Waardasie was glo knoeiwerk PDF Print E-mail
News - Briewe
Monday, 25 September 2017 18:48
Untitled Document

Paul Meuleband van Droogtekloof skryf:
Wanneer ‘n eiendomverkooptransaksie plaasvind moet ‘n mens versigtig wees ten opsigte van die koper en waardeerder.

Tydens so transaksie in die omgewing van Bronkhorstspruit het Eskom grond aangekoop op grond van omgewingskade. Eskom het ‘n waardasie gedoen maar die inhoud nooit openbaar gemaak nie. Hierop het ek my eie waardasie gedoen. Toe stel Eskom voor ‘n onafhanklike waardeerder word aangestel vir ‘n finale waardasie, mits dit binne die grense van die twee waardasies val.

Eskom het gemeen dat ’n sekere professionele waardeerder van Pretoria die regte man is. Tydens die waardasie het ‘n afgevaardigde van Eskom ‘n instruksie uitgereik hoe die waardasie gedoen moet word. Met die vrystelling van sy waardasie was dit laer as altwee vorige waardasies. Die verslag met foute en die instruksie van Eskom is geïgnoreer.

Daarop is hy gedeeltelik betaal, omdat hy die foute nooit wou regstel nie. Toe gaan hy hof toe en wen die saak met kostes. Wat die hof geïgnoreer het, is die openlike oortreding van die “Property Valuer's Profession Act, Act No. 47 of 2000” wat hy in verskeie opsigte oortree het, asook die samespanning tussen beide partye wat sy prokureur per ongeluk in die hof geopenbaar het.

Die hof het bevind dat die waardeerder en Eskom gemeenskaplike sakebelange gehad het wat nooit aan my verklaar is nie. Dit is duidelik vergestalt in die voorlegging van ‘n kwotasie in Februarie 2013 vir die waardasie aan Eskom voor sy wedersydse aanstelling in April 2013.

Die waardasie stem ooreen met die kwotasie, wat vreemd is vir ‘n waardeerder wat die eiendom nog nooit gesien het nie (die kostestruktuur tussen waardasie en professionele fooie is wetlik vasgestel).

Toe moes ek betaal vir knoeiwerk en swak werk. Die waardeerder word verder dissiplinêr aangekla, alhoewel die hof sy skuld en oortreding nie op skrif wil plaas nie. Die verwarring rakende Eskom se instruksie is seker te wyte aan verwarring binne Eskom, omdat daar reeds sonder my medewete gekonkel is oor die uitslag van hierdie waardasie. Dit lyk of “junk” status ook die howe geslaan het.

Name ná die inwinning van regsmening weggelaat. – Red

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online