Luiperd het Bapsfontein se wêreld op hol PDF Print E-mail
News - Artikels
Saturday, 21 October 2017 16:19
Untitled Document

‘n Luiperd wat glo al jare lank deur inwoners van Bashewa en Tierpoort gesien word, is op 25 September buite Bapsfontein gepyl en gevang. Hy is later in die Dinokeng Groot Vyf Wildreservaat noord-wes van Cullinan vrygelaat, waar sy bewegings deur ‘n halsbandsender gemonitor word.

Die vang-drama het amper op ‘n tragedie uitgeloop toe die luiperd die veearts wat hom gered het, stormgeloop het. Dr Pieter Engelbrecht, ‘n veearts van die Bapsfontein Dierehospitaal en ster van die televisiereeks ‘Dieredokter’ op kanaal Via, sê die drama het die oggend begin toe ‘n vrou van die Elandsfontein-kleinhoewes gebel het om te sê daar is ‘n luiperd in haar tuin.


‘n Greep uit die video wat wys hoe die luiperd op dr Pieter Engelbrecht afstorm
.
.


Dr Pieter Engelbrecht gee die luiperd medikasie om sy kragte op te bou by die dieretuin waar hy oornag het
Foto’s: Bapsfontein Dierehospitaal

Die luiperd het tussen die geboue aan die slaap geraak ná die verdowingspyl
.
.

Later was daar nog ‘n oproep van Derrick Dercksen van ‘n kleinhoewe op die Bapsfontein / Bronkhorstspruitpad (R25) nader aan Kemptonpark. Hy het gesien hoe die luiperd oor die pad voor sy plot loop en toe in ‘n boom klim. Pieter het vir Derrick gesê hy is op pad en het hom gevra om die luiperd dop te hou.

Die luiperd is uiteindelik tussen buitegeboue langs die Kaalfontein-pad 7 km buite Bapsfontein deur ‘n boer se honde vasgekeer. Pieter kon nie met die bakkie nader ry om die luiperd te pyl nie, omdat dit hom sou verjaag. Hy moes dit te voet nader waag omdat hy die luiperd nie op ‘n afstand deur die draad met die verdowingspyl kon skiet nie.


Pieter ondersoek die slapende luiperd

Die heining was egter lendelam en toe die pyl die luiperd tref het hy met ‘n geweldige spoed op Pieter afgestorm. Die heining het gelukkig gehou, die luiperd het omgetol en het by ‘n ander plek onderdeur die heining gekruip en tussen geboue verdwyn.

“As die draad nie daar was nie sou ek dit nie eers oorweeg het om te voet nader te gaan nie,” sê Pieter. “Daar was darem ’n ‘wingman’ met geweer wie se mandaat was om te skiet indien die luiperd deur die draad breek. Ek het die moontlikheid van ‘n stormloop verwag, maar dit was nieteenstaande vreesaanjaend,” sê hy.


Die luiperd word gereed gemaak om vervoer te word

Die luiperd word opgetel
.

Pieter verduidelik dat dit omtrent 10 minute neem vir die verdowingsmiddel om in te skop. Die slapende luiperd is tussen die geboue waarheen hy gevlug het, gevind. Die enigste beserings wat hy opgedoen het is toe die boer se Jack Russel-honde hom aan sy agterbene beetgepak het terwyl hy geslaap het.

Die luiperd het daardie nag in ‘n dieretuin deurgebring, waarna hy ‘n halsband gekry het en na die Dinokeng Groot Vyf Wildreservaat vervoer is.


Die slapende luiperd agter in die Pieter se bakkie

Volgens Pieter is die luiperd ‘n vyf tot ses-jaar-oue mannetjie wat 80 kg weeg. Vreemd genoeg het stedelike koerante bespiegel waarvandaan die luiperd kon ontsnap het. Luiperds hou van bergagtige terrein en dié een kom waarskynlik uit die Bronberg.

‘n Manlike luiperd se gebied kan groter as 100 km wees en Liesl McGee het gesê dat minstens een luiperd al vir jare in Bashewa en Tierpoort rondloop. Sy het gesê dat almal dié luiperd wou skiet, so sy is bly die verhaal het goed geëindig en dat niemand in die vangproses beseer is nie.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online