CVO Skool Pretoria is kwarteeu oud PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Saturday, 21 October 2017 15:59
Untitled Document

Die hoewe waarop die CVO Skool Pretoria staan is vroeg in Desember 1991 vir die ‘yslike’ prys van R320 000 aangekoop. Plot 1 van gedeelte 373 JR in Zwavelpoort was toe ver buite die stad en CVO leerlinge het oor die jare gesien hoe die stadsgrens al hoe nader kom.

Daardie Desember van 1991 het ouers die terrein en geboue in bruikbare ruimtes en klaskamers omskep, waarvan die grasdakgeboue vandag steeds vir die kleuterskool en sommige van die seniorklasse gebruik word.


Die oorspronklike grasdakgebou

Die skool het op 22 Januarie 1992 met 36 leerlinge en sewe onderwysers geopen. Op 14 Februarie 1992 het die skool berig ontvang dat die destydse TOD die aansoek van die skool as onafhanklike skool goedgekeur het en op 27 Februarie 1992 het die amptelike opening van die skool plaasgevind.


Die skool se eerste personeel en leerlinge in 1992

Die ontstaan van CVO Skool Pretoria het reeds in 1989 begin toe die Raad vir Christelik-Volkseie Onderwys op 15 Maart van daardie jaar gestig is. Dié raad het dit ten doel gehad om CVO-skole regoor die land te stig. 


’n Klaskamertent wat in 1994 as wiskundeklas gebruik is

Die skool se eerste huissport-atletiekbyeenkoms was in 1994, die eerste matriekgroep en -afskeidgeleentheid was in 1995 en die eerste kaskarwedren en registrasie van die skoolwapen in 1999.  Die skool het vanaf 1997 die BCVO se matriekeksamen wat deur SAFSERT goedgekeur was, begin skryf. 


Die sportvelde is in 1999 voorberei en gras is geplant

Die skool gaan steeds voort met nuwe ontwikkelings, soos die hotelskool wat in 2015 geopen is. Daar is vandag nog vier personeellede in diens wat in 1993 en 1994 aangestel is.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online