Bron van wat? PDF Print E-mail
News - Briewe
Tuesday, 21 November 2017 19:07
Untitled Document

Renier Meyer van die Bronberg-gebied skryf:
Die Bronberge. ‘n Bron van wat? Of daar diamante buite Cullinan se skagte gevind kan word kan ‘n mens maar net wonder. Maar tog? Diamantvallei, Diamond Hill?

Hier is wel ‘n andersoortige rykdom in ons kontrei te vinde: die natuurskoon van ons gebied. Daar is die ‘bergpas’ as jy met die N4 ry en tussen die heuwels deurkom: lowergroen bome, darem gedeeltlik inheems aan die eenkant, en ‘n pragtige waterlandgebied met ‘n laslappie deken van gras kleure aan die anderkant (daar by die waterskeppers se boom).

As die R515 vanaf die snelweg geneem word, en jy kom oor die bult sien jy pragtige boomlanings, ‘n dam waarvan jy soms vergeet en lowerveld. Hou aan ry: pragtige graslande waar die wind en die land saam wals met golwende graspluime gekleed.

Draai regs en ry verder. Kyk na die rollende grasheuwels. Beeste wat in die verte wei, swart spikkels op ‘n blonde tapyt. Daar is die steekriet en die Pienaars, waar water rustig oor die klippe klots.

Ons hemele is ook nie te versmaai nie. Daar is niks soos ‘n Bronnie-sonsondergang nie. Stroke van rooi, oranje en goud: so soet op die oog soos ‘n veselperske in die mond.

Met die afwend van die dag, op ‘n somersaand, ná ‘n warm dag: die soet geur van akasias hang in die lug. In die agtergrond roep ou Karel Kriek na sy vroutjie en die paddakoor roep die reën.

Dit is wanneer jy al dié dinge ervaar, wat jy besef hoekoem ons in die Bronberg bly. Die berge is ‘n bron van ‘n skugter, saggeaarde en intieme natuurskoon wat diep in jou hart inkruip, so stadig en half-onopgemerk.

Brief verkort. – Red

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online