Pretoria het nog nie eers sy naam gehad nie toe ‘n man, wat inwoners die ‘makgemaakte Ingelsman’ genoem het, deur die eerste president se pa na dié omgewing gebring is om vir hom ‘n huis te bou. Daarna was hy bou-aannemer van die eerste kerk, skool, tronk en raadsaal; hy het landdros geword, was ‘n raadslid van die eerste munisipaliteit en dié gebore Brit het met Voortrekker Piet Retief se kleindogter getrou.
William Skinner se lewensverhaal het op 15 Junie 1885 in Pretoria geëindig. In ‘n vreemde sameloop van omstandighede is hy op daardie dag dood aan dieselfde siekte wat sy boesemvriend en vennoot, Louis Devereux, wat saam met hom van Brittanje af hierheen gekom het, se lewe 16 dae later geëis het. Dié twee is saam in dieselfde graf in Kerkstraat se ou kerkhof begrawe.
William het in 1850 op die ouderdom van 20 jaar in Port Natal aangekom saam met sy eerste vrou Charlotte, ‘n nooi Filmer, en die broers Louis Edward en Lionel Devereux. Hulle het gekom vanaf Engeland waar William op 10 Februarie 1828 in Canterbury as die seun van Anne, ‘n nooi Edmeads, en Thomas Skinner gebore is.
William Skinner
Foto: Geni
Huis
In Mei 1852 het kommandant-generaal Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius Natal besoek en William en die Devereux-broers ontmoet. Hy het hulle gevra om vir hom ‘n huis op sy plaas, Grootplaas der Rust naby Hartbeespoortdam, te bou. Dié spoggerige huis is grotendeels in Maart 1853 voltooi en het glo sewe kamers, ‘n ruim voorhuis en stoep, ‘n solder en groot kelder gehad. Die geelhoutplanke en ander boubenodighede is uit Natal aangery.
Ongelukkig kon Andries nie lank plesier uit dié huis put nie. Hy is in Julie 1853 in die ouderdom van 55 jaar daar aan ‘borswater’ dood. William se vrou Charlotte is ongeveer drie jaar later ook in dié omgewing in ‘n ossewa-ongeluk dood.
Debora Wilhelmina, ‘n nooi Landman,
Foto: Geni
Andries is op Grootplaas begrawe, maar is later in die helde-akker van Pretoria se ou begraafplaas herbegrawe. Sy huis is in die vroeë 1920’s, toe Hartbeespoortdam gebou is, afgebreek en die plek waar dit gestaan het is vandag onder water. Van die fondamentklippe is gebruik om ‘n gedenkteken by Skeerpoort se laerskool op te rig.
Die Rapportryerskorps het op 12 Desember 1962 ‘n monument by die hek na Andries se eertydse plaas opgerig.
Die kerk op Kerkplein ná die 1867 aanbouings
Foto: Artefacts
Kerkplaas
Andries Pretorius se langtermyn plan was dat William en die Devereux-broers met hulle landmeterkennis by die uitleg en opbou van die kerkplaas Elandspoort betrokke moet wees. Min het hy ten tye van sy dood geweet watter diep spore William op dié kerkplaas sou trap.
Ná Charlotte se dood het William op 9 Januarie 1858 met Debora Wilhelmina Landman, ‘n kleindogter van Piet Retief, getrou en hy het altesaam 17 kinders gehad.
Dit is seker dié dat hy, saam met JR Lys, PJ Marais, M de Vries en JC Preller, betrokke was by die stigting van ‘n skool vir ‘jonge juffrouwen’. Met die hulp van dominee Hermanus Stephanus Bosman en sy vrou, Aletta Hendrina, het dié projek gelei na die hoeksteenlegging van die ‘Prospect Seminary’ op die hoek van Schoeman- en Van der Waltstraat op 23 April 1878.
Lank voor dit, op 13 Desember 1859 het William begin om die eerste skool op die noordwestelike hoek van Kerkplein op die sogenaamde skoolerf te bou. William het ook saam met JC Rous, C van Boeschoten, Julius Jeppe en kaptein O Riedl ‘n gimnastiekskool vir seuns begin.
Andries Pretorius se seuns, Marthinus Wessel, wat president geword het,
Andries Wilhelmus Jacobus en Christiaan Pieter
Bron: Johan Wolfaardt
Loseer
Met sy aankoms op die kerkplaas het William eers by Kootjie Vermeulen loseer. Later het hy vir homself ‘n woonhuis, genaamd ‘The Bungalows’, op die hoek van Markstraat, wat Paul Krugerstraat geword het, en Skinnerstraat gebou.
