Die Voortrekkers het die olienhout se bessies gebruik om diarree te behandel. Hulle het sy blare gebruik om tee te brou, het ink van die bessiesap gemaak en meubels en ornamente van sy hout.
Tradisionele medisynes wat van die olienhout gemaak word strek van oogbehandelings en tonikums tot medisyne om bloeddruk te verlaag, nierfunksie te verbeter en om ‘n seer keel te behandel.
Die olienhout, Olea europaea subspesie africana, is een van vier spesies van Olea in Suid-Afrika. In Latyns beteken die woord ‘olea’ olyf en die olienhout is baie na verwant aan die olyfboom, wat al op wortelstokke van olienhout geënt is.
Die olienhout
Foto: Plantbook
Stadig
Dié is ‘n stadig groeiende boom wat gemiddeld 10 meter hoog word. Tog is die hoogste olienhout in die land ‘n knewel van 17 meter hoog in die Brits-distrik. Omdat die olienhout byna orals kan voorkom, van berghange tot droë rivierbeddings, hang sy grootte af van waar hy groei. In beskutte klowe kan die boom baie hoog word, maar in droë, onbeskutte gebiede is hy meer struikagtig.
Die boom het smal, vaalgroen blare. Die boonste oppervlakte is glansig met klein, grys steunblaartjies en die onderkant is ‘n dowwe, bruinerige groen bedek met bruinerige skubbe. Die blaartjies se rande vou altyd na onder.
Die wit tot groenerige blommetjies word van Oktober tot Februarie in los okselknoppe of eindtrosse gedra. Hulle word van Maart tot Julie gevolg deur bessies wat aanvanklik groen is met wit kolle op, maar wat later geel en dan donker pers word as hulle ryp is.
Die ryp bessies
Foto: Kumbul
Vreet
‘n Verskeidenheid voëls en diere soos ape, bobbejane, muishonde, bosvarke en vlakvarke vreet die vrugte. Tog is die vruggies bitter en smaak glad nie soos wat ‘n mens verwag olywe moet smaak nie.
Die boom se hout het ‘n fyn tekstuur en is baie hard, swaar en sterk. Dit word in die vervaardiging van meubels, ornamente, houtlepels en hoekpale gebruik. Die olienhout het ‘n enkele stam en ou stamme is omtrent altyd knopperig met duike en groewe in.
‘n Mens kan ‘n olienhoutboompie kweek van saad wat in riviersand gesaai word of van stiggies. As die saailing uitgeplant word, moet baie kompos bygevoeg word en ‘n dik laag organiese materiaal, soos droë blare, moet rondom die boompie gepak word om die grondoppervlakte te beskerm. Die boom moenie te veel water kry nie en moenie te naby aan ‘n muur of swembad geplant word nie, omdat sy wortels krake kan veroorsaak.
Die olienhout is ryp-, droogte- en wind-bestand. En hoekom die liedjieskrywer wou sing oor ‘slange in olienhoutbome’, bly ‘n tergende geheim.
Die olienhout is gewild as ‘n bonsai-boom
Foto: webproxp
|