‘n Vaalbontjie van formaat PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Saturday, 21 October 2017 15:52
Untitled Document

Engelse voëlkykers noem die groot aantal klein vaal voëltjies, wat so moeilik is om uit mekaar te ken, ‘Little Brown Jobs’ of LBJ’s. In Afrikaans is hulle ‘Vaalbontjies’. Tog is daar een ‘Vaalbontjie’ wat redelik maklik is om te herken oor die kenmerkende manier waarop hy sy stertjie regop hou of heen en weer swaai.

Die bruinsylangstertjie, Prinia subflava, is ’n algemene, wydverspreide standvoël in boomveld en digte, welige plantegroei. Hy is 13 cm lank met ‘n lang, smal stert en weeg 9 gram.

Die bruinsylangstertjie kan met ‘n nie-broeiende swartbandlangstertjie verwar word, maar hy het ‘n wit bors en keel, ‘n dofgeel tot oranje onderstert en kloaak en die rande van sy vlerke is roesbruin. Die geslagte lyk eenders en onvolwassenes lyk bykans soos die volwassenes.


Die bruinsylangstertjie
Foto: outdoorphoto

Dié voëltjies is nuuskierig en sal tot aan die bopunt van ‘n graspol klouter en begin skel as hulle iets vreemds raaksien. Die skellery gaan met ‘n stertswaaiery gepaard en gebeur om ander voëltjies in die groep nader te lok. Die roep is ‘n reeks vinnig herhalende ‘przzt-przzt-przzt’-note en harde ‘tjrzzzt’-note.

Bruinsylangstertjies word gewoonlik in pare gesien en soek naby die voet van graspolle kos. Hulle kan ook in klein swerms deur struike en digte gewasse agter kos aan beweeg en vreet insekte en ander ongewerweldes asook die nektar van sekere aalwynspesies, soos Aloe greatheadii en Aloe ferox.

Die broeiseisoen is amper dwarsdeur die jaar, maar piek van November tot Maart. Die mannetjie en wyfie bou saam aan die nessie, wat ‘n peer- of ovaalvormige struktuur met ‘n ingang aan die sykant is.


Boumateriaal word vir ’n lente-nes ingesamel

Dit word gebou van geweefde groen gras, wat later ligbruin word as dit uitdroog.

Die nessie word gewoonlik met gras aan ‘n paar regop grasspriete, lote, riete of hoë struikstamme vasgemaak, baie kere bo-oor vlak water of klam grond.

Twee tot vyf eiers word gelê wat deur altwee ouers uitgebroei word. Die eiers se kleur wissel en hulle het bruin of pers spikkels op. Die eiers broei ná 13 tot 14 dae uit en die kuikens verlaat die nes ná 10 tot 20 dae.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online