Miljoene liter drinkwater jaarliks vermors PDF Print E-mail
News - Aktueel
Saturday, 21 October 2017 15:37
Untitled Document

‘n Stukkende waterpyp reg langs Rayton se nuutste landgoedontwikkeling het oor die afgelope twee jaar meer as ’n beraamde 4 500 000 liter drinkwater vermors. En Rayton se inwoners moet daarvoor opdok, sê Willie Schmidt.

Willie het ‘n pyp onderdeur die stofpaadjie gelê waarmee hy en ander inwoners daagliks ry, om minder van ‘n modderbad te moet trotseer.


Jare reeds vloei die munisipale water vrylik en inwoners moet glo daarvoor opdok

Hy sê hy het die toedrag van sake agt maande gelede aan iemand by Rayton se munisipale kantore aangemeld en dié amptenaar het onderneem om dit dadelik met die ‘regte’ mense op te neem. Duidelik het daar niks van gekom nie.

Willie sê dit neem die stroompie water 14,01 sekondes om een literhouer vol te maak. Dit beteken dat 2 225 731 liter jaarliks uit dié ondergrondse pyp vermors word.

Die totale watertoevoer na Rayton word deur meters van Magalies Water gemeet. Rayton se inwoners betaal dus vir ‘n addisionele 2,25 miljoen liter water wat nutteloos wegdreineer, sê Willie.


‘n Pyp is onderdeur die paadjie gelê in ‘n poging om die munisipale modderbad aan te spreek
Foto’s: Willie Schmidt

Boonop word geweldig baie water daagliks met vragmotors na informele sektore weggery. Hierdie water word ook nie deur die munisipaliteit gemeter nie. Dit vorm dus ook deel van die oorhoofse waterverbruik van Rayton en die koste daarvan word deur die stadsraad van die inwoners verhaal, sê Willie.

Dit wil vir hom voorkom asof iemand verniet water kry omdat iemand anders so gaaf is om daarvoor te betaal – sonder om dit te weet . . .

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online