Van ‘n tragedie tot ‘n groot nageslag Print E-mail
News - Toeka se dae
Saturday, 21 October 2017 18:19
Untitled Document

Vir diegene wat in die verlede grou, wag daar nie altyd aangename verassings nie. Só sê Henk Smit oor die soektog na sy oupagrootjie se pa. Tog hoop hy dat sy verhaal ander sal inspireer om hulle eie familie-soektog te begin.

Henk Smit

Dit het my altyd gepla dat my oupagrootjie se pa, Jan Hendrik De Beer, op ‘n skamele 38-jarige ouderdom oorlede is in 1882. Ek het die familiebegraafplaas op Hartbeesfontein (Brits), deursoek maar net sy vrou se graf gevind.

Om sy vroeë sterfte te verklaar, raadpleeg ons sy boedel. Sonder inspanning word die boedel by die staatsargief in Pretoria opgespoor. Die boedel vertel meer van wie sy vrou was, waar hy gebore is en dat hy een kind, Jan Adriaan, gehad het.

Oor sy dood egter, is daar slegs twee brokkies inligting: sy sterfdatum was 7 Desember 1882 in Middelburg-distrik. Of sy einde die gevolg van siekte, ongeluk of oorlog was, word nie verklap nie.


Jan en Lot De Beer se troufoto: 23 Januarie 1888

Mapoch
Daar was ‘n hele aantal oorloë in die vroeë jare van die ZAR. Burgers is opgeroep om aan die oorloë deel te neem en moes hulle eie vervoer en wapens verskaf. Die enigste oorlog wat op Jan Hendrik De Beer se sterfdatum gewoed het was die Mapoch-oorlog en het grotendeels nie ver van Middelburg afgespeel nie. Uiteindelik ‘n spoor om te volg.

Kortom was die oorsaak van die Mapoch-oorlog Nyabela wat vesting verleen het aan Mampuru, ’n aanspraakmaker op kapteinskap van die Ba-Pedi-stam van Sekhukhune, nadat Mampuru sy halfbroer Sekhukhune in 1882 laat vermoor het.

Generaal Piet Joubert is gestuur om Mampuru aan te keer en oorlog het uitgebreek. Die gevolg van die oorlog was dat Nyabela ter dood veroordeel is, maar die vonnis is versag tot lewenslank. Hy is in 1898 vrygelaat.

Mampuru was nie so gelukkig nie en op Donderdag 22 November 1883 is hy voor die tronkgebou in Pretoria-Wes gehang. Nyabela en van sy volgelinge het hulle in die Derdepoort-omgewing gevestig.


Jan Adriaan De Beer regs, met bokbaard, by die bou van die kanale rondom Hartbeespoortdam
in die 1920’s en 1930’s
Bron: Ella Smit

Leidrade
Met die bronnesoektog uitgeput begin ek uit frustrasie sommer lukraak nommers in Roossenekal bel vir hulp. Ná ‘n paar oproepe kry ek die naam Hentie Joubert. Angstig bel ek hom, want hy is glo ‘n kenner van die Mapoch-oorloë.

My soeke word beloon met twee leidrade wat Hentie verskaf. Die eerste bron is die brief wat op die slagveld deur Trichardt geskryf is en aan generaal Joubert gestuur is. Daar was iets ‘heilig’ aan die oorspronklike brief, wat ons sonder moeite by die staatsargief onder oë gekry het.

Die brief beskryf die ongelukkige toedrag van sake. My oupagrootjie se pa se geweer het afgegaan toe hy geroep was om wag te staan en dit het sy lewe gekos. Ons het die artikel, wat dié treurige gebeurtenis beaam, in die ‘Volkstem’ by die Staatsbiblioteek bekom.

Ons kon nie sy graf in Middelburg opspoor nie, want die grafrekords was verlore. Al die grafte uit 1882 is egter naby mekaar geleë.


Replika van ‘n ossewa deur Jan Adriaan in 1945 gemaak, in besit van Joanni De Beer

Jan Adriaan
Ek het nooit die voorreg gehad om Jan Hendrik se seun, my oupagrootjie, Jan Adriaan, te ken nie. Jan Adriaan se lewe weerspieël die lewens van talle Afrikaners van daardie moeilike tyd van ons geskiedenis. Sy ma het ná Jan Hendrik se dood getrou met ‘n Viljoen, wat die familieplaas Strydfontein verkoop het.

Dit was maar die begin van die ontberings wat vir Jan Adriaan toegedeel was. Jan het egter opgestaan en suksesvol begin boer. Hy het met Aletta Sophia (Lot) De Beer (‘n nooi Van Staden, gebore  08/05/1869) getrou.

Tog was moeilike tye net om die draai. Die tweede Engelse Oorlog het uitgebreek en hulle plaas is verbrand en diere uitgemoor. Die De Beer-gesin het in die Irene Konsentrasiekamp beland, maar met die Heer se genade het nie een gesinslid gesterf nie.

In die hart van die winter van 1902 is hulle terug na die plaas. Daar kon met dit wat oorgebly het maar net nie weer ‘n lonende boerdery op die been gebring word nie. Die plaas is ook van hulle ontneem.


Elsje Magrietha Viljoen (GB Horn) 1846/10/20 – 1925/11/02

Kanale
Genade kom egter vir die De Beer-gesin deur Hertzog se planne vir werkverskaffing met die bou van die Hartbeespoortdam en kanale. My oupagrootjie het aan die kanale, wat steeds werkend is, help bou en die hele Brits-omgewing deurkruis.

Vandaar loop die spoor ’n bietjie koud, maar as ek reg verstaan het hy toe ‘n werkswinkel vir waens saam met my ander oupagrootjie, Piet Van Staden, bedryf.

Lot sterf op 20 Januarie 1936 en Jan op 21 April 1954 en is ook in die begraafplasie op Hartbeesfontein begrawe.

Jan en Lot se kinders was: Jan Hendrik De Beer (1891/11/24–1961/06/01); Maria Elizabeth Kruger (1895/11/27–1965/07/10); Ella Magrietha Van Staden (1898/03/04–1973/09/26); Aletta Sophia De Beer (1900/05/29–1908/09/29); Petrus Johannes De Beer (1903/ 01/ 27–1965/09/01); Jacobus Frederik De Beer (1905/08/10 –1967/04 /17); en Jan Adriaan De Beer (1909/01/17–1979/03/19).


Jan Adriaan se kerfwerk met sy verblyf in die Irene Konsentrasiekamp, in besit van Bella Appel

Tussen Jan Hendrik se dood en vandag het 135 jaar verloop. Tog het ek die oorspronklike slagveldkorrespondensie in my hande gehad. Die koerant van 1882 met sy naam in was nog beskikbaar.

Sy vrou se grafsteen staan nog, gekerf deur my oupagrootjie met ‘n knipmes. Ook het ek die handewerk wat Jan Adriaan in die konsentrasiekamp gemaak het hanteer en sy replikas van ossewaens gesien.

Bo alles het ons kontak met baie van Jan en Lot se nasate. Hulle is vandag nog ’n hegte groep en op ‘n maandelikse basis word daar byeengekom en soos in die goeie ou dae gekuier.

Met dié word die gaping tussen 1882 en vandag baie nou en as ek een van julle laat lus kry het om in julle familie se geskiedenis te delf, was alles die moeite werd.

 

© 2024 Die/The Bronberger