Almal hoor die piet-my-vrou in die somer roep, maar min mense sien hom. Angie Flynn van Shere was gelukkig genoeg om twee van hulle voortydig in haar tuin te sien.
Die piet-my-vrou het vanjaar vroeër as gewoonlik begin roep, net soos die jakarandas wat sommer al in September begin blom het en die eerste somerreën wat lank voor Paul Kruger se verjaardag geval het.
Die piet-my-vrou sit in die Flynns van Shere se jakarandaboom
Foto’s: Angie Flynn
Angie het die twee piet-my-vrou-voëls op Paul Kruger se verjaardag in haar tuin afgeneem. Sy het die foto’s vir die Bronnie gestuur en gesê: “Ek wil gou vir julle wys hoe absoluut bevoorreg ek vanoggend was. Dit was ’n eenkeer-in-’n leeftyd se gelukskoot aangesien ek weet baie min mense het al ’n piet-my-vrou gesien.”
Die piet-my-vrou is ’n somerbesoeker wat stil-stil in die laat lente by ons aankom. Hy begin eers ’n rukkie later roep as die broeiseisoen begin. Die driftige roep neem af soos wat die seisoen loop en vroeg in die nuwe jaar word die note langer, meer uitgerek en minder kenmerkend, soos ’n koekoek-horlosie wat besig is om af te loop. Teen einde Januarie is hy feitlik stil en teen einde Februarie is hy weer weg na sentraal Afrika.
Dit is baie raar om twee piet-my-vrou-voëls saam te sien – wat nog te sê, af te neem
Die piet-my-vrou is ’n parasitiese broeier wat ’n enkele eier in die neste van ander voëls lê, gewoonlik die janfrederik. Hulle kan ook eiers lê in lysters, vlieëvangers, bontrokkies en die bergklipwagter, swartpiek, dassievoël en Hererospekvreter se nessies.
Die koekoek-eier broei gouer as die ander uit, sodat die piet-my-kuiken van die ander eiers ontslae kan raak. In sommige voëlspesies se nessies, raak hy nie van die eiers ontslae nie, maar wag tot hulle uitgebroei het. Die kuikens word dan op die piet-my-kuiken se hol rug oor die rand van die nessie gestoot.
Kop omhoog is dié voël besig met sy bekende piet-my-vrou-roep
Met die onverdeelde aandag van sy stiefouers groei hy vinnig en verdwerg hulle naderhand. Op 10 dae is die piet-my-vrou twee keer die grootte van ’n volwasse janfrederik. In dié stadium sit die janfrederik gewoonlik op die kuiken se rug om hom te voer.
|