So met die slangseisoen saam, dink hy nou aan ‘n ding wat op ‘n dag in die drinkgat op ‘n stowwerige dorpie in die diep bosveld gebeur het, sê Gert Mossie.
Dit was Vrydag, sê Gert, en met die nodige poskantoor- en koöperasiedraaie klaar gedraai, het ‘n aantal manne ‘n lafenissie teen die dors en die droogte in At se afsaalplekkie loop soek.
Op ou Spekkies Prinsloo se plaas was dit daardie jaar onrusbarend droog en ou Spekkies was daardie dag sommer baie dors, sê Gert Mossie. Nou was ou Spekkies ‘n kolos van ‘n kêrel wat ter wille van die gerief en die vrede sy sit voor die toonbank op twee kroegstoeltjies moes sit. Dit het ‘n wavrag vol bruisdrankies gekos om Spekkies op dié dag teen die verskriklike droogte en dors getemper te kry, maar hy het dapper en lank volhard, sê Gert Mossie.
Met een van ou Spekkies se noodsaaklike besoeke aan die watergat se draailoopplek, kom Faan Vellemans haastig met ‘n toegeknoopte streepsak in sy hande deur die swaaideur die kroeg binne, sê Gert.
Nou het almal in die distrik geweet dat Faan Vellemans ‘n slangvanger van formaat was en geen pryse is toegeken vir regraai oor wat dié dag in die streepsak was nie. “Dis ‘n meneer van ‘n swartmamba,” het Faan laat weet nog voor iemand kon vra. “Goed oor die nege voet,” sê Faan en hy sit die sak met sy gevaarlike inhoud hier langs hom op die vloer neer. Faan bestel ‘n koue een, want slangvang is ook mos dorswordwerk, sê Gert Mossie.
Net toe kom ou Spekkies van sy draailoop af aangeskuiwe en in die poging om sy logge lyf op die twee kroegstoeltjies geplant te kry, haak hy die beker met vatbier op die toonbank om en van die kosbare inhoud beland op sy dubbeldoorsitplek.
Hy los ‘n knoopwoord of twee en so met die aanskoue van hoe die bruisdrankie van die toonbank af tap en sy sitplek biernat maak, sien ou Spekkies die streepsak op die vloer lê, vertel Gert.
Al is hy nie sy gewone self nie, bly Spekkies ‘n boer en ‘n boer maak mos ‘n plan, sê Gert Mossie.
Voor iemand iets kon doen of sê, tel Spekkies die streepsak op en drapeer dit, inhoud en al, netjies oor sy twee kroegstoele. Iemand gil “o vet!” maar helaas te laat. Spekkies plak sy allemintige agterstewe op die sakbedekte stoele neer en hy skuif-skuif so tot hy sy sit na wense gesit kry.
Vir ‘n oomblik, sê Gert Mossie, was daar ‘n doodse stilte in die kroeg, terwyl almal op die allerverskriklike en onvermydelike ongeluk gewag het. Toe bars ‘n babelse geskreeu los. Dit het Faan Vellemans en ander ‘n hele ruk gevat om ou Spekkies van die slangsaksitplek af te kry.
Dit raak weer stil in die kuierplek. Almal hou vir Spekkies stip dop en wag op die onvermydelike simptome wat ‘n mambabyt met hom saambring . . . Maar die lywige ou staan net daar met ‘n vraende en stomverbaasde uitdrukking op sy breë bakkies. Hy het eers die volgende dag geskrik, sê hulle.
Toe Faan Vellemans probeer om sy kosbare mamba uit die streepsak te haal sodat die skade bepaal kan word, sê Gert, sit daai swartslang, met sy slagtande stewig geanker in die hout, aan die kroegstoeltjie vas.
Later toe die slang met ‘n gesukkel losgewoel en gelawe is, het iemand opgemerk dat hy in sy dag des lewens nog nie so ‘n plat mamba gesien het nie en party ouens kon sweer dat die swartmamba bleek en half groen in die gesig was . .
|