Bapsfonteiners doen die Doringdraadse draf PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 25 September 2017 19:01
Untitled Document

Die eerste Bapsfonteinse ‘parkrun’ is so skuins voor 8 vm op 2 September amptelik deur Bruce Fordyce geopen. Ten spyte van die skielike koue weer het 498 deelnemers die roete voltooi, buiten nog sowat 40 vrywilligers wat allerhande take verrig het.

Die konsep van ‘n ‘parkrun’ is deur Bruce Fordyce van die Verenigde Koninkryk na Suid-Afrika gebring. Dit is ‘n gratis 5 km pretdraf of -stap in ‘n park-omgewing en word wêreldwyd deur vrywilligers aan die gang gehou.


Deelnemers spring weg by die eerste Bapsfonteinse ‘parkrun’ op 2 September

Die eerste Bapsfonteinse draf is deur die egpaar Troskie en Wilma Neethling van die plaas Doringdraad, so 3 km buite die dorp, gereël. Troskie sê dat dié draf ‘n gemeenskapsding in die volste sin van die woord is.

Hy vertel dat daar ook heelwat besoekers van die omgewing aangekom het wat gesê het dat hulle net kom “park” het om te kyk hoe die ander “run”.


Van links na regs: Troskie en Wilma Neethling van die plaas Doringdraad buite Bapsfontein saam met Wilma en Ed Cloete van Pretoria

‘n Reuse vuur in ‘n boma tussen die ou plaasgeboue het effens verligting gebring teen die koue windjie, wat eers teen 11 vm tot bedaring gekom het. Weens die koue het besoekers hulle aan warm koffie, drinksjokolade en sop verlustig.

Terugvoer van deelnemers was deur die bank positief. Volgens hulle was die baan goed gemerk en het hulle in die besonder daarvan gehou dat dit ‘n redelike gelyk, enkel-rondte roete is. By party ander ‘parkruns’ kom vinnige hardlopers van agter af verby stadiger deelnemers, en soms kom hulle selfs van voor af, wanneer rondtes herhaal moet word.


Die landelike roete

Die vinnigste vroulike deelnemer was Hanlie Els met ‘n tyd van 23:53 en die eerste man oor die eindstreep was Colin Louw met ‘n tyd van 19:59.

Deelnemers het ook daarvan gehou dat daar by die eindpunt versnaperings, piekniektafels en groot grasperke was waar hulle kon verpoos. Lekker musiek het tot ‘n gesellige atmosfeer bygedra en party deelnemers is eers teen 1 nm weg.


Besoekers kon by die eindpunt uitspan

‘Parkrun’ Bapsfontein word voortaan elke Saterdag om 8 vm op die plaas Doringdraad gehou. Die plaas is op die R50 na Pretoria. Vir meer inligting bel Troskie by 082-558-6190 of Wilma by 083-292-5792.


Mense is welkom om hulle honde vir die draf of staptog saam te neem

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online