William se vrou, Debora, was ‘n niggie van Andries Pretorius se seun, Marthinus Wessel Pretorius, wat die eerste president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) geword het. Met sy verkiesing in 1857 het Marthinus op Potchefstroom gewoon en, alhoewel die Volksraad daarop aangedring het dat hy in Pretoria moet kom woon, het sy vrou geweier. Marthinus het dan maar met volksraadsitting sy perdewaentjie gepak en Pretoria toe gery. Dié perde moes egter versorg word en Marthinus het die volksraad vir ‘n lappie grond gevra waar hy voer vir sy perde kon aanplant.
Met volksraadsitting het Marthinus meestal by William en Debora tuisgegaan en het die grond nooit gebruik om voer te plant nie. Ná jare het hy die Skinners heelwat losiesgeld geskuld. Hy kon hulle nie kontant betaal nie, en het die helfte van die grond wat die ZAR aan hom geskenk het aan William as betaling aangebied. Later het hy die ander helfte aan William vir ‘n paar osse verruil.
Dié stuk grond, ongeveer 15 morg groot, was noord van Kerkstraat en wes van Courtstraat, waar die Kwaggasentrum vandag is. Dit is hier waar William later vir sy reuse gesin ‘n huis gebou het en Skinner’s Court gedoop het op voorstel van Albert Broderick van Hole in The Wall-faam.
Octavius Pieter Skinner was een van William se seuns, ‘n klerk by die ZAR Departement Publieke Werken
Foto: Artefacts |
Thomas Edward Skinner was ‘n meer senior klerk as sy broer, Octavius Pieter, by die ZAR Departement Publieke Werken
Foto: Artefacts |
Louisa Wilhelmina Muller (Skinner), een van William se dogters
Foto: Geni
. |
Kerk
President Marthinus Wessel Pretorius het die plek waar die kerkgebou op die kerkplaas moes staan self vasgestel. Hy het dié keuse gemaak in oorleg met William, die Devereux-broers, Coos Erasmus, Jan Visagie en waarskynlik veldkornet Andries van der Walt, JJP Prinsloo en ander belangstellende kerkraadslede.
William is in 1854 as bouaannemer aangestel en dit lyk of die bouery eers in 1855 op dreef gekom het, ná die eerste kerkraad van die nuwe gemeente in September 1855 in werking getree het.
Die voorletters van die drie kontrakteurs, DD&S, wat vir Devereux, Devereux en Skinner staan, het saam met die jaartal 1855 op die kerk se gewel gepryk. Die kerkinwyding was op 21 en 22 Februarie 1857 en dominee Van der Hoff het na Pretoria gekom vir die nagmaalsviering. Daar was glo ‘n magdom mense wat in meer as 200 ossewaens daar aangekom het.
Dié kerk is in 1865 vergroot en het in 1882 afgebrand.
‘n Gedeelte van Skinner’s Court, gebou deur William Skinner. Die huis is ongelukkig later gesloop
Foto: Pretoriana Aug-Des 1963
Raadsaal
William het die eerste raadsaal, ‘n lang grasdak goewermentsgebou, oorkant die kerk gebou. Die gebou is in 1864 voltooi, maar die volksraad kon William nie ten volle betaal nie en 680 pond is van die staatsdrukker C Moll geleen.
William het die eerste tronk, ‘n hartbeeshuisie met grasdak, naby aan die ou raadsaal laat bou. Jare later, in 1873 toe William landdros was, het hy aangedring dat ‘n behoorlike gevangenis op die hoek van Bosman-en Visagiestraat gebou word.
Oor die jare het William op verskeie komitees gedien: Van die skool-kommissie tot die begraafplaas-komitee. Hy is in 1867 as Heemraad van Pretoria gekies, het as skutmeester opgetree, het twee keer vir die volksraadsverkiesing gestaan en is in 1868 as Pretoria se vyfde landdros aangestel.
Toe die republiek deur Brittanje geannekseer is het William, al was hy ‘n gebore Brit, op 25 Mei 1878 in simpatie met sy vrou se mense as landdros bedank. Hy het ná die anneksasie weer die pos aanvaar.
Die Andries Pretorius Plaashek-monument
Foto: Harties.net
Munisipaliteit
Ná vele vergaderings, baie onder William se voorsitterskap, en jare van struweling en onmin tussen Pretoria se inwoners en die regering, is die eerste munisipale verkiesing op 25 Oktober 1880 gehou.
William en Robert Cottle Green van Hatherley is saam as raadslede vir wyk twee van die munisipaliteit van Pretoria aangewys.
Bykans vyf jaar later is William vroegoggend op 15 Junie 1885 aan longontsteking oorlede. Hy is op
16 Junie begrawe en ‘Die Volkstem’ het sy begrafnisstoet as een van die grootstes wat Pretoria nog gesien het, beskryf. Die vlae in Pretoria is halfmas gehys en die volksraadsitting is gekanselleer.
Op 1 Julie is Louis Devereux ook aan longontsteking oorlede, en in dieselfde graf as William begrawe – 35 jaar nadat dié twee saam in Suid-Afrika aangekom het.
Andries Pretorius
Foto: Wikipedia
|