Oudste onkruid steeds doring in die vlees PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 25 September 2017 19:21
Untitled Document

Die boetebossie is die eerste plant in Suid-Afrika wat as onkruid verklaar is. Die regering van die Oranje-Vrystaat het die bossie in 1860 as skadelik verklaar. Versuim om dit te beheer het jou ‘n boete op die hals gehaal, vandaar die volksnaam.

Ander volksname vir Xanthium Spinosum is vaalboetebossie, vernietbossie, boeteklits, pinotiebossie, speldebossie, dolkkoringroos of dolonkruid. Die bossie het ‘n aaklige klits wat in diere se pelse verstrengel raak, erge kompetisie vir aangeplante gewasse bied en wat boonop giftig is.

Boetebossies het reeds in 1692 in die Kaap aangeland. Die klitse het glo aan skape wat van Europa ingevoer is, se wol vasgesit. Die eerste verwysing na boetebossies in Pretoria is in ‘De Volkstem’ van Desember 1873 waar gevra word dat dié onkruid uitgeroei moet word.

Blykbaar het die destydse Pretorianers hulle nie aan dié vriendelike versoek gesteur nie. Op
21 Maart 1889 het veldkornet JW van den Berg ‘n waarskuwing laat publiseer wat lui dat nalatiges wat die bossies nie voor 2 April 1889 verwyder nie, wetlik vervolg sal word.


In ‘De Volkstem’ van Desember 1873 word gevra dat boetebossies uitgeroei moet word

Klitse
Boetebossies is waarskynlik inheems in Suid-Amerika, hoewel daar bronne is wat sê dat dit van Sentraal-Amerika of die Middellandse See-gebied af kom. Dit is vandag ’n kosmopolitiese onkruid wat tussen die breedtegrade 43°S en 50°N groei en in ‘n verskeidenheid klimate kan oorleef. Die bossies floreer in bykans enige grondsoort – van geploegde lande tot ashope, padreserwes, plaaswerwe, vloedvlaktes en langs water.

Die boetebossie is ‘n stewige, regop, eenjarige kruid met glansende donkergroen blare wat harig aan die bokant is en wollerig en vaal aan die onderkant. Die stingels is gelerig tot grysbruin met fyn haartjies. Die kruid word 0,3 tot 1,2 meter hoog.

Die blomme is klein, onopsigtelik en ‘n romerige groen kleur. Die manlike blomme word bo aan die stamme gedra en die vroulike blomme laer af op die stamme. Boetebossies blom in die somer en hou aan vrugte dra tot die eerste ryp in die winter.


Die geronde manlike blomkoppe word bokant die stekelrige vroulike blomkoppe gedra
Photo: Sheldon Navie

Oorwinter
Die vrug is ‘n klits, gepantser met verskeie dorings. Daar is twee sade in elke klits. Die boetebossie plant net deur dié sade voor en het spesiaal aangepas sodat sy klitse aan diere se pelse vassit om ver gedra te kan word.

Boonop oorwinter die boetebossie in sy saad-stadium en die sade ontkiem eers vanaf November as die reën begin val het. Die eerste saad in die klits sal die eerste jaar ontkiem en die ander saad eers oor twee of selfs drie jaar.

Sommige sade kan tot agt jaar lank vat voor hulle ontkiem, wat dit baie moeilik maak om die onkruid finaal uit te roei. Saailinge kan vernietig word deur hulle uit te trek. Die volwasse plante kan uitgeroei word deur hulle te sny voor hulle klitse vorm.

Die volgende chemiese middels is vir die beheer van boetebossies geregistreer: amitrool/simasien; bromoksinil; metribusin; MCPA-K; 2,4-D(T) en 2,4-D(A).


Die boetebossie
Photo: Sheldon Navie

Giftig
In die saailingstadium bevat boetebossies ‘n giftige stof, hidrokinoon, wat perde, skape, beeste en pluimvee aantas. Die dier sal aanvanklik ophou vreet en daarná volg vomering, lusteloosheid, spierverswakking en stuiptrekkings. So ‘n vergiftigde dier sal tussen ‘n paar ure tot drie dae nadat ‘n mens die simptome begin sien het, dood wees.

Medisyne
Die boetebossie is ‘n medisinale plant in Suid-Amerika. Samestellings van die stam en blare word as ‘n uriendrywer, ‘n sweetmiddel, bloedstolmiddel en kalmeermiddel gebruik. Dit word blykbaar ook vir die skoonmaak van wonde aangewend en om hondsdolheid te behandel. ‘n Aftreksel van die wortels word as braakmiddel gebruik.

Sulke medisynes moet glad nie deur swanger of borsvoedende vroue of deur kinders gebruik word nie.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online