Met dié terugblik op 15 toeka-stories kyk ons weer na die heel eerste skooltjies in ons kontrei, veldslae in die Bronberg, sirkusse wat ou Pretoria besoek het en die dag toe die Union Jack gekis en begrawe is. Ons praat oor melkboere, van die land se eerste melkboerin in die 1600’s tot die Mallesons se melkplaas, en onthou weer ons kontrei se bekendste spoke, ‘n konsentrasiekamp, vertel hoe ‘n verlore graf gevind is en hoe Boeregesinne na kolonies in Argentinië en Mexiko getrek het.
Goewermentskool
In Desember 2002 het ons by Dan en Debbie Durham gaan kuier wat die eertydse skoolgebou van die Mooiplaats Goewermentskool in ‘n woonhuis omskep het. Dié foto wys die klas van 1922 in die twee-man Goewermentskool, voorloper van vandag se Laerskool Tygerpoort.
Die skool is sover vasgestel kon word iewers om die draai van die vorige eeu tot stand gebring. In 1922 was die skooltjie 47 leerlinge en ’n paar leerkragte sterk. Die gebou staan nog op die hoewe langs die Boschkopse polisiekantoor.
Veldslae in die Bronberg
In Mei 2003 vertel ons van die Anglo-Boere-oorlogse veldslag van Witpoort op 16 Julie 1900. Na die slag van Diamond Hill van 11 tot 13 Junie 1900 – waaroor ons in Maart 2003 vertel het – het generaal Louis Botha se magte ooswaarts met die Delagoabaai-spoorlyn langs beweeg.
Hulle het by Balmoral, net buite Bronkhorstspruit, hergroepeer en na Pretoria begin terugbeweeg. Dié magte het vanaf die Pienaarsrivierstasie in ‘n halfmaan oos gestrek tot by Springs en het verskansings opgerig wat vandag nog op die riwwe vanaf Zwavelpoort en Tierpoort tot by Witpoort staan.
Op 10 Julie het generaal French met 7 500 kakies die Boere al langs die Bronberg aangeval. In die nag van 15 Julie het generaal Ben Viljoen se kommando nader aan die oostelike Britse stellings by Witpoort beweeg.
Teen dagbreek het hulle uit drie verskillende rigtings ‘n aanval op die Britse posisies op die heuwel begin en was op die punt om die veldslag te wen voor die Kanadese teenaanval vanaf die suide.
Teen 2 uur daardie middag het majoor-generaal Hutton al sy beskikbare troepe in daardie rigting beweeg en teen sononder is die Boere na Bronkhorstspruit verdryf.
Eeu van onnies
In Junie 2004 het ons berig dat die Laerskool Witpoort ‘n eeu oud word. In 1904 het ‘n Nederlander, meester Bos, na die Witpoort-omgewing gekom om met 32 kinders ‘n skooltjie in ‘n kamer, wat Hendrik Prinsloo van Kameelzynkraal beskikbaar gestel het, te begin.
Daar is vir ongeveer 18 maande daar skoolgehou, toe vir ‘n jaar by Johannes Leoboltus Smit op Vlakfontein en daarna vir ses maande by JGS Opperman se plaas op Kameelzynkraal. Die skool het op 14 Mei 1907 ‘n staatskool geword. Meester Bos was tot 1906 die prinsipaal, waarna meester van Leeuwen tot 1908 hoof was. Eers op 28 Julie 1909 is grond vir ‘n nuwe skoolgebou afgestaan toe JGS Opperman van Kameelzynkraal en JL Smit van Vlakfontein elkeen een morg grond van hulle plase, wat aan die plaas Witpoort gegrens het, geskenk het. Die nuwe skoolgebou is twee en ‘n half jaar later, op 23 Januarie 1912, geopen. Dié foto wys meester Bos en sy leerlinge in 1904.
Annetje de Boerin
In Maart 2005 vertel ons dat Suid-Afrika se heel eerste amptelike melkboer ‘n vrou was. Jan van Riebeeck het in 1655 die huurkontrak vir die kompanjie se melkkoeie aan Annetje Boom, beter bekend as Annetje de Boerin, die dogter van ‘n ryk Hollandse boer van Purmerend, gegee.
