Ryk oom leer ballonles Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Saturday, 21 October 2017 18:16
Untitled Document

Om die lang vermoeiende stofpad en hitte draagliker te maak, sê Koos Reynecke, het sy pa destyds ‘n storie aan sy span uitgeputte kindertjies in die motor vertel:

Sy pa, Kobie, en dié se boetie, Dot, het ‘n sendelingpa (Koos se oupa) gehad en die gesin had dit nie te breed nie. Die boeties se pa het ‘n ryk, kinderlose broer, Arra, gehad en dié oom van hulle vat die twee knapies op ‘n dag saam na ‘n groot stadswinkel toe, sê Koos.

Die ryk oom sien hoe die boeties smag na al die speelgoed in die winkel. “Kies vir jou enige geskenk,” sê die gesiene oom vir elkeen van hulle. Die jongste, Dot, kies vir hom ‘n blinknuwe driewiel. Nadat hy lank gedink het, kies die oudste seuntjie (Koos se pa) eindelik ‘n ballon: Net een enkele ballon.

Terug by hulle ouerhuis bars die oudste seun se ballon nog dieselfde dag en sy ma vra hom: “Hoekom het jy nie ook soos jou boetie ‘n meer duursame geskenk gekies waarmee jy langer sou kon speel nie?” En die sesjarige Kobie antwoord: “Mamma, ek het oom Arra jammer gekry toe boetie so ‘n duur persent kies en toe vat ek maar ‘n ballon.”


Ouboet Kobie kry ‘n beurt op die driewiel terwyl kleinboet Dot op ‘n sleepwaentjie sit.
Die foto is 93 jaar gelede geneem

Nou sê Koos sy pa het vertel hoe Koos se ouma die ryk oom aangevat het oor hy toegelaat het dat haar oudste seun met so ‘n karige geskenk tevrede moes wees terwyl sy boetie ‘n duur driewiel gekry het. Die oom het egter volstaan by sy ‘leersame besluit’ en het gesê dat dit vir die ouer seun eintlik ‘n les moes wees om beter te dink voor hy in die toekoms oor iets besluit.

Koos se pa het daardie dag op die stowwerige langpad vertel dat sy kinderlose, ryk oom baie jare later eers werklik verstaan het watter onselfsugtige, weldeurdagte keuse die ‘ballonseuntjie’ gemaak het.

In die jare wat gevolg het en tot op sy sterwensdag, het die ryk oom altyd raad en advies by die ballonseun gevra as belangrike, of selfs minder belangrike besluite geneem moes word, sê Koos Reynecke.

Koos vertel dat die jongste boetie, Dot, darem gereeld sy ouboet, Kobie, op die driewiel laat ry het, soos die foto hierby van getuig.

 

© 2024 Die/The Bronberger