Die luukse lewe van ‘n Eskomkok PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 25 September 2017 19:25
Untitled Document

‘Hulle’ het ou Poon gevra om ‘n oorsig van die afgelope 15 jaar se Poons (of is dit Pone?) te doen, maar toe haak hy vas by dié een van tien jaar gelede. Sommige goed verander net nie . . .

Al lewe ‘n ou Poon nou ook hoeveel donkiejare hier in die Bronberg, is daar sekere sake wat opvallend, verstommend sal bly.

Een van dié dinge is die doen en late van die Eskom-werkspanne wat bykans daagliks aan die kragdrade in die plotwêreld kom peuter.

Die gepeuter as sulks kan ek in ‘n mate verstaan. Dit is immers wat hulle doen. Dit is hulle nering.

Maar dis die samestelling van die werkspanne, wat my klokslag verstom. Met militêre presisie is dit uitgewerk en die riglyne vir ‘n spansamestelling staan sweerlik opgeteken in die handboek wat hulle op Eskomskool kry.

So teen agtuur die oggend kom hulle met die geel vragwa aan. Hulle is gewoonlik ses man sterk.

Onder dié ses, só smaak dit my, is daar ‘n duidelike werksverdeling vasgestel. In drie onderafdelings van twee man elk is hulle ingedeel.

Twee is verantwoordelik vir die heen en weer rangeer van die geel vragmotor. Die bestuurder en sy assistent – jy kan hom seker ewenwel die navigator of ‘spaardrywer’ noem – doen die hele dag presies dit. Hulle verskuif die lorrie tussen die pale. Soms word daar amper daglank aan een paal gewerk, dan is dié span net op bystand vir ingeval die geel lorrie dalk geskuif moet word.

Dan is daar die twee wat die werklike werk aan die pale en drade en goed doen. Eintlik doen net een die werklike werk. Dit lyk my die ander een hou grootliks aan die leer vas. Hy is ook die ou wat die verantwoordelikheid het om die leer van die voertuig af na die paal en terug te dra.

Die oorblywende twee word, voor die kraglynwerk begin, onder ‘n nabygeleë koelteboom afgelaai. Hulle is die sjefs. Dit wil my lyk of dit ‘n voltydse beroep is. Saam met hulle word konkas, kastrolle, kanne water, ‘n rooster of twee, die nodige bestanddele vir die dag se feesmaal en ‘n sakkie lemoene afgelaai. Daar is altyd ‘n sakkie lemoene.

Ek hou hulle gereeld dop, dié twee lywige kokke. Hulle eerste taak is om ‘n vuur te bou. Die konkas en kastrolle word oor die vuur staangemaak en dan kom die bestanddele by. Tee word in die een kastrol gebrou. So af en dan word daar van die sitklip af opgestaan om die kastrolle met ‘n houtlepel om te roer. Tussenin eet hulle lemoene – baie lemoene.

Net voor twaalf kom die geel vragmotor met die oorblywende vier aan. Gewoonlik is dié aantog so drie of vier kragpale ver. Dan word daar aangesit en behoorlik aan die dag se disse weggelê en gekuier.

Met die middagmaal verby vertrek die geel vragwa met die ander vier weer na die derde of vierde paal van die kombuisboom af. Die kokke bly agter om op te ruim en die kookgery te was en nog lemoene te eet.

Dit lyk my na ‘n lekker soort werk. Ek het al baie gewonder of daar nie dalk ‘n openinkie vir my is nie. Maar ek is bevrees ‘n ou moet seker baie jare se kraglynervaring hê en sommer baie senior wees, voor jy ‘n Eskomkok kan word.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online