Die lief en die leed . . . PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Saturday, 21 October 2017 15:32
Untitled Document

Die lief en die leed van die lewe in Bronbergland word behoorlik deur die inhoud van dié uitgawe van die Bronnie weerspieël:

Op bladsy ses berig ons oor die tragiese afsterwe in ‘n vliegongeluk van ‘n merkwaardige jong vlieënier, Werner Nel. Werner se vasberadenheid om, ná hy sy been in ‘n motorfietsongeluk verloor het, weer sy vliegkuns te beoefen, kan dien as inspirasie vir baie.

Vuil drinkwater in drie dorpe van ons gebied veroorsaak ongesteldheid by baie inwoners, lui die berig op bladsy agt. Hoewel verbruikers nie behoorlik teen die watergevaar gewaarsku is nie, het dit teen saktyd darem geblyk of die owerheid werk daaraan om die probleem op te los.

Hartseer tyding op bladsy 10 is dat afskeid geneem word van een van ‘Plotville’ se kleurvolste en mees geliefde inwoners, Barbara (Barbs) Corinne Bennet. Barbs is vroeg in Oktober skielik aan hartversaking oorlede en die honderde huldeblyke en spesiale gedenkdag spreek van hoeveel lewens positief deur haar geraak is.

‘n Uitgevrete luiperd het die mense van die Bapsfontein-omgewing behoorlik op hol gehad. Op bladsy 12 begin ‘n foto-artikel oor dié drama wat ná heelwat kinkels tot ‘n gelukkige einde gekom het, toe die luiperdmannetjie in die Dinokeng-bewaringsgebied vrygelaat is.

Die Bronnie se lesers het hulle harte oopgemaak ná ‘n onlangse Bronnie-storie oor die nood waarin hawelose gesinne in die gebied verkeer. Op bladsy 14 kan gelees word hoe ons lesers die skenkings laat inrol het om dié gesinne se las te help verlig. Dit laat die hart warm klop.

Op bladsy 21 wys ons jou hoe sebras in ons wêreld deur twee vroueruiters getem is om as rydiere ingespan te kan word. Een van dié streepdonkies en haar ruiter pronk ook op dié uitgawe se voorblad.

Vir diegene wat in die verlede grou, wag daar nie altyd aangename verassings nie. In ‘Toeka se dae’ op bladsy 30 vertel Henk Smit oor die verassings wat sy soektog na sy voorgeslagte opgelewer het. Tog hoop hy dat sy verhaal ander sal inspireer om hulle eie familie-soektog te begin.

Ou Vreethans van Heerden wonder op bladsy 48 of die ‘pulled pork’ wat ‘n kuierplek in Garsfontein bedien, ‘n ‘getrekte vark’ in Afrikaans sou wees en in die laaste sê (‘the final word’) word gevra of ons werklik weet wie ons is.

Dié Bronnie se inhoud is deurspek met stories oor ons omgewing, ons mense en hulle dinge, ons deurbrake en teleurstellings en die diere wat die lief en leed van ‘n lewe in ons gebied met ons deel.

Dankie aan elke leser, adverteerder en medewerker wat nog ‘n Bronnie moontlik gemaak het.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online