Koninklike kos by Garsfontein se sjefs Print E-mail
News - Vreethans
Saturday, 21 October 2017 18:20
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Ons waag dit op die laaste Saterdag van September die diep dorp binne. Wel, die hoeke van Garsfontein se Jacquelinerylaan en Serenestraat is seker nie vir almal erg diep nie, maar dis waar ons afsaal: By Chefs@566 se kuierplek in die sentrumpie wat al baie jare net daar staan.

Ons verneem dat die hoofsjef van die sjefs by Serenestraat 566 ‘n ou is wat al vir presidente, Britse koninklikes en ander baie belangrike persone gekook het. Nie sommer ‘n elkedagse hierjy-kok, is hy nie. Ons het verdermeer verneem dat die sjefs van Chefs uitsonderlike geregte optoor.


‘n Meksikaanse braairysgereg in taco-kegels

Jy kan plaasneem in die netjiese binnewerke van die kuierplek waar jy die sjefs in hulle oopplankombuis kan dophou terwyl hulle doenig is om jou kunskoskeuse te skep. Ons sit egter op die dek by ‘n stewige stoeptafeltjie aan. Die uitsig is wel op ‘n voorstedelike straat oor die parkeerplek heen, maar dis lekker oop en koel onder die sonsambreel.

By Chefs@566 kry jy ‘n ruim en verbeeldingryke kos- en drankkeuse wat op verskillende spyskaarte uitgespel word. Soos dit enige plek met ‘n rasegte kroeg sou betaam, spog die sjefs met ’n billike kroegspyskaart. Heel bo aan die lys van ‘n sestienstuks ‘ligte’ kroegetes staan: ‘Pulled pork pie with straw chips’ en dit laat my weer wonder . . .

‘Pulled pork’ is vark wat langsaam tot bykans murgsag gaargedoen is en dan met die hand uitmekaargetrek (pulled) word. Nou sou die logiese Afrikaanse beskrywing hiervoor tog ‘getrekte vark’ wees. Maar ‘getrekte vark’ lok onwillekeurig drogbeelde van ‘n dronk vent in ‘n voertuig wat onverskillig voor jou inswaai. En ‘gevlokte vark’, soos sommige dit wil noem, wil amper klink soos die einste getrekte vark nadat hy in ‘n paal of iets vasgejaag het.


Die kuierstoep van Chefs@566

Die pastei van getrekte vark kos R90. ’n Paar ander opvallende kroegetes is ‘American corn dogs’ (Amerikaanse mieliehonde?) teen R65, ‘pork belly bites’ (varkpenshappies?)  teen R85 en springbok carpaccio (dito) teen R65.

Ek het vanoggend net ‘n bakkie jogurt en vrugte genuttig en al is dit al middag verby, bly my aandag vasgenael op die erg ‘anderste’ ontbytspyskaart: Teen R60 kan jy ‘n soutwafel met roereiers, brosgebraaide spek en sampioene, met ‘n sheba-toebroodjie op die koop toe, kry.

Die swaargewig onder die ontbytkeuses noem hulle ‘appetites breakfast’ en dit klink ideaal vir ‘n honger ou: Geroosterde beesworsies (Australiese ‘chipolatas’), gekruide droë beesskaafsels (sou dit biltong wees?), bottersampioene, brosgebraaide spek, twee roosterbroodjies, drie gebakte eiers, ‘macon’ (soos spek maar van lam) en boontjies ala tjillie: ‘n Hele mondvol teen R110.


Aansitplek vlak by die oopplankombuis

Ek vra die vriendelike kelner of ontbyt in hierdie laat uur van die dag moontlik is en hy sê dit is. My keuse val op die varsgemaakte Duitse rösti-ontbyt. Die aartappelkoek is nie plat en bros soos ek dit ken nie, maar ‘n heerlike, sagter dikker weergawe daarvan. Kunstig gestapel op die aartappelgedoente is roomkaas met grasuie, sampioene, gerookte salm, bros spek, ‘n gebakte eier (ek vra en kry twee) en ‘n pikante hollandaise-sous. Dit kos R60. Lekkerder het ek lanklaas.

Ek weet nie mooi waar Metgesel haar keuse loop kry het nie, want die sjefs spog met ‘n dagspyskaart, ‘n aandspyskaart en ‘n spesiale swartbordspyskaart bokant die oopplankombuis. Voorgeregte by die dosyne, hoofgeregte wat jou vir lank kan laat kopkrap en meer as ‘n handvol hemelse nageregte.

Hoe dit ook al sy, Metgesel bestel ‘n Meksikaanse dis van gebraaide rys met gekapte tamatie en kookeier toegevou in ‘n taco (mieliepannekoek) of twee. Sy dring daarop aan dat ek moet proe en ek kan haar geesdrif oor dié volksvreemde gereg met sy vriendelike rissiebrandsmakie verstaan. Dit kos R60 en is baie vullend en bevredigend.


Ontbyt van Duitse rösti en allerlei

Weens die ewige plekgebrek noem ek nog net enkele geregte uit die onderafdelings van die verskillende spyskaarte, wat jou hopelik ‘n blik op die uitsonderlike eetervaring wat Chefs@566 bied, sal gee:

Voorgereg aand: Bloukaas, peer en beet Napoleon (blaardeeg) – R55.

Hoofgereg middag: Australies geïnspireerde schnitzel van hoender of bees. Dit word voorgesit op fyngemaakte soetpatats met amandel en kaas met sampioenroom en julienne-groente. Dit weeg in teen R90.

Hoofgereg aand: Langsaam geroosterde Griekse lam met tapenade, gremolata (sousighede), op ‘turned’ knoffel en goue ‘naráta’ – en ek weet regtig nie wat laasgenoemde  is nie, maar dit klink na my soort dis en dit kos R185.

Nagereg: Diep gebraaide eclair-roomys met botterkaramelstroop: R59.

As jy afsaal by Serenestraat se sjefs moet jy rustig en geduldig wees. Alle geregte word van voor af en voor jou oë voorberei. Die plek het ‘n ‘vol’ dranklisensie en wynkeuse is wyd en erg wisselend in prys.

Geniet solank ‘n ietsie of van die heerlike koffie terwyl jy wag.

O, ja: Metgesel berig dat die draailoopplek mooi, skoon en netjies is. Metgesel is mos van mening dat jy enige kuierplek beslis op sy draailoopplek se baadjie kan takseer.
Jy kan die Chefs bel by 012-998-8615.

 

© 2024 Die/The Bronberger