Die gesin Boom is in 1652 saam met Van Riebeeck Kaap toe met die Drommedaris. Hendrik Boom van Amsterdam sou die pos van hoof-tuinier volstaan, saam met sy vrou Annetje en hulle kinders.
Teen 1658 het Hendrik as vryburger ‘n stuk grond gekry en daarna die huurkontrak vir die kompanjie se beeste, omdat Annetje die ondervinding as melkmeisie in Holland gehad het. Annetje het dadelik die bedryf van die melkboerdery oorgeneem en toe die huurkontrak drie jaar later hernu moes word, is dit direk aan haar uitgemaak.
Haar amptelike huurkontrak het op 1 Oktober 1655 begin en sy het ook ‘n monopolie gekry vir die verkoop van suiwelprodukte aan skepe teen enige prys wat sy kon kry.
Die Boom-gesin is in November 1662, ná tien en ‘n half jaar aan die Kaap, terug na Holland in die skip, Brederode.
Wilde Boer
In Maart 2006 vertel ons dat Graaf de Villebois Mareuil, ‘n Fransman, die enigste buitelander was wat ooit in die oorlog tot die rang van veggeneraal deur presidente Steyn en Kruger bevorder is.
De Villebois Mareuil was van die begin af deel van die Engelse Oorlog. In 1899 is hy as militêre adviseur tot die kommandant-generaal van die Transvaal benoem. In Februarie 1900 het hy toestemming gekry om ‘n Vreemdelingelegioen, wat saam met die Boere geveg het, saam te stel.
Dié Vreemdelingelegioen is op 5 April 1900 by Tweefontein in die Boshof-distrik, 53 km oos van Kimberley, deur die Britse generaal Methuen oorwin. De Villebois Mareuil het saam met ses van sy manne gesneuwel en is in die Boshofse begraafplaas begrawe. Sy oorskot is in 1971 by die militêre begraafplaas by Magersfontein herbegrawe.
Eerste sirkusse
In November 2007 vertel ons dat die eerste sirkus wat Pretoria in die laat 1800’s besoek het Fillis se Sirkus was. Die olifant wat in dié sirkus opgetree het, is meer as ‘n honderd jaar later steeds in Pretoria.
Fillis se Sirkus is deur Frank Fillis bedryf, bygestaan deur sy vrou, bekend as Madame Eliza of Lazel, en sy drie kinders, Frank, Adele en Cecil. Dit het nie baie voorspoedig met die sirkus se olifant gegaan nie en hy het aan tetanus beswyk.
Op 22 Junie 1897 het Fillis die lyk van dié Indiese olifant aan die Staatsmuseum geskenk sodat die vel en geraamte bewaar kon word. Krantz en Swierstra het blykbaar ‘n week gewerk om die olifant te slag en op te stop. Dit het hulle minder as 200 pond gekos om dit te doen.
Vanaf 1905 het Pagel se Sirkus hier begin toer, onder eienaarskap van Herr William Pagel en sy streng Yorkshire-vrou, Mary Dingdale, wat oral met haar troetel-leeu rondgestap het. Later het die Boswell Broers Sirkus, ’n familie wat sedert die 1800’s in Engeland se sirkusse doenig was, Pretoria besoek.
Die foto wys Frank Fillis.
Union Jack begrawe
Vreemder verskynsels as ’n kamma-begrafnis vir ’n vlag het seker al in Pretoria gebeur. Maar as dié begrafnis knap op die hakke van ’n skynhofsaak, wat sy oorsprong in ’n hotel-kroeg blyk te gehad het, volg . . . wel, dan is dit geen wonder dat ons meer as 130 jaar daarna nog in verwondering na die foto van die kamma-grafsteen staar nie.
In Augustus 2008 vertel ons dat Pretoria se Engelse onderdane só die josie in was toe Brittanje, ná die slag van Majuba, Transvaal terug gegee het aan die Boere, dat hulle formeel ’n begrafnis vir die Union Jack gehou het.
