Duiwe baljaar in sproeier-water PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Saturday, 21 October 2017 15:47
Untitled Document

In ‘n Bronbergse tuin speel tortelduiwe, rooiborsduiwe en kransduiwe soos kinders in die sproeier se water. Dié duiwe gaan later sit en lig hulle vlerke een vir een op sodat die waterdruppels hulle lywe kan bereik.

Die kenners sê dat duiwe moet bad om van velskilfers en van ‘n oormaat olie op die vere ontslae te raak. Velskilfers is nie ‘n slegte ding nie – dit wys dat die duif ‘n gesonde gestel het. Die vel ondergaan aanhoudend ‘n verjongingskuur deurdat die ou boonste laag in vlokkies afkom en deur ‘n nuwe laag vervang word.

‘n Duif sweet grootliks deur sy lugweë, maar daar is ‘n mate van vog wat deur sy vel afgeskei word. Stofdeeltjies versamel ook voortdurend op en tussen die vere, wat veroorsaak dat die vere na ‘n tyd verweer.

Daarom is ‘n bad een keer per week doenlik vir ‘n duif. Die probleem kom in as daar lang tye van droogte is en min waterbakke te vinde is. Dit is dan dat duif se kind sy lyf onder sproeiers in voorstedelike tuine laat stort.


Sodra die sproeier aangesit word, kom die duiwe nader om te stort

Tortelduif
Die gewone tortelduif, Streptopelia capicola, se naam kom van ’n swart vlek op die rug van hulle nekvere. Die res van die vere is ’n ligte bruin-grys, met donker kleure op die rug en wit punte op die einde van hulle stertvere.

Hulle is 25–32 cm lank en mannetjies en wyfies lyk eenders, hoewel die mannetjies effens groter is. Dié duiwe soek kos op die grond. Hulle vreet hoofsaaklik saad, maar sal ook insekte, veral vlieënde miere, verorber. Wanneer hulle op die grond loop, knik hulle koppe met elke stappie.

Rooiborsduif
Die rooiborsduif of lemoenduif, Streptopelia senegalensis, is nie bang vir mense nie en word dikwels op sypaadjies en in oop gebiede soos grasperke aangetref.

Dié duif is 22–24 cm lank en word van die groter tortelduif onderskei aan die afwesigheid van ’n swart agterkraag, sy swart gespikkelde halssnoer oor sy kaneelkleurige bors en aan sy kaneelkleurige rug.

In vlug is die kontras tussen sy blou-grys voorvlerke en kaneelkleurige rug opvallend en die wit punt en rande van die stert is duidelik sigbaar.

Wyfies is kleiner en ligkleuriger en jong voël is valer as volwassenes. Hulle vreet grootliks saad en graan, maar ook insekte en slakke.


Vlerke word omhoog gehou sodat die druppels die duif-lyf kan bereik

Kransduif
Kransduiwe, Columba guinea, het in groot getalle van hulle oorspronklike habitat van berge en steil kranse na dorpe en stede beweeg waar hulle saam met die wildeposduif woon. Daar word vermoed dat die twee genera soms kruisteel.

Die kransduif is 41 cm lank met ‘n rooibruin rug, witgespikkelde vlerke en blougrys romp. Die kop is grys en daar is rooierige, kaal vel rondom die oë. Die nek is bruin met wit strepe en die bene is rooi.

Die geslagte lyk eenders, en onvolwassenes is bruiner as volwassenes.

Kransduiwe versamel in groot getalle waar graan of grondbone beskikbaar is.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online