Hulle waarsku teen gevaar Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 21 November 2017 21:41
Untitled Document

Die ou Engelse jagters wat diep, donker Afrika ingevaar het, het die kwêvoël ‘go-away bird’ genoem. Dis glo omdat dit vir hulle kompleet geklink het of hy ‘g’waaaaaaaay-g’waaaaaaay’ roep elke keer wanneer iemand wou aanlê om ‘n bok te skiet.

Deesdae het dié voëls egter goed by mense se teenwoordigheid aangepas. Hulle het in die laat 1970’s vir die eerste keer in Johannesburg en Pretoria se tuine begin intrek en teen die 1980’s was dit glad nie meer snaaks om ‘n klein swermpie kwêvoëls in jou voortuin te hê nie.

Kenners sê die rede waarom kwêvoëls stede toe begin trek het, is waarskynlik oor die boomryke voorstede in hoëveld gebiede, waar uitkykpunte gewoonlik ‘n skaarste is. Hulle hou veral van vrug-draende bome in tuine – soos die algemene uitheemse Seringboom, Melia azedarach.

Kwêvoëls vreet hoofsaaklik vrugte, maar sal ook bessies, blomme, blare, termiete, sade, peule (veral van Akasiabome) en insekte vreet. Hulle is baie afhanklik van water en moet daagliks drink.


Die kwêvoël
Foto: Wikipedia

Boonste
Die kwêvoël, Corythaixoides concolor, gebruik die heel boonste takke van bome as uitkykpunt. Dit is daar waar hulle sit en skree met wippende sterte en regop kuifvere om ander voëls en diere teen gevaar te waarsku.

Die kwêvoël is ‘n medium-grootte grys voël wat 47–51 cm lank is en hy weeg 200–300 gram. Hy het ‘n kort donker snawel, donker oë en grys bene. Sy kuif kan 6–7 cm hoog rys as hy opgewonde raak.

Dié voël het ‘n lang stert – omtrent dieselfde lengte as sy lyf – wat hy gebruik om in boomtakke te balanseer. Sy kloue is ook goed aangepas om aan takke vas te gryp. Hy het drie tone aan die voorkant van sy klou en een aan die kant. Die toon wat kant-toe wys kan vorentoe of agtertoe gedraai word.


‘n Kwêvoël vang ‘n stofbad
Foto: Loot Eksteen

Hardloop
Kwêvoëls is gemaak om in bome te leef en dit lyk of hulle dit geniet om op horisontale takke te hardloop, eerder as om te hop of te vlieg. As hulle vlieg is dit met swaar vlerkbewegings en gewoonlik laer as boomtop-hoogte.

Dié voëls kom in groepe van drie tot 20 voëls voor, maar naby water kan hulle swerms van tot 60 voëls vorm. In stede is die swerms meestal kleiner.

Hulle kies slegs een maat in die broeiseisoen en deel van die hofmaakproses is ‘n ritueel waar die mannetjie die wyfie voer. Die paartjie bou saam die nes van droë takkies in die boonste dele van bome.


In vlug
Foto: Wikimedia

Broei
Kwêvoëls sal dwarsdeur die jaar broei en die mannetjie en wyfie maak beurte om die eiers uit te broei.

Daar word een tot drie amper koeëlronde wit eiers gelê wat 26 tot 28 dae vat om uit te broei. Altwee ouers voer die kuikens en selfs ander voëls in die swerm kan help om na nuwe aankomelinge te kyk.

Die kleintjies begin rondklouter voor hulle kan vlieg. Hulle begin vlieg as hulle vier weke oud is en verlaat die nes as hulle ses weke oud is. Kwêvoëls is volwasse op een- tot twee-jarige ouderdom en kan tot 20 jaar oud word.

 

© 2024 Die/The Bronberger