Dringende aansoek teen munisipale kantore afgekeur PDF Print E-mail
News - Aktueel
Wednesday, 18 March 2009 06:22
Untitled Document

’n Regter het beslis dat die stadsraad van Kungwini kan voortgaan met die bou van ’n multimiljoen rand kantoorkompleks in Shere. Dit volg ná die belastingbetalersvereniging van Shere aansoek om ’n dringende hofbevel in die hooggeregshof gebring het, wat Kungwini sou verhoed om met die bouwerk voort te gaan.

Regter Makgoba het beslis dat die aansoeker, Shere se belastingbetalersvereniging, hom “nie oortuig om ’n dringende bevel toe te staan nie”. Of dit reg was of nie van Kungwini om die kantore op te rig, is nie vir dié hof om te besluit nie, het die regter gesê.

Bouwerk aan die kantoorkompleks is begin sonder dat inwoners en ander belanghebbendes behoorlik vooraf daaroor ingelig is en sonder dat enige omgewings-impakstudies vooraf gedoen is.


Bouwerk duur voort aan die gewraakte munisipale kantore in Shere

In ’n sterk bewoorde verklaring spreek die vereniging sy teleurstelling oor die beslissing uit. Regter Makgoba het volgens hulle nie die totale afwesigheid van enige vooraf waarskuwing, openbare deelname of omgewingstoestemming in ag geneem nie. Die verklaring verwys verder na die ‘duidelik onwettige’ oprigting van munisipale kantore op ’n landbouhoewe en die inbreek wat gemaak word op die belange van die eienaars van private eiendom. Daar word ook na Kungwini verwys as ’n bankrot munisipaliteit wat al sy statutêre verpligtinge ignoreer.

In sy uitspraak het Regter Makgoba gesê daar blyk na sy mening party politieke motivering by die aansoeker te wees. Hy het ook gesê dit blyk, volgens Kungwini, of R5 miljoen reeds op die gebou spandeer is. Dit sou ’n mors van belastingbetalersgeld wees om die bouwerk nou stop te sit.

Shere se belastingbetalersvereniging betwyfel die feit dat R5 miljoen reeds aan konstruksiekoste uitgegee is. Die regter was ook van mening dat raadslid Dawie Pretorius oor die beplande gebou ingelig is, en dat hy op sy beurt die inwoners daaroor sou inlig.

Intussen het die kantoor van GDACE bevestig dat daar geen rekord van enige omgewingstudies is wat gedoen is voor daar met die munisipale kantore se bouwerk begin is nie.

 

 

© 2019 Die/The Bronberger