Soek Mooiplaats-grafsteen PDF Print E-mail
News - Briewe
Monday, 25 September 2017 18:47
Untitled Document

Lynette Schultz van Oos-Londen skryf:
Ek het die baie interessante artikel gelees aangaande die plaas Boschkop wat aan die Barnard-familie behoort het.

Ek is op soek na die spreekwoordelike naald in die hooimied, naamlik ‘n graf. Maar nie ‘n Barnard-graf nie.

Op 31 Oktober 1915 is een van my groot ooms, Abel Hendrik Erasmus, oorlede op die plaas Mooiplaas. Ek het die inligting opgespoor in sy skoonma se boedeldokumente. Abel het na Kenia geëmigreer na die Anglo-Boere-oorlog. Ek het sy nasate daar opgespoor, maar hy het teruggekeer na Suid-Afrika, vermoedelik omdat hy siek was. Hy is aan mondkanker oorlede.

Die dokument wat ek onder oë gehad het sê duidelik dat hy te “Mooiplaats, Pretoria distrik” dood is en ene Joubert het die nodige dokumentasie onderteken aangaande sy afsterwe.

Plase is oor tye opgesny en onderverdeel, en ek is nie seker presies waar hierdie graf sal wees nie en of daar ‘n grafsteen is nie, maar as daar enigiemand is wat ek kan kontak, sal ek die inligting baie waardeer.

Ek het iewers raakgelees dat daar ‘n predikant Joubert in daardie omgewing was teen 1914. Miskien help die leidraad.

Enige inligting/hulp in hierdie verband sal baie waardeer word.

Mense met meer inligting kan Die Bronberger kontak by 012-734-0522 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it . Die enigste inligting wat ons oor Mooiplaats het is dat dit oorspronklik in 1842 deur Coert Erasmus senior beset is. Die aktekantoor het dit op 22 Mei 1866 op sy naam geregistreer, maar op dieselfde dag is dit aan sy erfgename Willem Frederik Erasmus, Coert Erasmus junior en Hendrik Frederik Grobler oorgedra. – Red

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online