Veiligheid op die voorgrond PDF Print E-mail
News - Rubrieke
Tuesday, 21 November 2017 19:49
Untitled Document

AO Wynand van der Merwe

Dit is amper weer feesseisoen en veediefstal gaan skerp toeneem. Wees meer paraat en gaan die omheinings gereeld na en wees bedag op vreemdelinge wat kwansuis vee wil kom koop.  Sorg asseblief dat vee ordentlik volgens voorskrif gemerk is en registreer jou merk of brandmerk.

Met die stygende aantal plaasaanvalle gee ek graag weer ’n paar veiligheidswenke vir die Bronberg-gemeenskap.

Vermy slaapkamers met buitevensters en maak seker dat alle vensters, deure en hekke gesluit is en die alarm en elektriese heining aan is. Sorg dat jou alarmbattery deur die nag kan hou. Dink aan ‘n ‘UPS’ of ander kragbron om bystand te verleng en koppel ook ‘n baie harde sirene en flitsende noodlig of twee hieraan. Koppel ‘n paar buiteligte aan ‘n groot 12-volt trekkerbattery vir noodgevalle.


Adjudant-offisier Wynand van der Merwe, SAPD Boschkop

Brand
Moet geen brandstof in buitegeboue stoor nie, tensy dit goed toegesluit is. Koppel ‘n tuinslang aan ‘n binnekraan en hou brandblussers reg om vuur in die huis te kan blus.

Maak seker dat alle selfone in die huis vol gelaai is en genoeg lugtyd het en dat alle noodnommers en bure se nommers op alle selfone is. Alle twee-rigting radios se batterye moet ook vol gelaai wees.

Moet vir geen rede uit jou huis gelok word nie, selfs al gaan jou krag af en die krag-boks is buite; al roep iemand skynbaar om hulp of al word ‘n vuur buite aangesteek. Maak ‘n alternatiewe reëling met jou werkers – in noodgevalle kan hulle jou bel.

Moet geen vreemdes by jou huis toelaat nie. Moet ook nie goedsmoeds vir die ‘polisie’ oopmaak nie. Bel jou naaste polisiestasie en bevestig eers alle besonderhede.

Versterk
Beveilig jou huis met versterkte binne-hekke en deure, veral waar jy slaap of skuil. Vervang jou badkamerdeur (of die deur van ‘n ander veilige vertrek) met ‘n sterk staaldeur, koeëlvas en met ordentlike skuifslotte binne.

Versterk die vensters met glas wat indringer-bestand is en installeer diefwering. Sit ook sif-diefwering op – dit bemoeilik petrolbom aanvalle. Hou een of twee nooduitgange waardeur julle kan ontsnap, indien nodig. Moenie helder ligte binne die huis brand nie. Maak seker dat gordyne goed toegetrek is.

Neem selfoonfoto’s van verdagte voetgangers en voertuie. Hou ‘n pen en notaboek byderhand om registrasienommers en voetganger- beskrywings aan te teken. Deel dié inligting met jou bure.

Tekens
Kyk vir ‘tekens’ by hekke, heinings en paaie. Kyk daagliks vir vreemde voertuig- en voetspore. Vee op jou werfpaaie voor julle die huis verlaat, dan kan jy sien wat aangaan as jy terugkeer. Kyk uit vir voertuigspore, voetspore, sigaretpakkies, stompies, takkies, gras en urineerplekke.

Kyk of jou honde jou kom verwelkom en kyk na hulle gedrag. Waai hulle sterte? Is hulle bang? As alles veilig lyk en jy ry die erf binne, bly in die voertuig en toets eers met jou afstandbeheer of die alarm dalk afgegaan het, voor jy parkeer.

Bel jou bure, plotwag of plaaswag as jy iets vreemds gewaar. Jou beste hulp bly reg langs jou.

Alarm
Oorweeg ‘n ordentlike alarm-stelsel met infrarooi-strale of -ogies buite in die tuin, by vensters en deure. Die stelsel moet vir monitering aan ’n veiligheidsmaatskappy met gewapende reaksie gekoppel wees of aan ’n instansie soos plotwag en jou bure.

Laat slaap jou honde in die huis en hou ganse buite aan om te help alarm maak. As jou buite honde in die nag blaf – gaan stel elke keer die volgende dag ondersoek in. As jy tekens of sitplekke sien, gaan sit daar en kyk terug na jou huis. Heel moontlik gaan jy ‘n swak plek in jou beveiliging sien.

Vermy dit om produkte op jou eiendom te verkoop. Moenie jou werkers op die perseel lone betaal nie. Betaal hulle opgemaakte lone binne-in die bank waar jy geld getrek het of betaal dit elektronies in hulle eie rekeninge in. Wanneer jou werkers wil geld leen, moenie dit dadelik gee nie. Sê vir hulle jy het nie geld op die plaas nie; sodra jy terugkom van die dorp af sal jy kan help.

Wapen
Leef en slaap met jou vuurwapen byderhand. Maak seker jy is vertroud met jou wapen en het genoeg magasyne en ammunisie. Laat die hele gesin met alle wapens skiet. Leer die kinders vooraf van ‘n noodsituasie en beplan strategie.

Met die telefoonprobleem by SAPD Boschkop, onthou dat julle in noodgevalle 10111 vanaf ’n landlyn kan skakel of 112 vanaf ’n selfoon.  Skakel die Boschkopse Polisiestasie by 012-802-0909 of 071-675-6207 of die stasie se diensoffisier by 071-675-7341.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online