Reëls en regulasies PDF Print E-mail
News - Rubrieke
Monday, 25 September 2017 19:20
Untitled Document

Lianie O’Neill is ‘n rekenmeester van Dante Deo Rekenmeesters in Rayton


Lianie O’Neill

So word ons van doeketyd af geleer om volgens voorgeskrewe reëls en regulasies te funksioneer. Dié is natuurlik glad nie ‘n moeilike konsep nie, solank die grense daargestel is en almal weet waar die lyn oorgesteek word. 

Wanneer dit egter by die dinge van Jan Taks kom, is die reëls nie altyd so maklik verstaanbaar vir die gewone ou op straat nie. Sommige bepalings is duideliker, soos die Wet van Transvaal (wat almal goed verstaan) en ander kan soms heel verwarrend wees.

Spertyd
Tot wanneer het ek tyd om my belastingopgawe in te dien? Dié is seker die algemeenste vraag op almal se lippe. Die radio praat iets van 31 Oktober, die buurman links van jou kerm dat hy net tot
22 September het om sy opgawe by SARS te gaan indien en die buurman regs van jou noem iets van êrens in November. Die tannie by die hoek-kafee mompel tussen die kleingeld geëry weer oor einde Januarie.

Skielik is daar twyfel. Die 31 Oktober sperdatum het niks met die persoonlike inkomste belasting te doen nie. Dit is van toepassing op die halfjaarlikse (interim) EMP501 rekonsiliasies waar werkgewers die belasting wat maandeliks op die salarisse afgetrek is, rekonsilieer ná die opgawes wat reeds by SARS ingedien is. 

Die tannie van die kafee is ook nie heeltemal verkeerd nie. Sy is heel moontlik ‘n voorlopige belastingpligtige en dus moet haar opgawe eers einde Januarie 2018 ingedien word. Oom buurman links is ook reg. Opgawes wat per hand of pos ingedien word moet teen 22 September ingedien word.

Indien jy egter ‘n nie-voorlopige belastingpligtige is, wat gebruik maak van “e-filing”, dan het jy tot
24 November. 

Skuld
Ek skuld die Ontvanger ‘n paar duisend rand! Hoekom en wat nou?

Die foon lui. Jy kyk na die vreemde nommer op die skermpie en antwoord dan tog. ‘n Nie-te-vriendelike mens deel jou in een van die elf amptelike tale (nie noodwendig die een van jou keuse nie) mee dat jy die Ontvanger ‘n aardige bedraggie geld skuld en dat hulle dit onmiddellik soek. 

Koue sweet slaan in blink pêrels op jou voorkop uit, want sien – eintlik is dit die laaste ding wat jy op jou welverdiende aftrede verwag het. Jy het vyf jaar gelede die beroepswêreld vaarwel toegeroep en het dus nie opgawes ingedien nie en nou dit. Jy verduidelik, maar nee, die stem hou voet by stuk; jy is skuldig en klaar. 

Ons vergeet soms dat ons die Ontvanger van dié dinge in kennis moet stel, dus neem hulle aan dat jy net nagelaat het om die opgawes in te dien en hef dan boetes van R250 per uitstaande opgawe
. . . per maand. Dié bedraggie kan vinnig ophoop.

Gelukkig kan die situasie gered word indien die opgawes ingedien word sodat hulle kan sien dat dit wel onder die indieningskerf is en daarna moet ‘n “Request for Remission” gedoen word om te versoek dat die skuld afgeskryf word.

Hou maar gerus die tyd dop, want 24 November is om die draai.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online