Raad se depositostelsel glo onwettig PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 21 November 2017 19:22
Untitled Document

Grondeienaars in die Bronberg-gebied kla die laaste paar maande dat die sogenaamde sekuriteitsdeposito’s op hulle munisipale rekenings drasties vermeerder het. Baie van die grondeienaars berig ook dat bedrae van etlike duisende rande onder die opskrif, ‘Diverse Kostes’, gehef word sonder dat enige verduideliking hiervoor gegee word.

Van die grondeienaars se uitstaande saldo’s het die hoogte in geskiet en rente word nou ook gehef wat die uitstaande saldo’s maandeliks nog verder verhoog.

Lex Middelberg, die voorsitter van die Tshwane Geldsake Koukus, sê die stad het sedert die nuwe owerheid aan bewind gekom het, begin om verbruikersdeposito’s stelselmatig op te stoot. Dié praktyk plaas bykomende finansiële druk op vuisvoos verbruikers.

“Artikel 229 van die grondwet bepaal watter inkomste die stad vanaf inwoners mag hef. Dit is beperk tot eiendomsbelasting en ’n toeslag op dienste gelewer (beperk deur regulasies). Enige ander vorm van inkomste by wyse van belasting of heffing moet deur die minister van finansies goedgekeur word ná ’n omvangryke oorwegingsproses wat gevolg moet word,” sê Lex.


Lex Middelberg, voorsitter van die Tshwane Geldsake Koukus

Hy sê dat ’n deposito nie ’n tarief of belasting is nie en daarom nie ’n wetlik gemagtigde vorm van inkomste is nie. Die staat (en die stad is deel van die staat) neem nie deposito’s op belasting nie. Niks in ons grondwet of wetgewing magtig dié praktyk nie. 

“Sou die stad egter aanvoer dat dit wel wettig is, moet hulle minstens al die geld in ’n hourekening plaas en dan moet die volle bedrag daarvan as finansiële verpligting in die stad se state teenoor sy belastingbetalers gereflekteer word. Die geld moet dan in daardie rekening gehou word totdat dit nodig is vir die doel waarvoor dit as deposito geneem is en waar dit beskikbaar is vir onmiddellike terugbetaling indien nodig.”

Lex sê dat die stad die deposito’s egter as inkomste gebruik en die geld word soos enige ander inkomste aangewend. Die stad verbeter sy oënskynlike finansiële prestasie deur slegs ’n fraksie daarvan as ’n blote boekinskrywing onder die item ‘Verbruikersdeposito’s’ in sy begroting en finansiële state te reflekteer.

Die kontant as sulks word nie in ’n afsonderlike rekening gehou nie, sê Lex. Vir hierdie jaar wys die stad slegs R396 miljoen (’n gemiddeld van slegs R440 per verbruiker) as ‘Verbruikersdeposito’s’.

Die praktyk van die stad om deposito’s te neem en om dit dan as inkomste aan te wend om bedryfsuitgawes te delg, is volgens die Tshwane Geldsake Koukus onwettig en ongrondwetlik.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online