groen lig vir deurpad te midde van protes PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 21 November 2017 19:57
Untitled Document

Die deurpad wat die gesig en aard van die Bronberg-gebied onherroeplik sal verander is deur die Gautengse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling (GDLLO) goedgekeur.

Die amptelike magtiging is op 9 Oktober verleen en belanghebbendes het tot 6 November kans gehad om teen dié besluit te appelleer.

Verlede maand het ons berig dat hewige ongelukkigheid heers oor die manier waarop die omgewingsimpakberamingsverslag en openbare deelnameproses vir die PWV17-deurpad gedoen is.

Dié deurpad sal die N4-Oos snelweg met die Delmas-pad verbind. GDLLO het magtiging verleen vir die deurpad om deur die volgende eiendomme te sny: gedeelte 75 van die plaas Elandsfontein 412 of gedeelte 1 van die plaas Grootfontein 394 JR; gedeelte 2, 28, 245 en 235 van die plaas Tiegerpoort 371 JR; gedeelte 299 en die restant van gedeelte 250 op Grahamweg (Lynnwoodweg-verlenging) op die plaas Zwavelpoort 373 JR en die Boschkoppad op gedeeltes 43 en 34 van die plaas Zwavelpoort 373 JR.

Roete
Die PWV17 begin op ‘n punt suid van die Delmaspad en oos van die Elandsfonteinpad en eindig by ‘n punt oos van Silver Lakes-rylaan en suid van die N4 op die plaas Zwartkoppies 364. Daar sal die deurpad later met ‘n beplande afrit van die N4-oos snelweg verbind word.

GDLLO se omgewingsmagtiging stipuleer dat die voorkeurbelyning vir die pad in drie afdelings goedgekeur is. Afdeling een is die deel noord van die Bronberg – die rooi lyn op die kaart wat die oorspronklike roete aandui.

Afdeling twee is die Bronberg self – hier is alternatief twee gekies wat die tonnel deur die berg aanbeveel.

Afdeling drie is die deel suid van die Bronberg – die rooi lyn op die kaart wat die oorspronklike roete aandui.


Die roetes wat deur die rooi lyn noord en suid van die Bronberg aangedui word, is goedgekeur

Misnoeë
Verlede maand het ons berig dat die bewaringsgroep, Vriende van die Faerie Glen Natuurreservaat, amptelik hulle misnoeë oor die omgewingsimpakberamingsverslag en openbare deelnameproses vir die PWV17-deurpad uitgespreek het in ’n kommentaarstuk van 60 bladsye, gerig aan GDLLO.

Daarin sê die Vriende ondermeer dat hulle besorg is daaroor dat die pad se roete noord van die Bronberg as “reeds vasgestel” beskou is. Hulle het gesê dat so ’n stelling ’n bespotting van die omgewingsimpakberaming maak omdat dit juis die doel van dié beraming was om te sien of die roete aangepas kan word om ’n hoë impak op die omgewing te verhoed.

Groep
Intussen het inwoners van die gebied ‘n groep met die naam ‘Mense geraak deur die PWV17-pad’, gestig.

“Selfs al bly jy nie langs dié pad se roete nie of al sny die pad nie deur jou eiendom nie, gaan dit jou eiendomswaarde en die omgewing waarin jy woon beïnvloed,” sê Liza van Jaarsveld, ‘n lid van dié groep.

Sy sê dat die PWV17-deurpad water-, grond- en lugbesoedeling tot gevolg sal hê en dat mense se veiligheid daardeur geraak sal word. “Ons ondergrondse water sal deur dié ontwikkeling geraak word en die meeste kleinhoewes is nie aan die munisipale watervoorsieningstelsel gekoppel nie.”

Skade
Die groep besorgde inwoners sê dat dié ontwikkeling die Bronberg-bergreeks reuse skade gaan aandoen. Daar is groot besorgdheid dat Juliana se Goue Mol, ‘n krities bedreigde spesie op die rooidatalys, met die bou van die pad meer van sy natuurlike habitat sal verloor.

“Jy is verkeerd as jy dink dat Suid-Afrika nie genoeg geld het om dié deurpad te bou nie,” sê Liza. Sy sê dat Sjina se pad-inisiatief, waarin hulle seker wil maak dat Afrika se natuurlike hulpbronne belangrike hawens bereik, waarskynlik dié pad sal befonds. Sy sê dat sulke planne met die Brics-beraad op 5 September aan die lig gekom het.

Vir meer inligting oor ‘Mense geraak deur die PWV17-pad’, stuur ‘n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online