Tekens van die tye . . . PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Saturday, 21 October 2017 15:57
Untitled Document

“Pas asseblief ons pad op,” het ‘n eg plattelandse teken in 2002 sy eensame versoek aan inwoners van Zwavelpoort oorgedra. Destydse inwoners het dié pad uit hulle eie sak geteer en onderhou.

Op die foto wat in 2007 geneem is, kan duidelik gesien word hoe die wêreld aan die suidelike kant van die Bronberg verander het. ‘n Verlore stryd is toe deur ‘n handjievol inwoners gevoer om die paadjie te midde van die daaglikse vernietigingsaanslag van swaar vragmotors, rybaar te hou.


Die teken by die T-aansluiting van Saalstraat met Achillesweg in 2002. Dit lees: “Pas asb ons pad op. Ry oor die hele pad. Moenie jaag nie. Baie dankie.

Die pad-wat-opgepas-moes-word, Achillesweg, het deur die jare verswak, is oorgeteer en weer deur buite-bronne opgegrou en oorgeteer en vandag bestaan die plattelandse versoek-tekentjie glad nie meer nie.


In 2007 is die teken bykans nie sigbaar nie. Die hordes advertensieborde dui op die ontwikkelingsontploffing wat daar toe was

Zwavelpoort suid van die berg bestaan uit ‘n groot aantal landgoedontwikkelings, min van die oorspronklike hoewes is nié onderverdeel nie en van plattelandse waai-en-groet as jy iemand sien aankom op ‘n pad wat jy self onderhou, is daar ook maar min oor.


Die T-aansluiting in 2017 wys dat die teken heeltemal verdwyn het en vervang is met ‘n advertensiebord van ‘n trouplek in die omgewing
Foto: Tania Potgieter

Ironies is dit dat bykans al die nuwe ontwikkelings ‘Zwavel’ as deel van hulle naam dra en  ‘n verbeeldingryke uitbeelding van ‘n swaeltjie of swaeltjies is op die naamborde aangebring. Dit terwyl Zwavelpoort sy naam te danke het aan die sterk swaelinhoud van die grondwater.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online