In die aanloop na nog ‘n feesseisoen in die Bronberg-gebied, kan families en vriende uitsien na kosbare kuiertyd saam. Dit is ‘n tyd waar ‘n baie spesiale en lewensveranderende geboorte vir baie – en die oorgang na ‘n nuwe jaar gevier word. Dit is ongelukkig ook dié tyd van die jaar vir onbedagsame plofkoppe om uit hulle gate te kruip en die lewe van mens en dier te versuur.
Die onwettige en oordadige afskiet van vuurwerke en bomklappers deur ‘n klein groepie selfsugtiges, is met elke feesseisoen die oorsaak van groot pyn, lyding en hartseer. Verskrikte troeteldiere, plaasdiere en wild in ons gebied vat die pad en raak weg en word in die proses ernstig beseer of erger. Elke jaar moet ons hoor van kinders wat ‘gewond’ word in hierdie sinnelose oorlog wat teen vredeliewende mense en hulle geliefdes en diere gevoer word.
Mense wat dit nie durf waag om hulle diere in dié tyd alleen of in ander se sorg te laat nie, word gyselaar gehou deur ‘n klompie misdadigers – ja, dit is wat jy iemand noem wat die wet oortree.
Regulasies en wette is in plek om die waansinnige gewoonte, wat na ons mening in sy geheel verbied moet word, te beheer. Slegs met spesiale vergunning mag vuurwerke afgeskiet word en dan ook net op goedgekeurde persele. En net goedgekeurde lisensiehouers mag die goed verkoop.
Die vredeliewende meerderheid onder ons kan vanjaar weer bloot oë en ore toeknyp en hoop dat die terreuraanval sonder te veel skadelike gevolge sal oorwaai, of ons kan iets daaraan doen.
Meld elke geval van die misdadige afskiet van vuurwerke in jou voorstad, hoewegebied en dorp by die polisie, metropolisie en jou buurtwag aan. Konfronteer die oortreders saam met ander geteisterdes in jou omgewing en maak hulle op ‘n kalm wyse bewus daarvan dat hulle die wet oortree. As jy ‘n winkelier raakloop wat vuurwerke verkoop, vra om sy toestemmingsdokumentasie te sien. As hy of sy dit nie kan wys nie, meld dit aan.
Ons Kersuitgawe
Soos in vorige jare probeer ons om weer vanjaar, in die gees van die Kersseisoen, ‘n baie besondere uitgawe in Desember die lig te laat sien. Interessanthede en wetenswaardighede uit ons gebied en wyer, wat bepaald oor Kersfees en die feesseisoen gaan, sal opgedis word.
Ons spesiale Kersuitgawe verskyn reeds vroeg in Desember en Januarie se Bronnie eers laat in die maand. Dit bied aan adverteerders die geleentheid van blootstelling in die uitgawe met die langste rak- en leeslewe van die jaar. Die spertyd vir ruimtebespreking is 28 November. Adverteerders en lesers kan van die geleentheid gebruik maak om hulle Kers- en Nuwejaarswense in ‘n advertensie of in ‘n lesersbrief in ons spesiale Kersuitgawe oor te dra.
|