Goue mol op grens van beoogde Wapadrand-ontwikkeling gekry PDF Print E-mail
News - Aktueel
Wednesday, 18 March 2009 11:58
Untitled Document

’n Lewendige goue mol is op die grens van ’n beoogde nuwe ontwikkeling in Wapadrand se groen-belt gedeelte van die Bronberg gevind.

Die Juliana goue mol, ’n krities bedreigde spesie op die internasionale rooidatalys, is op Vrydag 20 Februarie ongeveer ’n meter en ’n half van die grensdraad in ’n kat, genaamd Zaza, se kake gevind. Zaza se eienaar, Mariëtte Richter van Kierieklapperkop nommer een in Thongstraat, het die mol in haar tuin gered en dadelik die Tshwane Natuurbewaringsafdeling gebel.

Die Bronberg is een van net drie plekke in die wêreld waar Juliana se goue mol, Neamblysomus julianae, voorkom. Die ander twee plekke is by Nylsvley en ’n subspesie in die Pretoriuskop-omgewing van die Krugerwildtuin.

Hencke Marais, natuurbewaarder van Tshwane-natuurbewaring, het gesê dat natuurbewaarders bewus was van goue molle ’n bietjie laer af teen die Bronberg, maar hy sê dat dié molletjie uit Mariëtte se tuin, wat Gouelokkies gedoop is, die eerste een is wat so hoog op teen die hang gekry is.


Die Juliana goue mol het geen o nie
Foto: Marianne van Staden

Ontwikkel
Volgens Hencke is die goue mol se habitat besig om te kwyn weens ontwikkeling in die Bronberg se sandgebied. Dit is juis oor bedreigde spesies soos die goue mol wat Wapadrand inwoners bekommerd is en wat hulle noop om verdere ontwikkeling op die Bronbergrif teen te staan.

In Desember verlede jaar het Die Bronberger berig dat Wapadrand inwoners sterk gekant is teen die beoogde ontwikkeling in die Bronberg agter Kierieklapperkop. René Geyer, lid van die Wapadrandinwonersvereniging, het gesê dat die eienaar van dié grond blykbaar ’n ontwikkeling van 21 eenhede wil oprig.


So lyk die ingang na ?n goue mol se tonnel
Foto: Madeleine Oosthuizen

Inwoners wonder of toestemming vir die ontwikkeling verkry sal word noudat daar lewendige bewyse is dat dié skaars molletjie op daardie stuk grond woon. Natuurbewaring se Hencke en Karin Coetzee, wat al meer as 10 jaar by die afdeling werk, sê dat dit die eerste keer is wat hulle ’n lewendige goue mol te siene kry. Van hulle kollegas wat al 30 jaar daar werk, het ook nog nie ’n lewendige goue mol gesien nie.

Gouelokkies gaan weer vrygelaat word in die natuur sodra bloedmonsters en data opgeteken is deur Sureta Maré wat besig is met haar meestersgraad oor die goue mol by die Universiteit van Pretoria.


Die deel van die Bronbergrif agter Kierieklapperkop waar die goue mol gevind is
Foto: Marianne van Staden

Tonnels
Die 10 cm lange Juliana se goue mol word maklik deur katte en honde gevang omdat hulle tonnels so naby aan die grondoppervlakte is en in diep sand gegrou word. Dié tonnels loop parallel met die grondoppervlakte en kan as riffies op die grond gesien word. Goue molle stoot nie hope grond uit op die oppervlakte soos molrotte nie.

Anders as molrotte is die goue mol nie ’n herbivoor nie, maar eet slegs insekte. Hy is letterlik so blind soos ’n mol en het geen oë nie, en maak staat op sy reuksintuig om hom van punt A tot B te kry.

Goue molle is enkellopers, maar kom in kolonies voor met ’n netwerk van tonnels. Ontwikkeling, paaie en mynboubedrywighede in die Bronberg het dié kolonies goue molle van mekaar afgesny; ’n feit wat inteling ’n bedreiging vir geïsoleerde kolonies maak.


Gouelokkies gaan weer vrygelaat word sodra data oor haar opgeteken is
Foto: Marianne van Staden

Verste
In Oktober 2006 het Die Bronberger berig dat geskiedenis gemaak is toe ’n goue mol vir die eerste keer op die Glastonbury-rif van die Bronberg gekry is. Die rif, oos van die Zwavelpoort teerpad, was die verste oos wat die goue mol nog op die Bronberg se riwwe gekry is.

Volgens Prof Nigel Bennett van die Universiteit van Pretoria se Departement Dierkunde het die westelike dele van die Bronberg, soos Wapadrand en Shere, ongekende uitbreiding gesien oor die afgelope twee dekades. Dit het die verlies aan waardevolle habitat vir Juliana se goue mol beteken en dit is hoekom die goue mol se teenwoordigheid op die Glastonbury-rif so belangrik is.

Hy het gesê dat die sanderige noordelike hange van die Bronberg bewaar moet word omdat dit kritiese bewegingsroetes vir die goue mol is. Die mol word beperk tot gedeeltes met diep sand.


Dit is hoe aanduidings van die goue mol se tonnels bo die grond lyk
Foto: Madeleine Oosthuizen

Krimp
In Die Bronberger se eerste uitgawe in September 2002 is die goue mol se benarde posisie en onsekere toekoms reeds onder lesers se aandag gebring. Sedert dié uitgawe het ontwikkeling teen die hange van die Bronberg versnel, die steengroef se bedrywighede teen Eleanor-rif het uitgebrei en die goue mol se gebied het aanhou krimp. Dit ten spyte van die feit dat verskeie voorstelle van groen-belt afbakenings en bestuursgebiede aan die Gautengse Departement van Landbou, Bewaring en die Omgewing voorgelê is. Die goue mol se Bronberg-verspreidingsgebied wat onder Kungwini se plaaslike munisipaliteit val, het veral deurgeloop.

Nou rig Tshwane metropolitaanse munisipaliteit ’n versoek aan die publiek om hulle te kontak indien jy vermoed dat jy op ’n goue mol of ander rare spesies afgekom het. Dié inligting is baie belangrik vir die toekoms van bewaringsgebiede. Skakel die natuurbewaringsdepartement by 012-341-1415.

 

© 2019 Die/The Bronberger