‘n Begrafnisstoet het vanaf Kerkplein ‘n lykswa, getrek deur twee perde wat met swart doeke bedek is, gevolg. Binne-in die lykswa was die kis met die Britse vlag en bo-op die kis ‘n kransie van lemoenbloeisels. Die vlag is by Government House op die hoek van Andries- en Schoemanstraat begrawe.
Die opskrif van die grafsteen het as volg gelui: “In memory of the British Flag in the Transvaal, which departed this life August 3rd, 1881, aged 4 years. In other Climes none knew thee but to love thee. Resurgam.”
Vergete prins
In Maart 2009 skryf ons dat koningin Victoria se gunsteling kleinseun, prins Christian Victor, in 1900 in ‘n beskeie soldategraf in Pretoria se Kerkstraat-begraafplaas begrawe is. Dié 33-jarige prins het malaria opgedoen en is op 29 November 1900 in die Yeomanry Hospitaal, wat in die huis van Tom Beckett in Arcadia ingerig is, aan ingewandskoors dood nadat hy drie dae in ‘n koma was.
Sy liggaam is gebalsem en alle reëlings is getref om dit na Engeland te verskeep toe ‘n telegram van sy ouma, koningin Victoria, aangekom het met die bevel dat haar kleinseun in Pretoria in ‘n gewone soldategraf begrawe moet word.
Toe hy op 1 November begrawe is, was dit die grootste militêre begrafnis wat nog in die stad gesien is.
Een boervrou het volgens oorlewering die gewyde stilte verbreek toe sy hardop gesê het: “Ja, hulle begrawe hulle prins in Britse grond. Die Engelse is van plan om in hierdie land te bly.”
Vandag spook dit glo by dié graf.
Bekendste spoke
Hoe graag sou jy toeka se Pretorianers wou ontmoet? Graag genoeg om ’n nag in die Smutshuis se donkerkamer deur te bring? Of wat van ’n spookagtige ontmoeting in die Breytenbach Teater se kelder of op die Sammy Marksmuseum se trappe? Pretoria se ou geboue is vol spoke, en in Mei 2010 vertel ons vir jou waar om hulle te vind.
Dié foto is op die trappe by die Sammy Marksmuseum geneem. Daar is net 21 mense, maar daar is ’n ekstra vroulike hand en agter is die gesig van ’n man-wat-nie-bestaan-nie.
Blykbaar is hy die spook van ’n Skot wat vir jare lank in die 1800’s na Sammy Marks se plaas en opstal, genaamd Swartkoppies Hall, omgesien het. Die Skot was ’n vriend van die Marks-familie en het selfs ook na die kinders gekyk. Hy is later in sy kamer in dié huis oorlede en vandag geniet hy dit glo veral om vroulike besoekers aan die museum skrik te maak.
Sy gesig verskyn gereeld op foto’s wat op die museum se trappe, wat uit die ingangsportaal lei, geneem word.
Balmoral-konsentrasiekamp
In Junie 2011 besoek ons die Balmoral kampkerkhof. Minstens 400 vroue en kinders het in die konsentrasiekamp in Balmoral gesterf. Die gemiddelde ouderdom van die kinders wat op die gedenkplaat genoem word, is vier jaar.
Balmoral-kamp het relatief laat ontstaan – op 25 Julie 1901. Die konsentrasiekamp was oorspronklik op die terrein van die ou militêre kamp, suid van die treinstasie. Die kamp was nie omhein nie, omdat die gebied deur blokhuise beskerm is.
Die tente het misvloere gehad en rommel het oral rondgelê. Daar was gereeld sandstorms en met hewige reën het stormwater dwarsdeur die tente gestroom. Op 14 Januarie 1902 het die militêre bewindvoerder, generaal Maxwell, die kamp besoek en aanbeveel dat dit na hoër grond geskuif moes word, ongeveer ’n myl verder weg. Die kamp is eers in Junie 1902 geskuif, blykbaar weens ’n tekort aan osse, muile en vervoermiddels.
