Jong vlieënier sterf toe vliegtuig val PDF Print E-mail
News - Aktueel
Saturday, 21 October 2017 15:35
Untitled Document

Die 28-jarige Werner Nel is op 6 Oktober dood toe sy ligte vliegtuig knap duskant Kitty Hawk Luglandgoed naby die Boschkoppad neergestort het.

Hy het glo neergestort kort ná hy opgestyg het en dit was teen Die Bronberger se saktyd nog nie bekend wat fout gegaan het nie. Meganiese toerusting is gebruik om Werner se liggaam uit die wrak te kry.


Die vliegtuig het naby die Boschkoppad knap duskant Kitty Hawk Luglandgoed neergestort
Foto: Verskaf

Werner het met vliegtuie grootgeword; sy pa was ’n vlieënier vir Suid-Afrikaanse Lugdiens en die eienaar en hoofinstrukteur by ’n Pretoriase vliegskool. Voor Werner sy opleiding kon begin is sy pa in ’n vliegongeluk in die Kongo dood.

Op die ouderdom van 17 het Werner met opleiding vir sy private vlieënierslisensie begin en in 2007 het hy begin werk aan sy kommersiële vlieënierslisensie.

In 2009, op die ouderdom van 20, was hy in ’n motorfietsongeluk wat byna sy lewe gekos het en sy regterbeen moes net bo die knie afgesit word. In die hospitaal het ’n goeie vriend vir Werner ’n teddiebeer gegee en jare later is ‘Flying Bear’, ’n nie-winsgewende instansie, gebore om jong mense wat ledemate verloor het te help om hulle drome te laat waar word.


Werner het weer begin vlieg ná hy ’n prostese gekry het
Foto: Flightline Weekly

Na jare van operasies en fisioterapie het Werner sy vlieglisensie met die hulp van instrukteur,  Jason Alexander, oorgedoen en kon op die ouderdom van 23 ’n vlieginstrukteur word. Die laaste paar jaar het hy verskeie vliegtuie as kommersiële vlieënier gevlieg en het vir Inter Africa Bureau de Change gewerk.

In 2016 het hy sy eerste kans gekry om lugtoertjies met ’n Russiese Yak-52 te doen, ná hy opleiding ondergaan het met die hulp van Neville Ferreira, Gary Gleeson en Bertus du Preez.


Werner Nel
Foto: Facebook

Later het Werner ’n Zlinl-50 gekoop, wat hy afgestroop het en van vooraf opgehou het om seker te maak dit is perfek. Sy droom was om lugtoertjies as publisiteit vir die ‘Flying Bear’ liefdadigheidsinisiatief te doen.

Werner het sy Zlin-50 vliegtuig op 1 Oktober, omtrent ’n week voor sy dood, vir die eerste keer gevlieg.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online