Twee dooie muskeljaatkatte is in ‘n sementsak op die Zwavelpoort-teerpad gevind.
Wieske van Zyl het op 28 September in die verbygaan gesien dat dit lyk asof ‘n kat se stert by die sak uitsteek. Sy het haar voertuig omgedraai om te gaan ondersoek instel en het gesien dat die muskeljaatkatte altwee dood was met bloed aan die agterlywe.
“Ek weet nie of die sak van ‘n bakkie afgeval het en of dit net in die pad neergegooi is nie,” sê Wieske.
“Dit lyk asof hulle doodgeslaan of geskop is, maar ‘n mens weet nie of hulle in ‘n strik of vanghok gevang is of dalk vergiftig is nie.”
“Dis vir my so goor,” sê sy. “Daar is so min wilde diere hier oor.”
Wieske het die grusame fonds afgeneem voor sy die twee katte begrawe het. Altwee is grootkolmuskeljaatkatte.
Die dooie grootkolmuskeljaatkatte wat in ‘n sementsak op die Zwavelpoort-teerpad gegooi is
Foto: Wieske van Zyl
Verskil
Dit is nie altyd maklik om binne ’n oogwink die verskil tussen ’n kleinkol- en grootkolmuskeljaatkat te sien nie. Die kleinkolmuskeljaatkat, Genetta genetta, het klein kolle, swart agterpote, ’n wit stertpunt en ’n kuif swart hare vanaf die skouers tot by die stertbasis. Hy weeg 2 kg en is 95 cm lank.
Die grootkolmuskeljaatkat, Genetta tigrina, weeg 1,5 tot 3,2 kg en hy is tot 110 cm lank. Hy het ‘n grys pels met groter kolle, ‘n swart-en-wit-stert en sy stertpunt is swart. Sy snoet is wit en hy het wit kolle onder die oë. Katte wat in gebiede met ‘n hoër reënval bly is donkerder as katte in droër gebiede.
‘n Grootkolmuskeljaatkat het groter kolle en sy stertpunt is swart
Foto: Fourways Review
Muskeljaatkatte begin ná donker prooi soek en vreet knaagdiere, voëls, visse, spinnekoppe, skerpioene en insekte. Dié katte vreet gereeld gras, wat met vertering kan help deur van hare in die ingewande ontslae te raak. Die grasvretery veroorsaak ook braking, wat help om van gifstowwe ontslae te raak, maagirritasie te verminder en keelontsteking te verlig.
Die grootkolmuskeljaatkat het sterk muskuskliere waarmee hy sy grondgebied merk.
‘n Kleinkolmuskeljaatkat het klein kolle, swart agterbene ‘n wit stertpunt
Foto: mywild
|