Teen die einde van Oktober 1902 was daar slegs 87 mense in Balmoral se konsentrasiekamp oor. Die kamp is klaarblyklik teen die einde van November 1902 toegemaak.
Die Balmoral kampkerkhof is vandag ’n erfenisterrein.
Malleson-melkplaas
In Junie 2012 vertel ons dat ‘n ryk geskiedenis die ou Malleson-melkplaas omvou. Die seuns van die Hollandse kaptein Johan Marinus Struben, Hendrik Wilhelm, bekend as Harry, en Frederick Pine Theophilus, bekend as Fred, het beroemd geword het toe hulle die eerste goud aan die Witwatersrand ontdek het.
Harry Struben het in 1862 The Willows, geleë langs ’n buurplaas genaamd Hazeldean, gekoop. Hy is in 1868 met Mary Cole getroud en ses van hulle sewe kinders is op The Willows gebore. Harry het Hazeldean later ook aangekoop en toe hy in 1915 oorlede is, het sy seun Arthur dié plaas geërf.
Charles Malleson het die plaas in 1944 by sy oom Arthur gekoop en het tot in 1972, toe hy ‘n beroerte gehad het, op Hazeldean geboer. Daarna het sy twee seuns, Harry, getroud met Anna, ‘n nooi Benecke, en Ivan, getroud met Suzanne, ‘n nooi van Der Byl, die bestuur van die plaas oorgeneem en op die Ayrshire-stoet begin fokus.
Harry en Ivan het tot in 2008 op Hazeldean geboer. Harry se seun Frederick, as die derde generasie Mallesons wat op die plaas woon en werk, se betrokkenheid by die besigheid het in 2000 begin. Die plaas Hazeldean val vandag binne die stadsgrens en groot gedeeltes is reeds as die voorstad Hazeldean ontwikkel.
Mexiko-kolonie
In Julie 2013 vertel ons dat een van die Boeregeneraals wat aan die veldslae van Donkerhoek (Diamond Hill) en Witpoort deelgeneem het, ná die Engelse oorlog ‘n Boere-kolonie in Mexiko begin het.
Generaal Ben Viljoen se lewensverhaal lees soos ‘n avontuur – van veldslae en krygsgevangenskap tot ‘n oorlog-sirkus; van vriendskap met die Amerikaanse president tot vertroueling van Mexiko se revolusie-leier.
Hy was tot Mei 1902 ‘n krygsgevangene in die Broadbottom-kamp op St Helena. Met sy terugkeer na Suid-Afrika het hy geweier om Britse burgerskap te aanvaar. Anders as die meeste boere het Ben geen grond besit nie. Hy was ook gekrenk deur die ophef wat oor De la Rey en De Wet gemaak is, en het besluit om die land te verlaat.
Tussen 1903 en 1905 het Ben, met die ondersteuning van president Theodore Roosevelt, ‘n Boere-nedersetting in die noorde van Mexiko by Hacienda Humboldt in die munisipaliteit van Julimes in Chihuahua begin.
Die Boere het 83 000 akkers grond ontvang waar hulle hoofsaaklik graan verbou het en met katoen en tabak geëksperimenteer het. Alles het soos ‘n sprokiesverhaal verloop tot 1910 toe ’n groot deel van dié Boerebevolking deur oorstromings uitgewis is. Dié vloedramp en die Mexikaanse revolusie, wat in ’n uitgebreide burgeroorlog ontaard het, het tot die verbrokkeling van die Boere-kolonie gelei.
Argentynse kolonie
In Julie 2014 vertel ons die verhaal van Myra Güttmann en haar Italianer, Camillo Ricchiardi, die bevelvoerder van die verenigde Uitlanderkorps. Die twee het ná die Engelse oorlog die Boere, wat nie onder die Britse juk in Suid-Afrika wou leef nie, help repatrieer na Argentinië.
