Magtiging vir Cullinan-verbypad PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 25 September 2017 18:59
Untitled Document

Die verlenging van die K14-provinsiale roete in Cullinan is op 18 Augustus deur die Gautengse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling (GDLLO) goedgekeur.

‘n Nuwe toegangspad het nodig geword nadat die pad wat verby die myn se oop put geloop het, in 2015 toegemaak is omdat die afstand tussen die pad en die myn se oop put al hoe kleiner geword het en die pad ná grondstortings nie meer veilig was nie.

‘n Tydelike verbypad, ‘n grondpad van 1.9 km, herlei verkeer sedertdien vanaf die R513 (Zambeziweg-verlenging) tot by Zonderwaterweg-wes, vanwaar dit verkeer na die Rayton-pad neem. Dié pad sal in gebruik wees tot konstruksie aan die K14, wat aan Oudorp se suidekant gaan verby loop, klaar is.

In Mei het ons berig dat dié roete die groen lig van die Gautengse Provinsiale Erfenishulpbron-owerheid gekry het.


Die bord naby die Cullinanse landdroskantoor wat die tydelike verbypad aandui

GDLLO se magtigingsdokument noem dat die nuwe toegangspad omtrent 2,2 km lank sal wees met ‘n padreserwe van 62 meter. Dit sal ‘n twee-baan enkel ryvlak wees met een klimmende baan oor ‘n gedeelte van die pad.

Die pad sal die Transnet-spoorlyn kruis en ‘n onderdeurgang by die spoorwegoorgang word deur GDLLO voorgestel. ‘n Gedeelte van Zonderwaterweg sal herlei word na die nuwe K14.

In vorige uitgawes het ons berig dat groot vragmotors wat die tydelike pad onwettig gebruik, een van die oorsake van ongelukke op die pad is. In ‘n poging om dié vragmotors van die grondpad af te hou is betonblokke, wat slegs gewone grootte motorvoertuie deurlaat, opgerig.

JG Afrika Ingenieurs en Omgewingskonsultante tree op as die onafhanklike omgewingspraktisyns wat die omgewingsmagtigingsproses vir dié K14-padprojek doen.

Vir meer inligting, praat met JG Afrika se Kirthi Peramaul by tel: 011-231-2200; faks: 011-807-1607 of e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online