Spertyd weer op ons PDF Print E-mail
News - Rubrieke
Tuesday, 21 November 2017 19:47
Untitled Document

Lianie O’Neill is ‘n rekenmeester van Dante Deo Rekenmeesters in Rayton


Lianie O’Neill

Behalwe vir die yslike temperatuurverskil, voel dit asof dit net eergister 1 Julie was en die belastingseisoen afgeskop het. Wel, hier is ons byna vyf maande later en die sperdatum is op ons – 24 November. 

Die meeste belastingpligtiges het reeds hulle opgawes getrou ingedien, maar daar is wel die ek-sal-later-outjies. Dis hulle wat nou moet spring.

Dit sal baie wys wees om so gou as moontlik voor jou rekenaar in te skuif, aan te teken en daardie opgawe ingedien te kry. Sommige van die SARS-takke sal ook tot 18 November op Saterdae oop wees tussen 8 vm en 1 nm om belastingbetalers van hulp te wees.

Terugbetalings
Terwyl sommiges soos visse op droë grond spartel om die sperdatum te haal is daar ‘n hele groepie mense wat steeds op uitbetalings wag. ‘n Ondersoek deur die Ombudsman het gevind dat die SARS-stelsel die oorsaak was dat sommige uitbetalings onnodig sloer. Dit wil egter nie voorkom asof dié bevindinge op 5 September tot dusver veel vrugte afgewerp het om die situasie te verbeter nie. 

Tyd
Hoe lank is te lank? Menigte belastingbetalers is al raadop en keelvol vir die tyd wat dit neem om uitbetalings gefinaliseer te kry. Daar is egter sekere tydsbeperkings wat van toepassing is alvorens ‘n klagte ingedien kan word. 

Indien verifikasie-dokumente versoek word, het SARS 60 werksdae om die verifikasie te doen en sodra die afhandelingsbrief uitgereik is, het hulle ‘n verdere 21 werksdae om die uitbetaling te doen. 

Ons het ook gesien hoe ‘n tweede verifikasie-brief uitgereik word en die stelsel dit weer op ‘n 60 werksdae omset hanteer. Dit mag egter ook gebeur dat hulle ‘n bank-verifikasie versoek, wat beteken dat nog vyf werksdae bygevoeg kan word . . . Tik-tok en die klok stap aan.

Kla
By wie kan ek gaan kla? Skakel die kontaksentrum met jou navraag en kry ‘n saaknommer.  Wag die aanbevole vyf werksdae en skakel dan die klagtebestuurskantoor (“complaints management office” afgekort as CMO) of gaan op jou “e-filing”-profiel en teken die klagte aan. Jy behoort redelik vinnig ‘n antwoord te kry. Indien dit nie die geval is nie, skakel met die Ombud.

Algemene inligting
SARS-kontaksentrum: 0800 00 7277
Ashlea Gardens-tak: Lebombostraat 46
CMO: 0860 12 12 16
Ombud: 0800 662 837

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online