Wortel van kwaad lê in toegang tot reservaat PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 25 September 2017 18:58
Untitled Document

Die polisie, veiligheidsfirmas, wyksraadslede, inwoners en Vriende van die Faerie Glen Natuurreservaat het op 16 Augustus ‘n vergadering gehou om misdaad aan te spreek. Daar word geglo dat die vlaag inbrake rondom dié reservaat verband hou met die maklike toegang wat misdadigers tot die reservaat onderdeur brûe kry.

Volgens Vriende van die Faerie Glen Natuurreservaat (VFGNR) het dié misdaadvlaag na tien misdaadvrye jare in die reservaat begin toe ‘n vrou wat gaan draf het op 10 Julie beroof is. Die vrou is naby die Glenwood palissade-heining met ‘n mes gedreig, maar is nie beseer nie. Sy is van al haar toerusting beroof, insluitende haar skoene, hidrasie-rugsak, sonbril en selfoon.

Die Vriende het daarná ondersoek begin instel en gevind dat daar by alle residensiële komplekse rondom die reservaat, behalwe by die een wat ‘n nagwag het, ingebreek is. Daar is ook by ‘n groot aantal residensiële huise ingebreek, tuingereedskap is gesteel en selfs wasgoed van die wasgoedlyn af.


Atterbury-brug
Foto: VFGNR

Waar?
Inwoners wat deurgeloop het is dié wat in komplekse oorkant die reservaat in Glenwoodstraat bly en dié aan die reservaat se oostelike grens by Manitobaweg. Daar was ook misdaad aan die noordelike grens, teen die hang van die Bronberg, en by Gift Acres-landgoed, Safari Tuinsentrum en die Grain-gebou.

Inwoners blameer die toename in misdaad met die ontwikkelings aan die noordekant van die reservaat, langs Lynnwoodweg. Hulle sê dat boupersoneel en diegene wat op boupersele werk soek die gebied binnegestroom het en saans op die Bronberg of onder brûe skuil.


Lynnwood-brug
Foto: VFGNR

Ernst Botha, raadslid vir wyk 44, en Pieter van Heerden, raadslid vir wyk 46, het van dié toename in misdaad bewus geword en die saak by die Stad Tshwane aanhangig gemaak.

Die gevolg was dat die Tshwane Metropolisie se berede eenheid op 11 Julie twee perde en ruiters gestuur het om die reservaat te patrolleer. Sedertdien is daar gereeld sulke perde-patrollies. Die laaste keer wat perde-patrollies in die reservaat nodig was, was in 2006 en 2007. Die patrollies het toe ‘n einde aan die misdaad gebring.


‘n Lid van die Tshwane Metropolisie se berede eenheid by die Faerie Glen Natuurreservaat
Foto: IOL

Donker
Volgens die Vriende bly misdaad langs die reservaat se grense in die nag dié keer egter ‘n probleem. Misdadigers gebruik die donkerte van die reservaat om eiendomme langs die grens te teiken. Dit is ook die ideale omstandighede vir misdadigers om gesteelde kabels af te stroop.

In die nag is een van die hoof toegangsroetes tot die reservaat die Manitoba-brug. Misdadigers kom glo maklik onderdeur die Atterbury-brug, en beweeg dan langs die spruit af om deur die Manitoba-brug te kom.

Rondlopers wat onder die Atterbury-brug woon is volgens die Vriende vir ‘n geruime tyd reeds ‘n groot kommer. Behalwe vir die misdaad, besoedel hulle ook die Moreletaspruit omdat hulle die water vir kosmaak en as ablusie-geriewe gebruik, sê die Vriende. Met hewige storms word hulle beddegoed gereeld in die spruit afgevoer.


Die Garsfonteinse Polisiestasie en sekuriteitsmaatskappye soos TMPD, Brinant, Bull, CGS en CSISA het op 23 Augustus kragte saamgespan om die reservaat te deursoek
Foto: VFGNR

Vergadering
Die Vriende het die vergadering op 16 Augustus gereël om dié dringende kwessies aan te spreek. Die vergadering is goed bygewoon deur inwoners, die relevante owerhede, verteenwoordigers van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), wyksraadslede, verteenwoordigers van die stadsraad, berede polisie, Garsfonteinse polisiestasie en private sekuriteitsfirmas soos Bull, Hi Risk Unit, Accon, CSISA, Brinant en Macado Technologies.

Raadslid Ernst Botha het ‘n memorandum aan die Vriende oorhandig, waarby die Tshwane Departement van die Omgewing en Landboubestuur onderneem om die heining rondom die reservaat in stand te hou.

Opsetlike beskadiging van die heining om die reservaat
Foto: VFGNR

Forum
‘n WhatsApp kommunikasieforum is gestig om inwoners, die stadsraad, GPF en private sekuriteitsfirmas wat die gebied patrolleer met mekaar te verbind. As enige verdagte aktiwiteite snags opgemerk word, kan daar nou baie vinniger gereageer word.

Garsfonteinse Polisiestasie het op 23 Julie ‘n gesamentlike projek met die stadsraad se berede eenheid en private sekuriteitsfirmas van stapel gestuur. ‘n Hommeltuig (drone) word ook gebruik om die reservaat onder oog hou.

Lede van die publiek word gevra om die heining rondom die reservaat dop te hou en om die stadsraad of die Vriende te laat weet waar die heining beskadig is.

Vir meer inligting stuur ‘n e-pos na Louise Kritzinger, voorsitter van VFGNR: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .


Die opening onder die Atterbury-brug waar misdadigers maklik toegang tot die Faerie Glen Natuurreservaat kry
Foto: Bongani Shilulbanen

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online