Bronnie se lesers laat hulp instroom PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Saturday, 21 October 2017 15:56
Untitled Document

Lesersreaksie uit ‘n Bronberger-berig het skenkings vir behoeftiges laat instroom.

In ‘Ysterperdryers bied helpende hand vir haweloses’ in ons Julie-uitgawe het ons berig dat ‘n groep motorfietsryers Bronnie-lesers se hulp vra om uit te reik na ’n tehuis vir getraumatiseerde en hawelose mense net buite Rayton.


Dié skenkings is op 21 September deur ’n Samaritaan afgelewer

Elouise Roos van Grootfontein-landgoed is deel van die motorfietsgroep, Silent Soldiers MC, se Centurion-tak. Sy sê dat mense hulle harte en kaste oopgemaak het en dat soveel skenkings ingestroom het dat die groep wyer as net die Rayton-gebied kon help.


Uit dié sakke het 19 huisgesinne klere gekry. Groottes het gewissel van ses-maande oue
babas tot mans, nommer 42

“Ek wil julle graag op hoogte hou van wat met julle skenkings gebeur het. Ons was ook in staat gestel om amper 50 gesinne te klee, ‘n rekenaar en drukker aan ’n vrou te skenk sodat sy ’n inkomstetjie kan genereer, ’n paar kospakkies te gee, babakombersies en speelgoed te gee en kontak te maak met mense wat bereid was om die skenkings vir ons gratis af te lewer,” sê Elouise.


Elke mens se klere word volgens grootte uitgesoek sodat geen skenkings gemors word nie

Selfs ‘n kinderhuis in Pretoria het speelgoed gekry en in die tweede laaste week van September het hulle ‘n rystoel gegee aan ‘n 18-jarige meisie met nierversaking, wat al vier jaar lank vir ‘n rystoel wag.

“Die Silent Soldiers wil graag elke een wat geskenk het uit die diepte van ons harte bedank vir julle bydrae,” sê Elouise.


Elouise verduidelik dat die kat nie met die bakkievrag saamgaan nie. Sy is hulle ‘kwaliteit-beheerder’

Silent Soldiers is aanvanklik gestig om te help met die trauma waardeur jong mans, wat tussen 1966 en 1989 in die grensoorlog was, gegaan het. Baie van dié wat dit lewendig terug gemaak het, het gesukkel om weer in die samelewing aan te pas.  

Silent Soldiers se Elouise Roos kan gebel word by 082-767-9510 of Kenny Kemp, president van Silent Soldiers MC se Centurion-tak, by 079-918-0480.

.
Nog ’n rolstoel op pad na ’n behoeftige saam met 20 gesinne se klere en speelgoed vir ’n kinderhuis

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online