Bashewa se atlete bring glorie vir die kontrei Print E-mail
News - Artikels
Wednesday, 18 March 2009 09:26
Untitled Document

Bashewa is die tuiste van ’n baie suksesvolle spannetjie padwedloop-atlete wat besig is om groot naam te maak in atletiekkringe. Daar gaan omtrent nie ’n week verby wat spanlede nie een van die padwedlope, wat reg oor die land gehou word, wen nie.

Die span spog met bekende name wat strek van Ronel Thomas, een van die land se vinnigste 10 en 21 km atlete, Enos Matelane, die nuwe Suid-Afrikaanse marathon kampioen, Olivia Chitate, een van Gauteng Noord se vinnigste 10 en 21 km atlete, en Marietjie Montgomery, vorige goue medalje wenner in die Comrades.


?n Onderhoud met Olivia Chitate nadat sy haar eie rekord gebreek het by Tuks

Die klub is egter nie net vir professionele padwedlopers nie. Dit is ook ’n sosiale klub waar families saam oefen. Marietjie Montgomery se man en dogters, Stephane en Richelle, is saam met haar lid van die Bashewa Atletiekklub.

Een van die bekendste klublede is ’n sosiale wedloper, die Bronbergse weeskind Pieter le Roux, wie se lief en leed die gemeenskap oor die jare beleef het. Pieter het eers sy pa Hans, toe sy ma Annette, sy oupa Pieter Lombaard, en twee jaar gelede sy ouma Kotie en sy oom Bennie in dieselfde jaar aan die dood afgestaan.

Hy het tussen Bashewa-inwoners groot geword, op Laerskool Witpoort skoolgegaan en later Hoërskool Garsfontein toe gegaan. Karin van der Walt, president van die Bashewa Atletiekklub, en haar man Dirk het Pieter verlede jaar ingeneem. Hy is nou in matriek en het op 21 Februarie sy derde 10 km wedloop voltooi.


Ronel Thomas, Johan Buys en Yuzelle van der Walt voor die 10 km wedloop in Durban

Stig
Karin het Bashewa Atletiekklub twee jaar gelede gestig met die hulp van haar dogter, Yuzelle, en hulle buurman, Timothy Ratshilavhi. Yuzelle is die spanbestuurder en Timothy die vise-president.

Karin sê dat dié klub se benadering eenvoudig is: Hulle gee atlete die geleentheid om te hardloop. As die atleet wen, behoort die prysgeld aan hom of haar. Dié benadering is moontlik danksy die klub se borge, Bashewa Power Projects en Bashewa Power Botswana.

Die borge poog om die druk van die atlete af te haal en hulle toe te laat om na hul liggame te luister. Hulle kan meeding as hulle in top kondisie voel, en rus as hulle liggame ooreis is. Die klub hanteer alle finansiële verantwoordelikhede.

“Omdat ons so intens betrokke is met die spanlede, kan ons dit nie vir duisende atlete doen nie,” se Karin. “Maar die handjievol atlete wat ons gevind het, maak ons so ongelooflik trots dat ons voel dit is tyd om hulle prestasies met die gemeenskap van die Bronberg te deel.”


Maxwell Bangani, Olivia Chitate, Marshal Jaji en Timothy Ratshilavhi

Presteer
Hier is net die prestasies op Saterdag 21 Februarie by die Tuks liga wedloop: Millen Matende was derde in die 21 km; Collen Parura vierde in die 21 km; Olivia Chitate het haar eie rekord met vyf minute verbeter in die 21 km en haar titel behou as vinnigste senior vrou in die liga wedloop.

Marietjie Montgomery het die 21 km vir veteraan vroue gewen; Francis Mukuka het die meesters 21 km vir mans gewen; Maxwell Bangani het die veteraan 21 km vir mans gewen; Lucas Rabbie het die 5 km gewen; en Marshal Jaji het die junior 21 km gewen.

Bashewa Atletiekklub se sterre sluit die volgende mense in: Enos Matelane was die eerste Suid-Afrikaanse man in die Suid-Afrikaanse kampioenskappe wat op 8 Februarie op Kings Park atletiekstadion gehou is. Hy het tweede geëindig na Mabuthile Lebopo van Lesothu. Sam Molokomme het tweede gekom in die veteraan mansafdeling in die SA marathon kampioenskap. Francis Mukuka, 54 jaar oud, is die houer van baie wêreldrekords. Hy het sy eerste wêreldrekord in 1987 behaal, 21 jaar gelede, en is steeds een van die land se vinnigste meesters.


Stephane Montgomery, Ronel Thomas, Marietjie Montgomery, en Karin en Yuzelle van der Walt

Podium
Marietjie Montgomery, 49 jaar oud, het in Februarie die 10 km veteraan wedloop in Durban gewen en was weer later in Februarie op die podium met die Irene Lantern-resies. Ronel Thomas, 26 jaar oud, het onlangs die Ottosdal 21 km wedloop gewen; Collen Parura was tweede in die Agape 21 km wedloop op 31 Januarie en derde in die George Claasen wedloop by Menlyn op 24 Januarie; Charles Soza het die Agape 32 km wedloop op 24 Januarie gewen en was tweede in die George Claasen 21 km wedloop. Millen Matende was die wenner van die Agape 21 km wedloop; Maxwell Bangani was tweede in die veteraan 10 km wedloop in Durban op 8 Februarie en Prudence Zane was die wenner van die veteraan kategorie in die George Claasen wedloop.

Die 21-jarige Olivia Chitate het dié jaar nog elke wedloop waarvoor sy ingeskryf het, gewen. Op pad na die McCarthy wedloop ’n ruk gelede, is Bashewa se atlete beroof. Olivia het van die aanvallers ontsnap, haar hardloopskoene verloor, maar steeds by die wedloop opgedaag en gewen.


Francis Mukuka, Lucas Rabbie, en Maxwell Bangani

Hulp
Karin sê dat baie mense dit vir die atlete help moontlik maak om te presteer. Sonder haar man, Dirk van der Walt, eienaar van Bashewa Power Projects, sou die atlete se drome nie kon waar word nie. Dan is daar ook Henning van Aswegen van Varsity Sport en een van die klub se eie atlete, Ronel Thomas, wat verantwoordelik is vir die nuwe klub-drag; afrigter Sandra Viljoen; en Dion Saayman, een van Gauteng Noord se afrigters wat vyf van die klublede afrig.

En natuurlik, sê Karin, sou die klub nie kon bestaan sonder sy sosiale lede nie. Dit is hulle wat dié groep atlete ’n klub maak.

Volgende keer as jy in Bashewa rondry en atlete bo-oor die heuwels en dwarsdeur die dale sien draf, moet jy weet dat hulle oefen sodat hulle ons kontrei se naam hoog kan dra. Karin vra dat motoriste sal toet en waai om te wys dat Bashewa se mense hul eie padwedloop spannetjie ondersteun.


Rowen van der Walt en Pieter le Roux by die Tuks wedloop

 

© 2020 Die/The Bronberger