In die oorlog was die 16-jarige Myra ‘n Rooikruis-verpleegster en sy het Camillo, wat 18 jaar ouer as sy was, ontmoet toe sy hom in die Pretoriase hospitaal verpleeg het ná hy ‘n ernstige beenwond in die Slag by Colenso opgedoen het.
Die Italiaanse korps is op 22 September 1900 ontbind. Myra was deel van president Paul Kruger se gevolg in sy selfopgelegde ballingskap in Europa en toe hulle in Marseilles, Frankryk, aangekom het, was Camillo op die hawehoof om hulle te ontmoet. Hy en Myra is op 5 Junie 1901in Frankryk getroud.
Dié twee het na Suid-Amerika verhuis, waar Camillo talle konferensies oor die Boere-saak belê het. Hy is in 1902 as administrateur van ‘n groep Boere-vlugtelinge in Chubut aangestel. Die Argentynse regering het vir elke familie ’n stuk grond in die dorslandgebied van Patagonië, die suidelike deel van die provinsie Chubut, gegee om met skape te boer.
Camillo en Myra het nie lank in Patagonië gewoon nie. Hulle het in 1905 na Buenos Aires getrek en is in 1913 Italië toe.
Vrymesselaar-Voortrekkers
Voortrekkers, Boeregeneraals, bekende dominees en selfs presidente was in die vormingsjare van Pretoria lede van ‘n wêreldwye organisasie, wat ook ‘n invloed op stigtingsvaders van Amerika gehad het, vertel ons in Oktober 2015.
Die vrymesselaars sê dat hulle nie ‘n geheime organisasie is nie, maar ‘n organisasie met geheime. Die vraag is hoe die vrymesselaarsbeleid, waarvolgens ‘n lid se eerste lojaliteit aan ander vrymesselaars moet wees, die Engelse Oorlog beïnvloed het.
Dit blyk dat vrymesselary, wat ten tye van die oorlog reeds bykans 130 jaar in die land was, groot aanhang geniet het. Lank voor die oorlog was verskeie Voortrekkers, soos Piet Retief wat hier op die skets verskyn, aktiewe vrymesselaars.
Piet Retief en sy geselskap is op 6 Februarie 1838 deur Dingaan laat vermoor en hulle beendere het by moordkoppie gelê. In Desember daardie jaar het Andries Pretorius se kommando in dié omgewing laer getrek en ‘n paar trekkers is afgevaardig om die beendere te gaan soek en te begrawe.
Piet Retief se oorskot is uitgeken aan stukkies van sy satyn onderbaadjie, ‘n verweerde leersak waarin die traktaat tussen hom en Dingaan was en sy waterfles met vrymesselaar-simbole.
Jakkalsdans se mense
In Januarie 2016 vertel ons dat Hendrik Frederik Cornelis (Damara) Prinsloo van Jakkalsdans se familie vir 102 jaar lank nie geweet het waar sy graf was nie. Damara, wat in die Engelse oorlog gesneuwel het, se kleinseuns, Piet en Jan van der Walt, het dié graf in Julie 2002 eers gevind.
Piet het die verhaal wat dié soektog vooraf gegaan het, aan ons vertel en verduidelik hoe Brandbach, Jakkalsdans, Papkuilfontein en Rietfontein se mense soveel kere onder mekaar getrou het dat sy oupa se skoonpa ook sy swaer was en sy ouma se stiefma haar skoonsuster geword het.
Dié mense was afstammelinge van die Voortrekker Daniël Malan, wat hom in 1849 op die plaas Brandbach gevestig het. Een van sy seuns was Daniël Cornelis, Piet se oupagrootjie, wat met Maria Johanna Steenkamp getroud is en agt kinders by haar gehad het. Hulle het op die plaas Rietfontein, aangrensend aan sy pa se plaas Brandbach gewoon en die foto wys dié egpaar.
Maria is in 1875 oorlede en Daniël het in 1877 ‘n tweede keer getrou, dié keer met Martha Louisa Prinsloo, Damara Prinsloo se ouer suster. Hulle het 11 kinders gehad. So het dit gebeur dat Martha Louisa na 19 kinders omgesien het. |