Untitled Document
Nog ’n vernietigende veldslag teen die Bronberg-gebied en die land se vinnig
verdwynende Bankenveld word tans geloods. En dié keer gaan dit behoorlik
keer kos om te red wat nog van die kontrei se Bankenveld te redde is, want die
invallers is nie minder nie as vier mynmaatskappye. En almal weet dat mynmaatskappye
invloedryke vriende in ‘hoë plekke’ het wat hulle teen bykans alle
koste sal bystaan.
Aansoeke van die mynmaatskappye is hangende om in ’n wye gebied tussen
Rietfontein en Kleinzonderhout vir minerale te prospekteer. Op sigself sal die
prospekteerdery ’n mate van steurnis vir omgewing en mens te weeg bring,
maar dit is die donker vooruitsig van ontginning wat amper te aaklig is om aan
te dink.
Die feit dat die toekomstige mynbou-ontwikkeling ook midde in ’n belangrike
bewaringsgebied om Cullinan en Rayton mag gebeur, is erg onrusbarend.
Maar wat is die Bankenveld en hoekom is dit belangrik genoeg om te wil
bewaar? Bankenveld is die skaars en bedreigde natuurlike veld wat ’n oorgang
vorm tussen die vlaktes van die hoëveld en die boswêreld van die laeveld. Dit
word gekenmerk deur klipkoppies, riwwe, plato’s en vlaktes.
Dié soort habitat is nie net die mees bedreigde soort ekostelsel in Suid-Afrika en
Afrika nie, maar ook op die planeet. Die biodiversiteit van dié oorgangsveld sorg
daarvoor dat bedreigde en ander dier- en plantspesies wat eie is aan die
hoëveld, die bosveld, die Drakensberggebied en die Kalahari, ook hier kan oorleef
en floreer. Dit dien ook as ’n noodsaaklike ‘sponsgebied’ wat afvloeiwater
en dus erosie beheer en water as grondwater of in vleilande berg om dit stadig
deur die jaar vry te stel.
Eers redelik onlangs is die belangrikheid van die Bankenveld en soortgelyke
ekostelsels besef en word dit nou wêreldwyd, in die beskaafde wêreld, wild
geskarrel om dié stelsels teen verdere vernietiging te bewaar. Die Bankenveld
van die ou Transvaal beslaan ’n oppervlakte van 24 063 vierkante kilometer.
Hiervan word 65 persent reeds as ‘getransformeer’ aangegee en net 1,38
persent word bewaar.
In die afgelope aantal jare het groot dele van die Bronberg-gebied se allerbelangrike
Bankenveld geswig voor ondeurdagte ontwikkeling en die aanslag
duur genadeloos voort. Sal ons soos in ander dele van die beskaafde wêreld
wakker skrik en probeer om nie die foute van die verlede te herhaal nie, of gaan
ons getrou aan barbaarse tradisie ook die Bankenveld finaal nekomdraai?
|