Stink drinkwater maak mense siek PDF Print E-mail
News - Aktueel
Saturday, 21 October 2017 15:36
Untitled Document

Vuil en stink munisipale water in Cullinan en Rayton het vanaf laat September tot in die tweede week van Oktober buikpyne en maagaandoening by honderde inwoners van die gebied veroorsaak.

Munisipale amptenare sou op 29 September vir ‘n tweede keer watermonsters neem vir toetse en waterpype uitspoel. Hulle het toe onderneem om die GPF van die omgewing te laat weet sodra dit weer ‘veilig’ is om die water te drink.

Teen druktyd (twee weke later) is nog geen tyding ontvang dat die drinkwater weer geskik vir menslike gebruik is nie. In dieselfde tydperk was dele van Bronkhorstspruit se munisipale water ook erg onwelriekend en modderig.


‘n Bad met munisipale water

Apteke en dokterspreekkamers het aan Die Bronberger bevestig dat ‘n toestroming van mense met klagtes oor kwaai buikpyne ervaar is.

Inwoners is omgekrap oor meer moeite nie deur die metroraad gedoen is om mense teen die gevare van die water te waarsku nie.

‘n Regskenner waarmee die Bronnie gepraat het, meen dat mense wat die ongerief en koste van ongesteldheid weens die drinkwater ervaar het, ‘n baie goeie saak sou hê indien hulle regseise teen die raad sou instel – veral weens die gebrek aan behoorlike waarskuwings teen die gevare van die water.


Kraanwater in Bronkhorstspruit se Riamarapark

Die water is deur mense van die dorpe beskryf as ‘vuil en modderig’. Sommige sê dit stink na ou damwater terwyl ander meen dit ruik muf – amper soos ou teesakkies. Mense is behandel teen buikpyne en sommige het glo velaandoenings en -uitslag ervaar.

Magalies Water se watertoring op Rayton is op Woensdag 11 Oktober leeg getap en skoongemaak in ’n poging om die probleem aan te spreek. Watertoevoer na dele van die dorp is onderbreek.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online